Daar kom 'n tyd wanneer dit net jy
en God is. 'n Tyd wanneer niks van hierdie wêreld meer saak maak nie.
Niks van die swaarkry nie, ook niks van die lekker dinge nie. Daar sal
geen waarde wees in enige van jou besittings nie. Dit sal nie saak maak
hoeveel jy bymekaar gemaak het nie, ook nie hoeveel aansien jy gehad het
nie. Daardie tyd is die tyd wanneer alles wat eens op 'n tyd só belangrik
was, nou absoluut geen waarde het nie. Al die gejaag na wind, het in
hierdie tyd tot heeltemal niks gelei nie. Wanneer daardie dag kom, is dit
nét jy en God. Wat verby is, is dan verby. Vir ewig.
Net jy en God … daardie
ontmoeting is óf een van vreugde, of een van hel (letterlik). Die mens
loop iewers sy laaste pad. Ook maar goed so, wie wil dan vir nog duisend
jaar in hierdie lewe vasgevang wees? As ons saak met God reg is, word
hierdie lewe verruil vir 'n baie beter een. Dan … is dit net jy en God.
Wat in jou lewe gebeur het tot dan, word nou geskiedenis.
Nou kan ons vra: wat dan van die
tyd van geboorte af tot die tyd kom dat dit net jy en God is? Of sommer
net: wat van nou tot dan? Hoe sal ons die tyd wat oorbly spandeer? Ai, is
ons nie eintlik dwaas nie? Is dit nie soos die Prediker sê nie? Alles kom
tot niks.
Pred 12:1-8
Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare
aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie".
Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan
en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën.
Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne
waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd
wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk,
Wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die
meul dof word, die tyd wanneer 'n mens opstaan as die voëls begin sing al
hoor hy geen geluid meer nie.
Dit is die tyd wanneer hy bang is vir 'n hoogte en vir alles op die pad
skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan
homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd
wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat
rondgaan,
Die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word, en die goue kruik breek,
die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend
val,
Die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer wat dit gegee het.
Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.
Sjoe, dit alles klink maar bietjie
mistroostig, of hoe? Maar dit is nie waar nie. Ons probleem is net dat ons
lewe asof alles net oor goeters gaan. En natuurlik probeer ons al hoe
harder om nog langer en langer te leef. So asof daar dan sóveel is om aan
vas te hou in hierdie lewe. Ja, ons moet werk, en ons moet bates bymekaar
maak, en ons moet poog om onsself te verbeter. Ongelukkig kom sommige van
ons by 'n tyd waar dit AL is wat saakmaak. En dan besef ons nie dat daar
'n tyd gaan kom dat dit net ons en God is nie. Vir dié wat tot dan wag om
met God iets te doen te hê, sal dit nag wees.
Prediker gee self ook die antwoord:
Pred 12:1 "Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voor die swaar dae
kom…."
As dit net jy en God is, wat sal Hy
sê? "Wie is jy? Ek ken jou nie?" Of dalk: "My kind, welkom
by die huis; Ek het gewag vir jou". Dan is dit lekker as dit net jy
en God is.
Ek vra weer: waarmee is jy besig
tot dan? In Pred 2 sê hy "ek het kennis vergader, ek het plesier
nagejaag, besigheid gedoen, huise gebou, opgegaar, ryk geword" …
toe kom alles tot niks. Hoe kan ons dit anders doen?
1) Ek en jy kan plesier in die lewe
hê sonder om geld in oorvloed te hê, en sonder dat ons iets doen wat
teen God se wil is. Vriendskappe kos nie geld nie. 'n Goeie reis hoef nie
oorsee te wees nie, dit kan 'n dag êrens in die natuur wees.
2) Werk hoef nie altyd inspanning te wees nie; ook nie noodwendig konflik
in te hou nie. Miskien moet ons weer iets lekker in ons werk gaan ontdek -
dalk probeer om elke dag iets nuut te leer. Miskien moet ons net weer
bietjie ons seëninge tel by die werk. Doen jou werk asof jy dit vir die
Here doen.
3) Weet jy wat maak dalk die tyd wat oorbly geweldig sinvol? As ons ietsie
vir iemand anders doen. Jesus sê selfs 'n glas water sal al tel. Dalk 'n
oproep, 'n vinnige kuiertjie, bietjie hulp aanbied .. 'n klein takie wat
ons vir iemand anders kan doen om die lewe vir hulle makliker te maak.
Dalk kan jy ook so bietjie van jou geld weggee vir dié wat minder het as
jy.
4) Dan… seker die beste van die bestes, is om 'n Geestelike pad met
iemand te stap. Onthou jy die liedjie: "moet ek gaan met leë hande,
moet ek so my Heer ontmoet? Nie één siel gelei na Jesus, niks te offer
aan Sy voet". Wanneer dit net jy en God is, wil jy tog seker nie met
leë hande staan nie, of hoe?
Stadig maar seker kom daardie dag
vir ons elkeen, die dag wanneer dit net jy en God sal wees. Hoe lyk die
pad van nou tot dan? Ek glo dit moet 'n lekker pad wees, of dit 60 of 2
jaar is. Pred 12:13: "Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is
dit: Dien God en gehoorsaam Sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra
word". Pragtig, nê? As ons DIT najaag, gaan ons lewe nie afdraande
tot by die punt waar die silwer draad afgebreek word nie. Daar is mense
wat al baie oud is, wat 'n positiewe verskil maak aan ander mense. Weet
jy, dat jy in 'n rolstoel kan sit en vir iemand in die gevangenis 'n brief
kan skryf? Een uur 'n maand wat jy aan iemand anders spandeer, en dit gaan
vir jou vreugde verskaf. R10 van jou geld koop 'n brood vir 'n hele gesin
vir 'n dag. Al hierdie goed pas in Jesus se definisie van diensbaarheid
aan God. Hy sê: "wat jy aan die geringstes gedoen het, het jy aan My
gedoen". En as jy dit self nie breed het nie, onthou jy het gawes wat
jy kan gebruik: praat, bemoedig, bid, luister… Dan, as dit net jy en God
is wat oor is, gaan Hy vir jou sê: "mooi so, goeie en getroue
dienskneg". Jy kan nie 'n kar of 'n huis of 'n besigheid op daardie
dag voor Hom neersit nie, net ander mense …
Kom ons maak 'n sommetjie - bereken
vandag wat jy nog kan doen met die silwer draad wat oor is.
Dink aan God in jou jong dae,
sodat, as Hy ál is wat oor is, dit al is wat jy wil hê.
|