DIE LEWE IS SOOS 'N KAARTSPEL


As ons vandag die lewe vergelyk met 'n kaartspel, wil ek jou vra: watse hand het die lewe vir jou gedeel?
· 'n Goeie hand, waarmee jy lekker kan werk?
· 'n Hand wat geleenthede bied vir die toekoms?
· So 'n middelmatige hand?
· 'n Vrot hand waarmee jy niks kan maak nie?

Ons moet vir mekaar sê dat ons mos nie kan kies watter hand vir ons uitgedeel word nie.

In die lewe kry mens verskillende tipe situasies:-
· "Royal Flush" gesinne. Vyf kaarte van dieselfde dek in 'n ry. 10, Jack, Queen. King, Ace, sê maar van harte. Hierdie mense word as't ware met die goue lepel in die mond gebore. Goeie, welgestelde, foutlose ouers, woon in 'n goeie buurt, almal gelukkig, ouers suksesvol, boonop goeie, "groot" Christene, kinders outomaties toppresteerders. Alles loop net goed en reg van die begin af. En die voorspoed vernietig nie die kinders nie. Dit is "Royal Flush" gesinne.
· "Full House" gesinne. Drie kaart van een tipe, en twee van 'n ander. Dalk nie welgesteld nie, maar ouers is gelukkig getroud, woon in 'n middelmatige woonbuurt, pa werk vir die staat, ma in die bank as 'n teller. Kinders soms in die sop by die skool, maar almal gaan goed aan.
· "One pair" gesinne. Twee kaarte van 'n tipe. Ouers se huweliksbootjie skud soms en eindig selfs in egskeiding. Pa verloor dalk sy werk. Die kinders se lewe is soms maar misrabel, maar hulle leef.
· "Low hand" gesinne. Alles is vrot. Pa 'n alkoholis, ma loop weg met die buurman, sussie se baba kom onbepland, boetie beland in dwelms, en uiteindelik in die tronk. Niks loop reg nie.

Watter een van hierdie situasies is vandag op jou van toepassing? Wat is vir jou gedeel?

Kom ek vertel jou my "pa-storie". Almal het mos 'n pa-storie.
· Hy kom uit 'n bitter arm huis met nege kinders.
· Sy pa was baie moeilik, en sy ouers skei eventueel. Sy pa trou weer, en kry nog kinders.
· Sy pa slaan die kinders (my pa) genadeloos.
· Sy pa word innig lief vir die bottel.

Dis die hand wat die lewe vir my pa gedeel het. Wat gebeur verder met hom?
· Hy moet st 6 uit die skool gaan om die huishouding te help versorg.
· Hy begin werk as 'n stoorman by die Spoorweë.
· My ouers trou en besit niks.
· Hulle begin bitterlik arm, met amper alles teen hom. Geen geleerdheid, nie 'n goeie werk, nie 'n toekoms wat blink lyk nie.
· Kry uiteindelik self vier kinders, en my ma werk nie.

'n Redelike goeie resep vir 'n faling in die pokerspel van die lewe, of hoe?

MAAR: Hoe speel my Pa sy hand?
· Neem volle verantwooderlikheid vir sy toekoms.
· My ma gaan werk eers toe ek skooltoe gaan (4de kind), om 'n motor te koop.
· My pa breek die alkohol verlede, maar dit gaan nie goed met sy broers nie.
· Hy werk hom op tot 'n klas een treindrywer, en tree eventueel af op 55, en leef 'n goeie lewe tot 79, toe hy oorlede is. Hy was baie, baie trots op sy prestasies.
· Al vier ons kinders draai okay uit.

Wat is my pa se geheim?
· Maak die beste van 'n slegte saak.
· Lewe deur voorbeeld.
· Gee nie ander die skuld nie, dra sy verantwoordelikheid.
· Besef dat vier twee's, beter kan wees as 'n "fullhouse".
· Hy het sy kaarte (nie goeies nie), die beste gespeel wat hy kon.

Hoe speel jy jou kaarte? Dalk met die gang van die lewe 'n paar slegtes bygekry? Dalk 'n paar goeies geruil vir slegtes? Wat is die beste manier om te speel met wat jy het?

Kom ons kyk na vier dinge:

1. Aanvaar dat alles nie regverdig is nie - dit is maar die produk van die sondeval.
PREDIKER 9:11
Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.

Dit hang van jou af hoe jy die kaarte speel. Dit help nie om ander te beskuldig nie, of die blaam op omstandighede te plaas nie. Net ek en jy kan die verantwoordelikheid vat, niemand anders nie. Dit help nie om 'n ander se kaarte te begeer nie, of te probeer afvat nie. Speel jou eie hand, vernuftig, al is dit net twee's.

2. Dit maak nie saak hoeveel keer jy val nie, dit maak saak hoeveel keer jy opstaan.
Satan probeer jou uittel, elke keer as jy geval het. Hy gaan kla jou aan by die skeidsregter (God die Vader). Maar….. dit werk nie. Die skeidsregter in boks tel 1.2.3.4.5.6.7.8.9.10 UIT!!!
Jesus tel 1.2.3.4.5.6.7.8.9.10……..11.12.13.14.15 Kom, staan op, Ek is by jou.
Al gehoor van 70 x 7? As die Here van jou verwag om jou broer 70 x 7 nog 'n kans te gee, sal Hy nie dieselfde doen nie?
Al gesien as die bouler in krieket appél aanteken? Dan staan die umpire net en skud sy kop. Doen Jesus nie dieselfde nie? Nee, bouler (Satan), jy het verkeerd gesien. Jy praat van my topkolwer, jy sal hom NOOIT uithaal nie.

3. Speel in 'n span.
PREDIKER 4:12
Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

Moet nie die pad alleen stap nie. As jy voel die val kom, gryp!!! En as jy geval het, laat iemand anders jou hand vat en jou ophelp. Oppas vir trots, moenie toelaat dat die "eie-ek" jou val slegter maak nie. Ons almal is sondaars. Rom 3:23 "Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie". Maar… dis nie 'n verskoning nie!!!

4. Stap die pad saam met Jesus.
Rom 8 : 31 "Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?"
· Sy liefde vir jou neem nie af soos wat jou vallery toeneem nie.
· Sy deernis en omgee hang nie af van jou "volmaaktheid" nie.
· Hy gee vir ons die regte "gameplan", om die swak kaarte optimaal te speel. Al kry jy aanhoudend twee's by, genoeg daarvan is meet werd as 'n "fullhouse", as jy dit reg aanwend.
· Rom 5 : 3 - 5
Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding,
en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;
en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Oorwinning is:-
· Om goeie kaarte oor te gee aan jou gesin, hulle verdien dit.
· Om meer op te staan as wat jy val.
· Om tevrede te wees met jou hand
Fil 4 : 7 "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus" Die woord "vrede" kom voor in die woord "tevrede".
· Om net vorentoe te kyk. Maak vandag die eerste dag van die res van jou lewe.
Fil 3 : 13 "
Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is."
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)