DIE LAASTE DAE, MAAR WAT VAN NOU?


Ons leef in die laaste dae, so glo ons, of hoe? Ons lees die tekens in die Bybel, en ons "lees" die tekens in die wêreld om ons… maar ons weet nie wanneer die einde gaan kom nie. Ons maak afleidings op grond van die Woord van die Here, maar ons het geen detail nie. Ek vra vir jou hierdie vraag: "Vrees jy dit? Is jy bang dat die einde moet aanbreek? Is jy beangs?" Iemand stuur 'n rukkie gelede vir my foto's van die sikloon Katrina in die VSA. As jy na hierdie foto's kyk kry jy 'n beangstheid wat skrik vir niks. Donker, massiewe, onheilspellende wolke wat stadig nader kruip. Mens kan sien dat dit gróót skade gaan aanrig.

Matt 24:29-31
29 "Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.
30 Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.
31 Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af."

Maak gereed vir die eindtyd. Die einde kom, die einde kom!! So weerklink dit, ook vandag nog. Weet jy wanneer? Kan jy die som maak en die tyd bereken? Jy sien, dis alles waar, die einde kom verseker, ons weet net nie wanneer nie.

Vandag bestaan daar baie groeperinge en bedieninge wat baie sterk op die "eindtye" konsentreer en dis reg so, want die werklikheid daarvan gaan óf 'n verskrikking wees, óf 'n plesier - dit hang af of jy gered is, of nie.

Vandag se vraag aan ons is egter: "Wat tot dan?". Hoe moet ons lewe tot dan? Hoeveel vrees is nodig, tot dan?

Iemand vra my onlangs: "Wat is ons doel op aarde? Net om seker te maak dat ons gered is? Of is daar meer?". Ek dink nou nog oor daai een … Wat ek egter ook oor wonder is of ons nie dalk te veel klem laat val op die eindtye nie. Hoe lank is die "laaste dae"? Wat beteken "binnekort"? Maak dit saak?

Wel, verseker, want as die wederkoms more plaasvind gaan baie agterbly. Ek dink dis hier waar ons soms so bietjie te veel klem lê op die laaste dae. Daar is baie groeperinge wat baie sterk klem daarom lê om seker te maak dat mense betyds reg besluit. Maar… sê nou maar ons weet presies wanneer die wederkoms gaan wees, wat dan? Sê nou maar ons weet dis 28 Februarie 2019, wat gaan jy doen tot dan? Met baie mense praat oor Jesus? Hulle waarsku oor hulle verlorenheid? Hulle met vrees oorrompel om te glo wat jy glo? Natuurlik moet ongelowiges baie, baie bekommerd wees, maar ons wat glo, wat gaan hierdie laaste dae vir ons beteken?

Sal mense glo as ons hulle vertel? Sal vrees mense tot bekering bring?
Luk 16:27-31
27 Toe sê hy: 'Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe.
28 Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.'
29 Maar Abraham sê: 'Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.'
30 Hy antwoord egter: 'Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.'
31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan."

Hulle het die wet en die profete gehad, en nie daarna geluister nie. Ons moet mense waarsku, maar elkeen moet sy eie besluit maak.

Wanneer kom die einde? Dis iets waaroor mense nogal baie wonder, en sommiges waag om te voorspel… Maar, niemand weet nie, niemand!
Matt 24:36-44
36 "Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.
37 Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.
38 In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.
39 Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.
40 Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
41 Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
42 Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.
43 "Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie.
44 Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie."

Niemand weet nie, daarom moet almal heeltyd gereed wees. En tot dan, is daar baie om voor te leef hier op aarde! Vind uit wat jou doel op aarde is, en doen dit! Help soveel as moontlik mense om die Here te ontmoet, en te lééf tot die wederkoms. Jy sien, ons eindtyd kan enige oomblik aanbreek, op enige manier: 'n ongeluk, siekte of wat ookal. As ek en jy vandag sterf, gebeur op daardie oomblik presies dieselfde as wanneer die wederkoms plaasvind.

Waarmee sal ek, Willem, besig wees in hierdie "laaste dae"? Tot die einde wil ek in die heerlikheid van God lewe. Ek wil in vrede leef, met dié gedagte dat my bestemming alreeds bepaal is. Ek wil dit geniet om te weet dat my keuse blywend en bindend is, Ek wil die Here vertrou vir die tyd wat oorbly, ek wil weet dat Hy my in Sy hand van genade toevou, dat Hy elke oggend vir my kyk, en my as Sy kind geniet .. al is ek onvolmaak in my eie oë, ek is volmaak in Sy oë. Ek wil planne maak vir volgende jaar, ek wil my besigheid laat groei, 'n vakansie aanmekaarsit, my kinders laat studeer. Ek wil die gemeenskap met God en met ander gelowiges geniet. Ek wil sien hoe Hy elke nuwe dag goed op my pad bring en my verwonder oor die planne wat Hy vir my maak. Ek wil met verwondering hoor van kinders wat gebore word, en dat toekomsplanne vir die baba'tjie gemaak word. Jy sien, hierdie lewe is al wat ek en jy tans het en ken. Die Here wil nie hê dat ek en jy hooploos kyk na die eindtyd vir "verlossing" van hierdie wêreld nie. Hierdie een wat ons soms as so aaklig beskryf. Kom ons geniet hierdie lewe asof ons nog laaaank daarin gaan wees, terwyl ons só gereed is asof vandag die laaste dag is.

Leef in die heerlikheid van God, leef in die volheid van Sy genade, woon en werk rustig voort, terwyl jy die werklikheid van God se planne in die oog hou. Geniet elke dag wat jy uit God se hand ontvang, sê soos Paulus: "Vir my is die lewe Christus, en sterwe 'n wins"
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)