DIE STEM VAN DIE HEILIGE GEES


Hoe onderskei ek die stem van die Heilige Gees van ander invloede, of van my eie denke? Die vraag wat ek eintlik wil vra is: kan ek en jy vandag die Here se stem hoor? Hierdie is eintlik 'n baie omstrede onderwerp wat ek dink ons baie versigtig moet benader. Ons hoor elke dag dinge by mense, ons hoor van drome, en profesieë word baie maklik oor mense uitgespreek. Hierdie dinge lei maklik tot verwarring, omdat ons in 'n tyd is waar mense soms werklik 'n behoefte het om God se stem, en Sy wil vir hulle lewe te hoor. Maar hoe onderskei ek tussen God se stem of satan se stem, of my eie wil? Ek wil dit toets met 'n paar vrae:

· Glo jy dat die Heilige Gees met jou kan praat?
· Hoekom wil jy God se stem hoor?
· Wil jy alles hoor wat God vir jou wil sê, of net dit wat jy wíl hoor?
· Wil jy dalk weet wat in die toekoms vir jou voorlê?
· "Hoor" jy kontrasterende dinge?

Dan wil ek begin deur iets te sê oor die gevaar van soek na "God se stem". Jeremia waarsku teen die vals profete.

Jer 23 : 16 - 17 " So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie. 17 Hulle hou aan om vir dié wat My minag, te sê: Die Here sê daar sal vrede vir julle wees. Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle: Daar sal nie 'n ramp oor julle kom nie."

Jer 23 : 30 - 33 " Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom. 31 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: Die Here sê so. 32 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op 'n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here. 33 Jeremia, wanneer die volk of 'n profeet of 'n priester vir jou vra: Wat is die uitspraak van die Here? moet jy vir hulle vra: Wat is die uitspraak? Die Here sê: Ek steur My nie meer aan julle nie."

Oppas wat jy hoor wat mense vir jou sê. Wees versigtig wat jy vir wie vra. Wees baie versigtig vir waarsêery! Oppas vir mense wat "sien", en dan jou toekoms voorspel, in die naam van profesie. Mense vertel graag vir mense wat hulle wil hoor, en dan doen hulle dit in die naam van die Here.

Hoe weet ek of ek die stem van die Heilige Gees hoor? Eerstens het ons gesê, wees versigtig vir mense se uitsprake. Kan ons egter vandag God se stem hoor? Ons moenie vergelyk met hoe God met Moses gepraat het nie. Moses moes eers vas en 'n klomp rituele uitvoer, hom afsonder en dán het God met hom gepraat. En dan ook nie oor dinge wat sy eie selfsugtige begeertes bevredig het nie. Maar dan lees ons tog, "Die Here het met Moses soos met 'n vriend gepraat". En nou, ek en jy, kan ons God se stem hoor? Ja, verseker, elke dag, as ons die Heilige Gees het.

1 Kor 2 : 9 - 16 " Maar soos daar geskrywe staan: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. 10 Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. 11 Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. 12 Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. 13 Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het. 14 Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. 15 Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. 16 Daar staan geskrywe: Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?"

Die grootste voorwaarde om God se stem duidelik te hoor, is Geesvervulling. In die Engelse vertaling sê 1 Kor 2 : 16 "We have the mind of Christ". Pragtig nè? As ons só een is met God, sál ons mos sy stem kan hoor!

Ek dink ons probleem is dat ons God se stem wil hoor, wanneer dit ons pas, dan net dit wat ons graag wil hoor, en dan gewoonlik oor wat ons kan verwag wat voorlê. En dit is waarsêery, wat 'n gruwel in God se oë is. Ek en jy hoef nie te weet wat voorlê nie, nee, ons moet net op die Here vertrou. Nou hoekom wil ons dan God se stem hoor? Om te weet wat Sy wil vir ons lewens is. Het jy dalk al vir die Here gevra "Here, moet ek hierdie of daardie motor koop, of, moet ek nou hierdie of daardie pos vat? Of iets radikaal soos, "Here, is hierdie verkeerde verhouding nie tog van U af nie? Ek het mos nie gevra vir hierdie verbode liefde nie". Ons eie, sondige, selfsugtige begeertes! Wat van eerder: "Here, wat is U plan vir my lewe? Wil U my stuur, moet ek dalk iets vir iemand gaan doen of gee? Stuur vir my iemand om U boodskap aan te verkondig." Moeilike dinge.

