DIE OPBRENGS VAN CHRISTENSKAP


Wat verwag jy van die Here in ruil vir jou Christenskap? Wat is die opbrengs wat jy wil sien vir die belegging wat jy maak in jou navolging van Christus? Dink so bietjie saam met my hieroor. Christenskap is nie nét altyd maanskyn en rose nie, of hoe? Daar gaan baie goeie Christene dood a.g.v. siekte en ongelukke, baie se besighede raak bankrot, sommige se kinders is rebels, ander beland in die skeihof... Daar moet tog die een of ander opbrengs wees vir Christenskap – anders kan ons sommer net sê: why bother?  

Natuurlik kan ons sê dat ons Christenskap ons in die hemel sal laat kom – wat kan ons meer vra, dis dié belangrikste. Tog kan ons vra: maar wat van hier en nou; het dit enige voordeel om ‘n Christen te wees? 

Daar is baie slegte mens wat oënskynlik ‘n baie goeie en lekker lewe het, terwyl ons wat die nou pad stap soms maar in ‘n stywe drukgang beland. Ongelukkig bring dit mee dat baie mense afvallig raak van hulle geloof, en dan uiteindelik geestelik boedel oorgee.  

Tog is daar in die Bybel baie tekse wat vir ons voorspoed belowe. Ps 121 is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Dis ‘n pragtige Psalm vol wonderlike beloftes. Natuurlik is dit waar, maar dink jy nie ‘n ongelowige kan maklik hierdie Psalm teen jou gebruik wanneer dit swaar gaan, en vir jou vra waar is jou God se beskerming en versorging dan nou? 

Ps 121
’n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. 3Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. 4Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. 5Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. 6Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. 7Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. 8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.
 

Nou vra ek weer: wat is dan die voordeel wat jy persoonlik put uit jou Christenskap? 

Ons leef in tye wat al hoe moeiliker raak, en die uitdagings vir ons Christenskap word by die dag groter. Soos moeilike tye kom, roep ons harder en harder na die Here, en begin ons vra: waar is die Here? Is dit alles die moeite werd? Waar is die lig in die tonnel?  

Ek dink miskien is dit waar dat die gemiddelde Christen die volgende as opbrengs vir sy Christenskap verwag: (toets gerus jousself)

- goeie gesondheid
- finansiële voorspoed
- goeie geluk in verhoudinge, in huwelik en in werk
- vrede en ‘n rustige lewe
- lewensvreugde

Is so ietsie van die bogenoemde dalk waar vir jou? Dan lyk dit vir my ons het alle rede om teleurgesteld te wees... As ons die opbrengs van ons Christenskap aan die bogenoemde meet, sal dit nie ‘n goeie belegging wees nie. 

Dit is boonop nog baie keer moeilik om ‘n Christen te wees. Jy moet die heeltyd jou geloof en standpunte verdedig. Alewig verduidelik hoekom jy vashou aan die Here, en dit terwyl dit dalk elke dag bietjie slegter met jou gaan.  

Matt 7:13-14
13“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Hierdie teks is waar. Die pad na die hemel is nou, en dis moeilik om daar te loop. 

Wat moet jy NIE verwag as opbrengs van jou Christenskap nie?

- baie geld. Ja, daar is welgestelde Christene. Jesus noem egter Mammon, die geldgod, as direkte opposisie vir Hom. Dit is óf Jesus óf Mammon.  Jesus waarsku oor geld en geldgierigheid, oor wat dit aan jou kan doen.
Spreuke 30:7-9
7
Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: 8moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, 9sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.
 

- gesondheid. Natuurlik kan Jesus jou genees van enige siekte. Hy doen dit ook dikwels, daar is duisende getuienisse daaroor. Maar, Hy doen dit nie altyd nie. Paulus praat oor die doring in sy vlees, en hy het God etlike kere gevra om dit weg te neem, maar die Here het nie, Hy het net gesê: My genade is vir jou genoeg.

- vrede en vreugde en goeie verhoudinge. Nee, ook nie altyd nie, want die mense het steeds ‘n sondige natuur, en maak maar droog.

- vry van Christelike vervolging.
1 Pet 4:12-19
12Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly. 15As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. 16Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 17Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? 18“As ’n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar?” 19Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.

- ‘n volmaakte lewe. Ook nie. Ons sukkel maar almal, ons struikel almal die een of ander tyd.

Wat is dan die opbrengs?
2 Kor 4:16-18
16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. 

Ons swaarkry in hierdie lewe is gering, dit gaan verby! Ons doel is nie om “iets” te soek nie, maar om vir God te soek. Aardse verhoudinge maak seer en gaan verby, maar ‘n verhouding met Jesus gee hoop, uitkoms, toekoms, krag om vas te byt. Dan het ek vreugde in die wete dat ek op God kan vertrou, en nie op mense nie. Die son brand, maar God is die skaduwee. Soms is daar pyn, maar die Here verbind die wonde. Soms huil ons in traumatiese tye, dan huil Jesus saam met ons (soos toe sy vriend, Lasarus, gesterf het). As ‘n Christen bly is, is hy bly in Christus, en eer hy die Here. Wat doen ‘n ongelowige? As ‘n Christen bekommerd is neem hy sy toevlug tot Jesus. Waarheen gaan ‘n ongelowige? In donker tye hou ‘n Christen sy oë op God, en vertrou op Hom. Waarnatoe kyk ‘n ongelowige? ‘n Christen prys die Here vir elke ding wat op sy pad kom. Vir wie dank die ongelowige? ‘n Christen stap die pad soos Jesus het, met die Woord as sy riglyn. In wie se spore volg die ongelowige? ‘n Christen kyk terug en sien waar die Here gewerk het, en vind hoop vir die toekoms. Waar sal die ongelowige se hoop vandaan kom? ‘n Christen het ‘n vriend in ‘n mede-gelowige as hy val. Na wie toe steek die ongelowige sy hand uit vir hulp? ‘n Christen verstaan dat sy toekoms in die lewe hierna saam met God is. Waarna sal ‘n ongelowige uitsien?

..... DIT is die opbrengs, en ek soek niks meer as net dit nie!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)