DIE ONEINDIGHEID VAN GOD


Hoe sal ons ooit die grootheid van God kan meet? Waar is Sy begin en waar is Sy einde? Sal ons ooit by 'n punt kan kom dat ons sê "Hier is God se limiete". So ver strek Hy, en dit is die raamwerk waarin ons Hom kan afbaken. Gen 1 sê: "In die begin het God die hemel en aarde gemaak ……" Dit beteken nie dat God toe begin bestaan het nie. En as ons na die toekoms - en die ewigheid kyk, is daar nie 'n tydslimiet wat op die Here van toepassing is nie. God is oneindig. Oneindig wat? Oneindig groot, oneindig magtig, oneindig lief vir jou, oneindig geduldig, oneindig genadig, oneindig barmhartig, oneindig wys, net eenvoudig ……… oneindig.

Wetenskaplikes probeer verwoed bepaal hoe God se skepping lyk. Daar word gemeen dat ons galaksie - die melkweg - 100 biljoen sterre bevat. Dis baie! En dat daar dalk 100 biljoen galaksies in die uitspansel is. Elk met tussen 100 en 300 biljoen sterre. Sjoe, dis oneindig groot! En hoe meer die slim manne met die dik brille delf, hoe meer sukkel hulle om te verstaan. Einstein het gesê: "Hy dink nie God probeer kennis en inligting van ons weghou nie, hy dink God wil hê ons moet verder soek. God se skepping is oneindig groot. En Hy is baie groter as dit!!

· God se oneindigheid. En die mens? Nee wat, ons is, en weet nie veel nie. Ons het gesê God se kennis is oneindig. Maar die mens weet nog maar min. As ons kyk hoe die mens se kennis toeneem, dan is die tempo skrikwekkend. Ons word geweldig vinnig slimmer, maar ons sal maar altyd beperk bly. God se kennis is oneindig. Hy weet alles, van alles. Hy het oneindige kennis oor elke enkele veld denkbaar. Hy is die grootste geneesheer, die slimste wetenskaplike. Kan jy iets maak waarvan jy niks weet nie? God het alles gemaak, dus moet hy alles van alles af weet. Ons weet maar beperk ietsie van wat ons elke dag ervaar en beoefen. God het oneindige kennis.
· God is ook oneindig magtig. Is daar iemand groter as Hy? Hoef Hy na iemand op te kyk? Nee wat, niks en niemand nie. En die mens? Ons sukkel maar. Mag lê in snaakse plekke. Vir party in roem, ander in rykdom, ander in kennis, ander fisies. Die mens is maar beperk!! Elke enkele mens sal maar die knie buig voor 'n ander mens. En ons almal, sal die knie buig voor God. Want Hy is almagtig. Oneindig magtig. Geen weermag, regering, diktator, niks, kan Sy almag uitdaag nie. God is mag, is oneindig.
· God se geduld is oneindig. Anders as ons mense. Ons geduld is maar vas aan 'n dun draadjie. Ons vererg ons vir alles, kan nie meer wag vir iets nie, en is sommer gou-gou kort van draad. En dan is ons sommer ongeduldig met die Here. Hy gee nie vinnig genoeg nie, praat nie vinnig genoeg nie, perform nie goed genoeg nie. En Hy? Hy is oneindig geduldig!! Hy vererg Hom nie vir ons nie, deel nie sommer 'n dwarsklap uit nie. En wag geduldig dat ons op Sy roepstem reageer.

2 Petr 3 : 9 "Die Here stel nie die vervulling van Sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer."

Hy hou aan en aan om te klop. Moenie Hom laat wag nie. Maak oop.
· God is oneindig genadig. Daar is geen limiet daarop nie. En die mens? Hoeveel genade betoon ons? Is daar dalk iemand wat jy moet vergewe? Dalk 'n paar rand afskryf? Dalk 'n regsaak maar laat vaar? Is daar dalk iemand wie jy skop terwyl hy klaar lê? Sê nou dis hoe God se genade gelyk het. Dan was dit klaar met ons. Sy genade kan nie gemeet word nie!! Dit red ons, en hou ons weg van die hel af. Sy genade is oneindig!
· Laastens - God se liefde vir jou en my is oneindig.

Rom 8 : 31 - 39
31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?
32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.
34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
36 Daar staan immers geskrywe: "Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word."
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte
39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

· Hy is so oneindig lief vir jou en my, dat Hy Sy enigste Seun nie gespaar het nie. En ons as mense? Siestog, ons is maar bietjie pateties as dit by liefde kom. Ons veroordeel, verneuk, moor, besteel, verguis, beskinder mekaar. Ons het nie 'n idee wat liefde is nie. Sê nou maar God het ons so liefgehad soos ons mekaar het? Wat sal van ons word? Niks kan ons van die liefde van God skei nie. Hy is daar!! Altyd, Hy is barmhartig, Hy beplan goeie goed vir ons, Hy ontferm Hom oor ons, en ja, spesifiek in moeilike tye. En nog meer, ten spyte van ons sondes en oortredinge, bly Hy oneindig lief vir ons. Hy skinder nie oor ons nie, vertrap ons nie, is nie ongenaakbaar nie! Geen dood, of lewe of engele ……..

Hy het drome vir jou en my, groot planne, Hy wil ons vorm, skaaf en skuur, juis omdat Hy ons oneindig liefhet. Hy het ons te veel lief om ons te los soos ons is. Hy vorm ons soos 'n pottebakker 'n stuk klei vorm. Sodat ons voorwerpe vir besondere gebruik kan wees. Hy wil spog oor ons!! Omdat Hy oneindig lief is vir ons.

God is oneindig. Niks wat Hy is, of doen, kan ingeperk word nie. Maar Hy is naby. Altyd.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)