Matt 7 : 13 - 14
13 "Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is
wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.
14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen
smal, en dié wat dit kry, is min."
Matt 7 : 21 -23
21 "Nie elkeen wat vir My sê: 'Here, Here,' sal in die koninkryk van
die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat
in die hemel is.
22 Baie sal daardie dag vir My sê: 'Here, Here, het ons dan nie in u
Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam
baie wonders gedoen nie?'
23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.
Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."
Twee poorte, twee paaie, twee uitkomste, twee
koninkryke. Net twee, wat beïnvloed word deur een van twee keuses.
Baie duidelik, so duidelik en eenvoudig dat selfs 'n kind dit kan
verstaan. Weet jy, dis so belangrik vir die Here, dat by verre die
meeste van die gelykenisse daaroor handel.
Matt 6 : 19 - 21
19 "Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes
dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.
20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit
nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.
21 Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees."
Dink gou saam met my. Sal jy vir ewig wil leef? Dis
nou 'n aardse lewe. Sal jy wil leef in 'n wêreld waar niemand sterf
nie? Jou familie raak groter en groter, bronne raak meer en meer
uitgeput. Werk vir ewig en ewig terwyl jy ouer en ouer word. Jou
brein raak versadig van kennis, die lewe raak vrek vervelig.
Naderhand is daar geen uitdagings oor nie. Been there, done that.
Nee wat, ek glo nie. Ek wil vir ewig leef, maar nie hier op aarde
nie.
Die smal weg en die breë weg. Matt 7 : 13 sê: "Gaan deur die nou
poort in." Sien jy die keuse wat hierdie woorde inhou? Lyk vir my
dat net ek en jy die keuse maak. Daar staan nie eers iets soos "vra
die Here om jou deur die nou poort te laat ingaan" nie. Gaan deur
die nou poort in. En dan: "Die pad wat na die verderf lei, is wyd en
die pad daarheen breed, en die wat daardeur ingaan, is baie." Is dit
nie verskriklik nie? Het jy al gedink - jy sit op Loftus Versveld,
of in 'n volgepakte fliek, of jy loop tussen massas mense in 'n
besige straat, en jy kyk so oor die skare. En jy besef, oor minder
as 80 jaar, sal by verre die meeste van hierdie mense in die hel
wees. Want die Bybel sê so. Want alle paaie lei nie na Rome nie!
Kyk hoe lyk die wêreld om ons. Stem jy saam dat die
breë pad tog te lekker stap? Baie mense is daarop. Wat moet jy doen
om aanvanklik op die breë pad te land? Die antwoord is eenvoudig:
NIKS. Sommer soort van daar gebore. In sonde ontvang en gebore. Om
op die nou pad te stap, is 'n keuse wat elkeen van ons individueel
moet maak.
"Die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad
daarheen smal, en die wat dit kry, is min!" Sjoe, erg nè?
Gaan by die nou poort in. Hoe? Deur Jesus Christus!
"Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader
toe behalwe deur My nie." Probleem wat die meeste van ons miskyk, is
dit:- Om op die nou pad te kom, is 'n keuse, en kan in 'n oogwink
gebeur. Die kruks van die hele ding is egter om op die nou pad te
bly, en die hele tyd daarop te wandel. En dis die moeilike deel.
Maklik om te sê "Ek is gered", maar as my lewenswandel op die breë
pad is, lieg ek vir myself. Klink die volgende bekend? "Nie elkeen
wat vir My sê, Here, Here, sal in die Koninkryk van die hemel ingaan
nie. Baie sal daardie dag sê Here, Here, het ons nie in U Naam
gepreek nie, deur U Naam duiwels uitgedryf, en deur U Naam baie
wonders gedoen nie?"
Sjoe! Klink dan so reg. Soos mense op die nou pad!
Wonderwerke, gepreek! En dan sê Jesus "Gaan weg van My af, julle wat
die wet van God oortree." En vers 21b sê "Maar net hy wat die wil
doen van my Vader wat in die hemel is." Jip, net hulle is op die nou
pad.
Gaan deur die nou poort in, nadat jy op die nou pad
gewandel het. Verlossing is nie cheap nie, en dis nie die rondgooi
van 'n paar oulike woorde nie. Twee tekste wat ernstig waarsku:
Onderhou die wet van God, en tweedens, doen die wil van die Vader.
Ons is verlos deur die bloed van Jesus, maar ons kan verseker nie
net doen wat ons wil nie. Paulus sê "Moenie God se genade misbruik
om sonde te doen nie."
Vraag is dan: "Is dit sleg op die nou pad? En is dit
moeilik? Is dit hel nou, sodat ons eendag die hemel kan kry as
beloning”? Nee. Rom 3 : 23 sê, "Almal het gesondig en ontbreek aan
die heerlikheid van God". Stem jy saam dis wat gebeur as ons volhard
in sonde? Het jy ook al gevoel hoe lekker dit is om in oorwinning
oor sondes te leef? Nee wat, nie sleg nie. Moet 'n paar breë weg
vriende maar agtergelaat word? Dalk ja, maar hoe lekker as jy hulle
ook kan lok na die smal weg toe. Is dit nie vir jou ook hemels om
jou tussen 'n klomp smal weg mense te bevind nie? Geen gevloek, of
gedrink, of besig met onwettige goete, of owerspel, of wat ook al
nie. Nee wat, die smal pad is goed, daar's nie plek vir "rubbish" in jou lewe nie.