As
ek nou vir 'n klomp mense sou vra wat hulle gunsteling hoofstuk in
die Bybel is, glo ek dat BAIE hierdie gedeelte sou kies.
1 Korintiërs 13 " Nou wys ek
julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en
engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal,
'n galmende simbaal geword. 2 Al het ek die gawe van profesie en ken
ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al
die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is
ek niks. 3 Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my
liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie,
baat dit my niks. 4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik;
dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand
nie. 5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6 Dit verbly
hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7 Dit
bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 8 Die liefde
vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe
om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis
sal uitgedien raak. 9 Want ons ken maar gedeeltelik, en ons
profeteer maar gedeeltelik, 10 maar wanneer die volledige kom, sal
wat gedeeltelik is, uitgedien wees. 11 Toe ek 'n kind was, het ek
gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind.
Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind. 12
Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net
gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle
ken. 13 En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die
grootste hiervan is die liefde!"
Die wonderlikste gedeelte oor die liefde. Pragtig. En
nou bly geloof, hoop en liefde. Hierdie drie. En die grootste
hiervan is die liefde. Paulus kom (volgens my) in 1 Kor 13 en hy
oortref homself deur hierdie mooi beskrywing van die liefde te gee.
Ek dink dikwels aan Paulus as hierdie streng, kwaai man. Eers
vervolg hy die Christene genadeloos, spreek hom uit oor die rol van
die vrou in die erediens, praat oor mans se lang hare en beveel
vrouens om hoede te dra. 'n Kwaai ou. En dan kom hy in 1 Kor 13 en
beskryf op 'n ongelooflike sagte en passievolle manier dit wat die
Here vir ons bedoel het. Volmaakte liefde. Liefde vir die Here,
liefde vir mekaar, ja, selfs liefde vir jou vyand. Toe ek klein was
het ek gedink 1 Kor 13 is in die Bybel gesit vir troues. Die liefde,
wat 'n wonderlike konsep.
Toe ek voorberei het, het ek deur die Konkordansie
gesoek vir tekste. Dis nie moontlik om in 'n halfuur eers te raak
aan liefde nie. Seker meer as 400 tekste.
Matt 22 : 34 - 40 " Toe die
Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het
hulle bymekaargekom, 35 en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom
met 'n vraag probeer vastrek. 36 Meneer, vra hy, wat is die grootste
gebod in die wet? 37 Jesus antwoord hom: "Jy moet die Here jou God
liefhê met jou hele hart en met jou hele siel" 38 Dit is die
grootste en die eerste gebod. 39 En die tweede, wat hiermee gelyk
staan, is: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." 40 In hierdie
twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat."
So lees ek, so dink ek, die hart van God oor die
liefde. Hy vat hier die hele wet saam. Dink vir 'n oomblik wat sal
gebeur as almal van ons hierdie een enkele gebod sou nakom. Geen
misdaad, konflik, bakleiery, egskeiding, gebroke verhoudinge. Ons
sou geen regstelsel nodig gehad het nie, geen geslote deure. Dink ek
dis so ironies dat so baie musiek, TV programme, films, gedigte,
stories, boeke oor die liefde geskryf word, maar tog kry ons dit
maar net nie reg nie. Hollywood liefde. Hoekom nie? Die antwoord is
in 1 Kor 13.
Wat is die liefde nie:-
Afgunstig, grootpraterig, verwaand, onwelvoeglik,
soek nie eie belang nie, nie liggeraak nie, hou nie boek van die
kwaad nie, verbly hom nie oor die onreg nie. Kan ons dit saamvat in
een woord? Ware liefde is onvoorwaardelik. 1 Kor 13 sê, dis:-
geduldig, vriendelik, verheug hom oor die waarheid. Bedek alles, glo
alles, hoop alles, verdra alles. Dit sê alles al vergaan, gawes,
geheimenisse, kennis, ja selfs geloof. Die liefde vergaan nooit,
want dis ook al wat in die hemel sal oorbly.
Waar kom die liefde vandag?
1 Joh 4 : 7 - 11 " Geliefdes,
ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat
liefhet, is 'n kind van God en ken God. 8 Wie nie liefhet nie, het
geen kennis van God nie, want God is liefde. 9 Hiérin is God se
liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe
gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10 Werklike liefde is
dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy
aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
11 Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort
ons mekaar ook lief te hê."
Gaan lees hele gedeelte. God is liefde. Hier staan
nie God HET liefde, betoon, openbaar, stort uit, nee. God IS liefde.
Dit is nie 'n kwaliteit van God nie, dit is Sy wese. Vers 16 sê,
"God is liefde, wie in die liefde bly, bly in God en God bly in Hom."
Dit verwag die Here ook van ons. Vers 21, "Hierdie gebod het ons van
Hom gekry: "Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê."
Die Here kom wys Sy liefde so ongelooflik prakties in
Joh 3 : 16. "God het die wêreld só liefgehad, dat Hy Sy enigste Seun
gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar
die ewige lewe sal hê." Die volmaakte uiting van liefde, is om iets
kosbaars prys te gee.
1 Joh 3 : 16 " Hiéraan weet
ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook
ons lewens vir ons broers af te lê."
Ons sê so maklik ons he t lief, maar hoe dikwels is
ons bereid om iets prys te gee? Ja, selfs R5?
Hoe bewys ons liefde?
1 Eerstens deur dit te sê. Sê jy dit nog vir jou
huweliksmaat? Hoekom nie? Hoe kan jy sê jy is lief vir iemand, maar
jy kry dit nie gesê nie? Sê jy dit vir jou kinders? Ja, selfs vir
jou vriende. 2 Liefde is 'n werkwoord. Soms is dit nodig om iets vir
iemand te gaan doen. 3 Liefde lê in fisiese handelinge. Het jy vir
jou vrou of man of kinders 'n drukkie gegee? Soos wat Jesus ons soms
styf vasdruk. 4 Ware liefde is om soms die minste te wees, om toe te
gee, om vir ander ruimte te gee - soms van jou ruimte. 5 Om soms net
'n oor te wees vir iemand met probleme - sonder om raad te gee en te
veroordeel. 6 Iemand te aanvaar soos hy is, maar ook om in liefde te
vermaan.
Liefde behoort heeldag met 'n glimlag rond te loop.
Kom ons bid dat God se volmaakte liefde in en deur
ons gestalte sal vind. Moet jy dalk iets met iemand gaan regmaak?
|