Nog ‘n jaar is
op sy rug. Party mense sal sê:- Uiteindelik!!! Hoe was hierdie jaar vir
jou? Een van die bestes, of een van daardie wat jy nooit weer oor wil hê
nie? Of sommer net nog ‘n jaar? Resessie, misdaad, werksverlies, was
weereens alles aan die orde van die dag.
Ek glo dit was
‘n swaar jaer vir baie mense. Baie besighede het hierdie jaar
ondergegaan, en die selfmoordsyfers is skokkend. En dan, met die Kersgety
op hande, is dit vir baie mense ‘n tyd van depressie. Mense kry swaar,
dis nou maar eenmaal ‘n feit. Dalk het jou ouers ook vir jou vertel hoe
swaar hulle gekry het in hulle jong dae, en dis niks anders vandag nie.
Miskien is jy vandag in daardie bootjie, of dalk iemand naby aan jou.
Miskien soek jy ‘n trooswoord vir iemand.
As ek in die
Bybel lees, kry ek die woord “swaarkry” op baie plekke.
Rom 5 : 1 – 11
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou
vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in
die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou
vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die
heerlikheid van God.
Dit is egter
nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry
kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van
geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons
harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Toe ons
nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir
goddeloses gesterwe. 'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs
nie vir 'n regverdige nie. Ja tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien
nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis
hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan
dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal
word. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met
God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is,
deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons
verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die
versoening ontvang het.
Paulus aan die
woord. ‘n Man wat swaarkry intens geken het. Dan kom hy met hierdie
moeilike woorde:- “Ons verheug ons in ons swaarkry…” Lyk my swaarkry
is deel van die lewe, dit tref kinders van die Here, en bo alles, dit kan
selfs goed wees vir ons!!!
Maar… hoe
hanteer ek dit, vernaam as dit so bitter moeilik is om dit dag vir dag te
verduur? Kan jy nog vasbyt? Maak dit enigsins vir jou sin? Verheug jy jou
daarin?
Ek dink die
geheim lê daarin om die sin in swaarkry te soek. Want, as ons ‘n doel
kan kry, of om ‘n rede te vind om deur te druk, sal ons by die “hoe”
om dit te hanteer, kan uitkom. Al maak dit op die oog af nie sin nie. As
ons swaarkry op een of ander manier betekenis kan kry, sal ons ten minste
kan sien hoekom ons daardeur moet kom. Ek go elkeen van ons kan terugkyk
in ons lewens en swaar dae van die verlede onthou, maar ek dink ook ons
kan almal terugkyk en die doel van swaar tye onthou. Dus, as ek een of
ander rede kan kry, kan ek myself motiveer om vas te byt. Dalk ter wille
van jou kinders (hulle het jou nodig, weet jy?), of miskien om self
sterker te word. Paulus sê mos”- swaarkry kweek volharding.
Kom
ons kyk wat het met Paulus gebeur:-
2 Kor 11 : 23b
– 31
En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het
harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek
was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike
straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en
een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een
maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op
reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare
van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in
die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde
werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en
dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.
Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die
besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self
ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.
As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede. Die
God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die
lof toe tot in ewigheid!
Jy sien, hier is
iets wat ons moet verstaan rondom Paulus. Sy swaarkry het heeltemal niks
tot sy eie voordeel ingehou nie. AL sy swaarkry was as gevolg van sy
Koninkrykswerk, net vir dit waarin hy geglo het. Omdat hy daardie visie
van hom so intens nagejaag het, kon hy dit hanteer. Dus, die “hoekom”
van die swaarkry, het die “hoe” om daardeur te kom, regverdig. Mense
wat destyds in die konsentrasiekampe SO swaargekry het, kon deurdruk omdat
daar altyd ‘n rede was om vas te byt. Soms net omdat hulle gegle het
daar is ‘n geringe kans dat hulle geliefdes wat ook in kampe opgesluit
was, net DALK oorleef het.
