DIE REUSE IN JOU LEWE


Het jy ook reuse in jou lewe? Goed wat op jou pad kom (of tans is), wat net te groot lyk om te oorwin? Ek dink ons almal het van tyd tot tyd hierdie probleem. Soms is hierdie reuse regtig reuse, maar soms is dit dalk ons wat 'n berg van 'n molshoop maak. Soms maak hierdie reuse vanself hulle verskyning. Ongevraagd. Soms bring ons hulle oor onsself. Wat is hierdie reuse? Dalk jou werk verloor? 'n Ongeneeslike siekte? 'n Geliefde verloor. Egskeiding. 'n Moeilike kind. Depressie. Moedeloosheid. Magteloosheid. Eensaamheid. Verwerping. Jitte, partykeer behandel die lewe ons maar stief, verseker soms ongevraagd en onverdiend. Daar is ook 'n ander kant. Soms is jou probleem maar klein in vergelyking met dié van ander mense, maar dit moet steeds opgelos word. Maar dan móét jy dit oplos. In die Bybelse tyd was daar maar altyd reuse op die groot ouens se pad. Adam se reus was die stryd om gehoorsaam te bly. Moses moes die volk uitlei uit Egipte en 40 jaar deur die woestyn swerf. Abraham se reus was geduld om te wag op God se beloftes. Noag s'n was om 'n opdrag uit te voer wat nie sin gemaak het nie, en 'n skip te bou wat ondenkbaar groot was. Jesus se reus was die kruis. (As dit U wil is, laat die beker by my verbygaan). Thomas s'n was ongeloof. Wat is jou reus wat tans voor jou staan? Wat net ondenkbaar groot lyk?

Reuse in ons lewens. Kom ons kyk hoe het Dawid sy reus (letterlik) verslaan.

1 Sam 17 : 37 - 51
37 Verder het Dawid gesê: "Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my red uit die mag van hierdie Filistyn."Toe sê Saul vir Dawid: "Gaan, en mag die Here by jou wees."
38 Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek,
39 en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie.Dawid sê toe vir Saul: "Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie."En Dawid het dit uitgetrek.
40 Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop.
41 Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was.
42 Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms.
43 Die Filistyn het vir Dawid gesê: "Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?"Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek.
44 Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: "Kom 'n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee."
45 Maar Dawid sê vir die Filistyn: "Jy kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.
46 Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het.
47 Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee."
48 Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop.
49 Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond.
50 Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!
51 Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap.Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug.

Dink jou in. 'n Seun van miskien 1,8m staan voor 'n reus van 3m. Hoër as 'n huis se plafon. Nogal 'n fris beer. Kom ons kyk wat was Dawid se plan:-

· V36. Dawid het reeds 'n beer en 'n leeu pak gegee. Goliat was nie sy eerste reus nie. Hy kyk dus terug en weet dat die Here hom in die verlede oorwinning gegee het. So moet ons ook terugkyk as ons voor 'n reus staan en besef, hierdie een lyk dalk na die grootste, maar in die verlede was daar oorwinning. Dawid weet dus dat hy weer op die Here kan vertrou. Ons kan ook.
· Saul trek sy eie uitrusting vir Dawid aan, maar dit werk nie vir hom nie. Net so kan ons nie ander mense se planne probeer gebruik om ons te beskerm nie. Brons helm, harnas, swaard, ens. Nee, wat moet ons gebruik? Die Christen se wapenrusting. Efesiers 6 : 10. Soek julle krag indie Here en in Sy groot mag. Waarheid, vryspraak, geloof, verlossing, die Woord van God. JY sien, hierdie wapenrusting is 'custom made'. Nie Saul se goed waarmee g'n mens kan loop nie.
· Dawid vat sy wapens. Kierie, klippies en 'n slingervel. Sjoe - lyk na 'n spul nuttelose goed om 'n reus mee aan te pak. Kan jy sy geloof sien? Hy het geweet dat die oorwinning primêr van God kom. Die wapen was net 'n tool. Ons probeer soms om ander reuse te bou wat groter is as ons probleem. Nie Dawid nie, hy kom met 'n verrassingstaktiek. Dawid sê jy kom na my met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ek kom in die Naam van die Here, die almagtige. Dis sy wapen.
· Voorts sê Dawid:- "Vandag sal die Here jou in my mag oorgee". Kan ons nie ook oorwinning oor ons reuse proklameer nie? In die Naam van die Here. Is daar nie in jou verlede ook 'n klomp reuse wat platgeloop is nie? Dawid glo onwrikbaar dat Sy oorwinning in God lê. Net so kan ons dit ook doen.
· Dawid hardloop die Filistyn tegemoet! Wow. Mag miskien vreesloos lyk, maar ek glo nie. Dawid het nie die Filistyn daar laat staan en nog groter groei nie. Hy storm. Ons moet ook maar ons reuse bestorm, en die probleem hanteer. Dalk met 'n klomp vrees, maar die bul moet tog seker iewers by die horings gepak word! Dawid se reus het nie vanself weggegaan nie. Dawid moes hom trompop loop. Ons ook. Begin iewers, doen iets, bang of nie. Die Filistyn sou nie net omdraai en wegloop nie. Net so ons probleme (en reuse) ook nie. Dawid kon om sy reus hardloop, maar dan was die probleem nie weg nie.
· En dan gooi Dawid die reus met een klip dood. Hy het nie eers 'n swaard by hom gehad nie. Een klip, maar ek is seker hy het reg gemik. Wat doen Dawid? Hy gebruik “skills” wat hy gehad het om sy reus te oorwin. Sy eie sterk punte, en sy eie vermoëns wat die Here hom gegee het. Net so kan ons ook ons reuse oorwin. Deur dit te gebruik wat die Here in ons ingebou het. Dalk onderhandeling, eerlikheid, geloof, moed. Dawid het op God vertrou, en die Here het hom nie in die steek gelaat nie. Dieselfde God sal my en jou ook nie in die steek laat nie.

Ek het my kinders van kleins af geleer dat geen probleem te groot is om op te los nie. Dis nie altyd maklik nie, maar oorwinning is aangenaam.

Kom ons leer by Dawid:-

· Moenie die reus ignoreer nie, pak hom aan.
· Trek die wapenrusting aan wat God vir jou ontwerp het.
· Pak die bul by die horings. Soms is dit glad nie so groot reus soos jy gedink het nie.
· Ken jou vermoëns, en die innerlike krag wat die Here jou gegee het.
· Weet dat jy roekeloos op die Here kan vertrou.
· Kyk terug na die verlede en sien die lyke van jou vorige reuse raak, en weet dat jy juis daarom op die Here kan vertrou.
· Leer uit die verlede.
· Maak klaar met elke verslane reus. Dawid het Goliat se kop afgekap.
· Moenie reuse gaan skep nie. Verslaan net die wat in die pad kom.
· Oefen jouself in stil tye in, om gereed en fiks te wees as die volgende reus kom.
· Moenie ou reuse uit die sloot gaan grou nie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)