Terwyl jy so loop wonder jy:- hoe weet
ek of daar 'n God is? Watter tekens is hier rondom my wat kan verklap dat
daar werklik 'n God is? Alles lê ongerep “since whenever”. Hoe weet ek en
jy van Sy bestaan?
Wel, eerstens het jou ouers vir jou so
vertel, en jou so geleer en grootgemaak. Jy was in die Sondagskool, die
skole het dit verkondig, die Staat het Hom erken. Die Bybel praat ook van
Sy bestaan, want dis immers Sy Woord. Boonop praat mense van die
vervulling met die Heilige Gees en hulle getuienis moet tog iets werd
wees. Dus, die boodskap word primêr van mens tot mens oorgedra, en dis hoe
ons weet daar is 'n God.
Maar, daar waar jy in die koppies loop,
soms oor 'n rots klouter, moet koes vir los klippies, soek jy 'n teken.
Hier is niemand om vir my te verduidelik nie, hier lê nie 'n Bybel rond
nie en geen wonderwerk kom vorendag nie.
Kom ons speel bietjie “Sê nou maar”. Sê
nou maar ek loop nog so en hier (waar nie eers 'n voetpaadjies is nie),
sien ek 'n horlosie op die grond lê. Wat sou ek dink? Waar het hy vandaan
gekom? Die logiese antwoord sou wees dat iemand hom hier verloor het. Die
ding kon tog nie sommer net hier gelê en “gebeur” het nie. Dis net
eenvoudig nie moontlik nie. Of sou jy dalk glo hy sou maar net ontstaan
het, vanself, omdat hy miljoene jare gehad het om ”spontaan te ontwikkel”.
So min of meer soos Charles Darwin geglo het oor die totstandkoming van
lewe. Genoeg tyd en enigiets gaan spontaan ontwikkel. Ja, selfs die
horlosie, sy battery, die glasie, die armband met sy gaatjies en al. Sou
jy dit glo? Ek is seker NIEMAND sal dit glo nie. Jy sal tog sekerlik glo
die horlosie is te kompleks, hy vra na 'n maker, 'n skepper. Hy sal
onmoontlik net kon “gebeur”.
Terug na ons uitstappie in die koppies.
Al wat jy sien is klippe. Waar is God? Wie is God? Is hier nie net IETS
wat van Sy bestaan getuig nie?
Klippe, klippe en nogmaals klippe.
Vormloos en oninteressant.
Maar dan kom daar 'n skrifgedeelte in
jou kop op.
Luk 19 : 32 – 40
Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê
het. Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: "Waarom
maak julle die donkie los?" Hulle antwoord: "Die Here het hom nodig”. Toe
bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op
sy rug en help Jesus opklim. Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op
die pad oopgegooi. Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die
Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin
prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. Hulle het gesing: "Loof
die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer
aan God in die hoogste hemel!" 'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir
Jesus: "Meneer, maak stil u volgelinge!" Maar Hy antwoord: "Ek sê vir
julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep."
“Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal
die klippe dit uitroep”. Klippe wat uitroep? Hoe op aarde?
Glo dit of nie, 'n klip roep meer uit
oor God se glorie as die duurste, mees ingewikkelde horlosie. Meer as die
grootste fabriek, 'n ruimtetuig, die hoogste gebou, die vinnigste rekenaar
en die spoggerigste motor.
Dis maklik om dit af te lei. Ken jy
iemand wat 'n horlosie kan maak? Miskien nie persoonlik nie, maar jy kan
enige horlosie fabriek besoek, deur dit stap, sien hoe dit werk. Net so 'n
motorfabriek, NASA waar ruimtetuie gebou word, enige tegnologiese reus.
Dis sommer maklik om 'n horlosie te maak, jy kan dit koop vir 'n paar
rand.
Hier is die miljoen dollar vraag:- Ken
jy iemand wat 'n klip kan maak? Sommer so 'n klein klippie wat jy met 'n
kettie skiet, 'n spoelklippie, 'n rots, 'n boulder. Weet jy waar
Klipfabriek and Company is? Ken jy 'n gekwalifiseerde klipmaker? Miskien
ken jy iemand wat iets met klippe maak, maar wie maak die klippe? Weet jy
van navorsing wat gedoen word op klipvervaardiging? Of dalk 'n BSc
Klip-ingenieurswese?
Nou vra ek jou, daar waar jy in die
koppie rondloop. Glo jy werklik die klip het sommer net ontstaan, of hy is
sommer net nog altyd daar? Daardie een in jou tuin, het God baie, baie
lank gelede gemaak en Hy het dit daar gesit. Dis nou tensy jy dit van 'n
ander plek ingery het. God se handewerk lê vrylik om te sien, in jou eie
tuin. Jy sien, daar in die kliprantjie is niks mensgemaak nie, dis
Godgemaak. Jy kan dit sien, daaraan vat, dit ronddra en dit sommer net
besit ook. Niemand gaan kla as jy dit vat nie, daar is baie waar daardie
vandaan kom.