Kom ons kyk na
Jesus se swaarkry.
Joh 19 : 17-18
Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit
genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met
Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
Jesus se ergste
ergste swaarkry. Hy hang vir ure aan die kruis, in die wreedste pyn
denkbaar, totdat Hy uiteindelik sterf. Swaarkry op sy heel ergste. Wat was
die doel van Sy swaarkry?
Joh 19 : 28-30
Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die
Skrif vervul kan word, gesê: "Ek is dors." Daar het 'n kan vol
suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n
hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.
Nadat Jesus
die suur wyn gekry het, het Hy gesê: "Dit is volbring!" Toe het
Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
“Dit is
volbring”. DIT was die doel van Sy swaarkry. “Dit is volbring”.
Jesus se laaste drie jaar was nie maklik nie. Belediging, verguising,
bespotting, vals aanklagte, ongeloof in Hom, en uiteindlik Sy kruisdood,
was REGTIG swaarkry.
Maar… daar was
‘n doel in Sy swaarkry, en daarom kon Hy enduit vasbyt. Net soos wat met
Paulus later gebeur het, ook nie tot Sy eie voordeel nie. Omdat Jesus
geweet het “hoekom” Hy moes swaarkry, kon Hy die “hoe” om daardeur
te kom, verduur. Daar was sin in Sy swaarkry, en Hy kon verder kyk as die
pyn en lyding wat Hy moes verduur. Sy swaarkry was ter wille van jou en
my!!! Omdat Hy MOES sterf, sodat ek en jy kan leef.
Om die doel in
swaarky te probeer vind, is soos om deur ‘n bos te probeer kyk, en nie
net in die bos in nie. As jy in die bos inkyk, gaan jy net takke en
hindernisse sien, maar as jy deur die bos kyk, sien jy dalk blou lug aan
die ander kant. AL die dissiples het eventueel vir hulle geloof gesterf,
omdat daar ‘n rede was om deur daardie moeilike tye te kom. Hulle het
gely vir dit waarin hulle geglo het. Kon jy al die sin in jou swaarkry
vind?
Ons verheug
ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en
volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en
dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur
die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
Die verheug deel
is moeilik, en swaarkry sal waarskynlik my en jou pad kruis, want dis deel
van die lewe. Dit moet sekerlik so wees, anders sou die Here mos nie so
baie daaroor gepraat het in Sy Woord nie, of hoe? Die vraag is:- Sien jy
DEUR die bos, of kyk jy net IN die bos in? Kan jy op een of ander manier
sin maak van hierdie swaarkry wat jy beleef? Ek en jy kan nie ver sien in
die toekoms nie, en miskien moet ons sê:- Goddank!!! Maar ons kan ver
sien in die verlede. Kan jy situasies opnoem waar jy in die verlede
swaargekry het, en daar tog sin was daarin? Kan jy sê jou swaarkry het
jou geknak, of dat jou swaarkry van jou ‘n sterker mens gemaak? Ek glo
die tweede stelling is eerder waar, of hoe? Ek glo ook die meeste swaarkry
situasies van die verlede het tog op een of ander
manier ten goede meegewerk in jou lewe.
Nou vra ek jou
vandag:- Dink jy nie ons moet ons tog probeer verheug in ons swaarkry nie?
Want ons sien tog dat dit net dalk IEWERS in die toekoms ‘n goeie doel
kan hê. Dit versterk ons geloof, dit bou ons verhouding met God en ons
medemens, dit maak ons sterker en dit kan selfs ‘n goeie uiteinde hê.
DIT op sigself is sekerlik alreeds ‘n goeie motivering om vas te byt.
Gaan soek sin in jou swaarkry, bly gemotiveerd, en byt vas, want dit mag
dalk goeie vrugte oplewer. Miskien ter wille van jou kinders, of ouers, of
vriende, of jouself. Dalk ter wille van die Here, sodat Hy jou kan
gebruik. Gaan soek net die doel, en die sin daarvan.
|