Die
reguit pad is die enigste pad wat reg is. Dit is die pad wat Jesus
vir ons uitgelê het, die pad wat ons beskerm teen die slaggate van
die lewe.
Spreuke 4 : 10 - 27
10 Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; dit sal jou
lewensjare baie maak.
11 Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte
koers laat loop.
12 As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop,
sal jy nie struikel nie.
13 Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly
daarby, want dit is jou lewe.
14 Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte
mense.
15 Los dit, moenie daarop loop nie, draai weg, vermy die slegte
mense;
16 hulle kan nie slaap as hulle nie kwaad gedoen het nie; hulle lê
wakker as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie.
17 Misdaad is hulle kos, geweld hulle drank.
18 Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en
sterker word tot dit heeltemal dag is;
19 die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie
waaroor hulle sal struikel nie.
20 My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde!
21 Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte,
22 want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, 'n volle lewe
vir hom wat dit besit.
23 Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal
jou hele lewe.
24 Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie.
25 Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit.
26 Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.
27 Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde
koers.
Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van
die verkeerde koers.
In Spreuke kry ons alles wat nodig is om vir ons 'n
reguit lewenspad te wys. Dit praat van leuens, misdaad, geweld,
slegte mense, goddeloses, die donker van die lewe, misleiding,
slegte vrouens, geldgierigheid. Daar is letterlik geen faset van die
lewe wat nie aangeraak word nie. Wat Spreuke merkwaardig maak, is
dat al die goed wat ons vandag verkeerd doen, duisende jare gelede
ook gebeur het. En die uitvloeisel van hierdie goed was destyds net
soos dit nou is.
Die verkeerde pad, die krom een, vol kronkels, het
nog nooit vir enige mens voorspoed gebring nie. Ons kan ook nie sê
ons weet nie wat die regte of verkeerde pad is nie, want die Here
het ons met 'n baie besondere manier geskep met 'n ding wat ons ons
gewete noem. Van nature weet elke mens wat reg en wat verkeerd is.
Die Here het ons so gemaak, dis ons sondige natuur wat maak dat ons
die pad byster raak.
Die Woord van God gee vir ons die riglyne wat ons
nodig het om die reguit pad te stap, en ons gewete is die innerlike
stem wat ons aankla. Maar die probleem is dat ons geleidelik wegdryf
van wat reg en wat verkeerd is, want ons het meesters geword daarin
om te rasionaliseer. Dan kry ons maklik verskonings om te regverdig
as ons wegdwaal. Jy sien, my vrou verstaan my nie, of respekteer my
nie, dan is die verkeerde verhouding geregverdig. Of my baas het 'n
bonus belowe en dit nie betaal nie, dan steel ek van my werkgewer.
Dis die maklikste ding op aarde om redes te kry om verkeerd te doen.
En ja, as ons wil lieg, noem ons dit 'n wit leuentjie. Want jy sien,
as ons dit so troetelnaampie gee, vergewe ek myself sommer dadelik,
en verwag die Here moet dit ook doen. Nou hier lê 'n probleem, hoe
meer ek die leuen vertel, hoe meer begin ek dit glo. Iemand vertel
so 'n lang storie wat so bietjie wollerig klink. Toe die persoon
haar rug draai, toe sê iemand anders wat die storie ken, dat elke
weergawe wat die betrokke persoon vertel, 'n ekstra stertjie kry, en
later word die verhaaltjie absoluut lagwekkend. Die persoon glo dit
later self. Dis wat met leuens gebeur. Die ander probleem is dat as
jy so baie keer die waarheid verdraai, moet jy 'n verskriklike goeie
geheue hê om te onthou wat jy laas gelieg het. Nog meer, mense praat
met mekaar, en kort voor lank weet almal dat ons spekskiet. Dan
slaan ons ons naam met 'n plank! Kom ons hou by die waarheid.
Die Here hou van mense wat Hom volg.
Ps 119 : 1 - 16
1 Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel
volgens die woord van die Here.
2 Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met
hulle hele hart sy wil doen,
3 geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel.
4 U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word.
5 As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u
voorskrifte kan hou!
6 As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie.
7 U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U
loof met 'n opregte hart.
8 Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie.
9 Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u
woord!
10 Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk
van u gebooie nie.
11 Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.
12 Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte.
13 Al u bepalings wil ek een vir een opnoem.
14 Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die
rykdom van die wêreld.
15 U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16 Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.
Dit gaan goed met dié wat Sy verordeninge
gehoorsaam.
Jesus het vir ons sondes kom sterf, dis waar, maar
dan verwag die Here van ons om weg te draai van die verkeerde weë af.
Wat egter waar is, is dat hoewel ons vergifnis ontvang, ons steeds
met die gevolge sit van die verkeerde paaie. 'n Meisie in die
gevangenis huil hartstogtelik en sê sy is so spyt oor die misdaad
wat sy gepleeg het, want sy kan nie nou die tyd terugdraai en dit
ongedaan maak nie. En so 'n fout maak ons integriteit heeltemal tot
niet.
Ps 119 : 1 "Dit gaan goed met die wat
onberispelik lewe, die wat wandel volgens die Woord van die Here".
Wat beteken hierdie "dit gaan goed?" Wel, dis eenvoudig. Dit beteken
dat dit nie sleg gaan omdat ons verkeerde dinge doen nie. Dit
beteken dat ek nooit hoef te vrees dat iets my gaan inhaal nie. Of
dat 'n leuen oopgevlek gaan word nie. Ek hoef nooit oor my skouer te
kyk nie. Ek hoef nie bang te wees as my selfoon lui van 'n vreemde
nommer af nie. Ek hoef nie te skrik as die baas skielik in my
kantoor instap nie. Dis nooit nodig om myself te verdedig nie. Dit
gaan sommer net goed! Dis 'n keuse.
Die reguit pad is die enigste pad. Dis die pad waar
geen slaggate of hindernisse nie. Maar dit vra vir self evaluasie.
Dit vra dat ons ons eie lewens weer gaan ondersoek en dit meet aan
die Skrif. Dit beteken dat ons moet ophou om te rasionaliseer en
besluit wat waarheid en reg is. Vat vandag skryfbehoeftes by die
werk, more is dit iets groter. Dan begin ons "leen" uit die kleinkas
en netnou- netnou het dit grootskaalse diefstal of bedrog geword. Is
dit nie lekker om almal in die oë te kan kyk nie, omdat daar niks is
om weg te steek nie? Jy sien, ons kan baie dinge vir die wêreld
wegsteek, maar ons kan niks vir die Here wegsteek nie. Hy sien alles
en weet alles. Ps 139 : 1 - 2 " Here, U sien dwarsdeur my, U ken
my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog
voordat hulle by my opkom."
Vers 4 "Daar is nog nie 'n woord op my tong nie,
of U, Here, weet wat dit gaan wees."
Spr 4 : 23 "Wees veral versigtig met wat in jou
hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe".
Die reguit pad laat mens lekker slaap, dit dwing
respek af, dit wys ons integriteit. Kom ons toets onsself aan die
Woord en loop net agter Jesus aan, dan is daar geen moeilikheid nie.
Ps 119 : 105 "U Woord is
die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad." |