Dan sê Jesus:- “Ek sê vir julle, as
hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep”. Want net God kan klippe maak,
elke een is deur Hom gemaak, elke, elke ene, klip, diamant, rots,
goud-erts, platinum, koper, alles is deur Hom gemaak. Ek dink mens moet
nogal dom wees om te dink dit het net sommer vanself ontstaan.
En daar, waar jy oor die klippe klouter
en die natuur bewonder, roep die klippe dit uit. Elke enkele klip roep dit
uit. Elke klip besing Sy glorie, of die mens nou saamsing of nie.
Mnr Ateïs, wil jy nie probeer om verby
hierdie tameletjie te kom nie? Ek dink nogal jy gaan sukkel.
Weet jy waar klippe nog God se glorie
besing?
Met opgrawings! Die Bybel is 'n boek met onbeskryflike geskiedkundige
detail, veral in die Ou Testament. Daar word in detail vertel van
plekname, eenvoudige persone, konings, heersers, kontrakte, ooreenkomste,
landswette ens. En al hierdie dinge moet net eenvoudig klop met
opgrawings, anders is die Bybel 'n leuen. Net EEN fout, en die integriteit
van die hele Bybel is in gedrang.
En so, met tyd, begin die klippe die
waarheid uitroep, soos wat ou stede oopgegrou word. Volledige kontrakte,
wat tussen konings gesluit is, word oopgegrou waar dit op mure uitgekerf
is. Kritici probeer verwoed om foute te soek, maar hulle kry dit nie,
Inteendeel! Argeologie bring die mees onbeskryflike detail vorendag. Die
klippe roep uit!
Baie jare gelede het Sir William Ramsey
geleef, 'n baie welgestelde argeoloog en uitgesproke ateïs, wat soos sy pa
(ook 'n argeoloog) nie in God of die Bybel geglo het nie. Hy het besluit
om dit sy lewenstaak te maak om die Bybel verkeerd te bewys en hy het die
boek Handelinge gekies, a.g.v. detail wat hy kon navors met opgrawings.
Doktersgraad agter sy naam, argeoloog, ateïs. Gedurende sy werkslewe het
hy talle boeke en verhandelinge wat handel oor sy werk geskryf, maar die
laaste een het talle mense verstom. Hy het verklaar dat hy 'n Christen
geword het, want hy kon geen enkele fout vind met opgrawings nie. Die
teendeel was waar. Soos Jesus gesê het:- “Die klippe sal dit uitroep””. En
toe roep die klippe uit.
Mark 12 : 10 “Die klip wat deur die
bouers afgekeur is, juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword”.
'n Verwysing na Jesus. Jesus wat met 'n klip, 'n rots vergelyk word, wat
God se eer uitroep.
1 Petrus 2 : 6-8
Daarom staan daar in die Skrif: "Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip,
uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie."
Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die
woorde: "Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die
belangrikste klip in die gebou geword" en: "'n klip waaroor 'n mens
struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp." Hulle struikel omdat hulle nie
aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem.
Jesus , die hoekklip. Jy sal oor Hom
struikel en teen Hom stamp, of jy wil of nie. Iewers gaan Hy op jou
selfsugtige wêreldse paadjie kom en gaan jy teen Hom stamp. “Elke knie sal
buig, en elke tong sal bely...”
Daar is 'n klip voor Sy graf gerol, en
toe die klip weggerol word en die graf is leeg, toe sing daardie klip tot
Sy eer. Hierdie klip het dit ook uitgeroep!
God, die Skepper van die heelal, Skepper
van die mens, Skepper van elke klip. As ek en jy stilraak en luister, sal
ons hoor hoe die klippe uitroep. Is dit nie eintlik 'n skande nie? Dat die
klippe dit moet doen? Want, as ons dit nie doen nie, sal die klippe dit
uitroep!
Matt 3 : 9 Julle moet julle nie
verbeel dat julle by julleself kan se:- Ons het Abraham as voorvader nie.
Dit se ek vir julle:- God kan uit hierdie klippe vir Abraham kinders
verwek”.
As God 'n klip kan maak, kan Hy enigiets
maak, en selfs enigiets uit klip maak.
Tel vir jou 'n klip op uit jou tuin,
skrop hom skoon en sit om op jou lessenaar, en dan wag jy. Die eerste ou
wat inkom sal jou uitvra oor die klip. Dan vra jy vir die persoon:- Waar
dink jy kom hierdie klip vandaan? En of hy iemand ken wat klippe kan maak.
As jy dan nie God se glorie besing nie, sal die klip dit uitroep ...want
hy is nie bang om dit uit te roep nie. Al wat mnr Klip ken is immers sy
Skepper.