Hoe hoor ek God se stem?

1. Maak seker dat jou motief reg is; hoekom wil jy Sy stem hoor?
2. Gaan in diep afhanklikheid na die Here toe.
3. Wees bereid om dit wat Hy sê, te gaan doen.
4. Vra vir die Here om jou te vervul met die Heilige Gees.
5. Kom onder die leiding van die Heilige Gees.
6. Maak jouself skoon voor die Here, wees ’n suiwer kanaal
7. Wees baie ernstig met God.
8. Moenie dinge vir Hom vra wat jy weet verkeerd is, en sonde is nie.
9. Moenie die Here probeer manipuleer of afdreig nie.
10. Vra vir Hom vir 'n antwoord, moenie jy vir Hom die antwoord gee nie.

Nou die belangrikste gedeelte, hoe toets ons of iets van die Here af kom?

· Die Heilige Gees praat met 'n sagte, innerlike stem, gentle, nie oorhaastig nie.
· Die Heilige Gees oortuig van sonde, satan beskuldig.
· Die Heilige Gees praat altyd in ooreenstemming met die Woord (die Bybel).
· Die Heilige Gees lei, satan domineer.
· Die Heilige Gees soek ons samewerking, satan forseer.
· Die Heilige Gees wys ons waarde voor God, satan kraak af.
· Die Heilige Gees motiveer, satan manipuleer.
· Die Heilige Gees inspireer, die satan intimideer.
· Die Heilige Gees praat altyd met 'n positiewe stem en 'n positiewe gesindheid, die satan wek negatiwiteit in ons op.

Ons moet baie versigtig wees wat ons hoor. Die oomblik wat ons vir die Here iets vra, is die satan by, en hy kom as die engel van die lig. Daarom moet ons kan onderskei.

Nog merkers wast ons kan help onderskei:
Die Here se stem sal altyd liefde vs haat, gehoorsaamheid vs ongehoorsaamheid, heiligheid vs onheiligheid, waarheid vs leuen, hoop vs wanhoop, nederigheid vs hoogmoed, vrede vs vyandskap wees.

Ons kan die stem van God hoor en wel op die volgende maniere:

· 'n Stil stem in jou binneste
· Ander gelowiges
· Deur die Bybel te lees
· Gebed.
· Eksterne boodskappe
· Drome
· Visioene

Die belangrikste van alles is, gaan toets dit voor jy reageer. Kry vir jou 'n Geestelike mentor, soek Skrif daaroor in die Bybel. As jy onseker is, vra vir die Here vir bevestiging. 'n Bietjie praktiese raad: As jy skrif kry, lees die héle gedeelte 'n paar keer deur. Skryf kern woorde neer wat by jou opkom, en ontleed dit. Skryf jou gedagtes neer in ek-taal, wat sê die Here vir jóú uit die gedeelte. Gaan meet of dit wat jy gehoor het, tot eer van die Here is. En gaan doen wat Hy vir jou sê. Dinge wat die Here sê, sal altyd gepaard gaan met die vrug van die Gees. Gal 5 : 22 - Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Dié 9 gee eintlik 'n maklike toets!

Naskrif: Mense reageer so graag op profesieë, wat vals profete kan wees, trou met die verkeerde persoon, koop die verkeerde besigheid. Nee wat, vra vir die Here om deur Sy Gees te praat. We have the mind of Christ.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)