DIE VERSTANDIGES EN ONVERSTANDIGES


As ek vir jou sê "olie", waaraan dink jy? Daar is baie tipes olie wat daagliks deel van ons lewe uitmaak: motorolie, badolie, sonbrandolie, kookolie, ens. Nogal 'n belangrike vloeistof met belangrike funksies. Een wat nogal baie belangrik is, is motorolie. En daarom moet ons gereeld die olie vlak in die motor toets, anders kry ons baie skade. Jesus gebruik olie in 'n baie belangrike gelykenis:-

Matt 25 : 1 - 13 " Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. 2 Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. 3 Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, 4 terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. 5 Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. 6 In die middel van die nag was daar 'n geroep: "Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!" 7 Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. 8 Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: "Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood." 9 Maar die verstandiges antwoord: "Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie." 10 Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit. 11 Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: "Meneer, Meneer, maak vir ons oop!" 12 Maar die bruidegom antwoord: "Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!" 13 Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie."

Tien meisies - vyf verstandig en vyf onverstandig. Vyf wat gesorg het dat hulle genoeg olie gehad het en vyf wat roekeloos daarmee omgegaan het. Die vyf verstandiges het hulle olie vlak dopgehou en het selfs ekstra saamgeneem en vyf wat nie die gevaar besef het van 'n tekort aan olie nie. Soos die goedige gespot tussen die 4x4 manne. As die motor olie lek, beteken dit ten minste dat daar nog olie in is.

Twee groepe meisies, wat twee groepe mense in die samelewing verteenwoordig. Een groep met genoeg voorraad en een groep wat roekeloos deur die lewe gaan, en net glo dat voorraad nie nodig is nie. Vyf meisies wat gereed wag, en vyf wat onvoorbereid is.

Die gelykenis van die tien meisies is absoluut tekenend van die tye van vandag. Wat was die betekenis van hierdie gelykenis? Eenvoudig:- 'n Verwagting dat Jesus weer gaan verskyn. Kom ons staan stil by die vyf onverstandiges. Dit verteenwoordig mense wat roekeloos in hulle verhouding met God is. Mense wat lewe asof daar nie 'n wederkoms, of 'n hiernamaals is nie. Wat interessant is, is dat hierdie vyf onverstandige meisies ook vir die bruidegom gaan wag het. Dit is dus nie mense wat God totaal wegstoot nie. Hierdie meisies het ook gewag, saam met die verstandiges. Hulle is nie die wat per definisie heeltemal verlore is nie. Hulle was daar waar die bruidegom sou verskyn. Maar toe loop dinge skeef. Vers 5 sê "Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal (al tien) aan die slaap geraak". Toe kom die bruidegom. In die middel van die nag  kom die bruidegom, toe almal slaap. Onverwags. Sonder waarskuwing. En toe kom die GROOT verrassing! Dit was toe al die tyd nie net 'n storie nie. En toe is dit te laat. Al die gespartel om olie te kry maak toe dat hulle die hele einddoel van hulle bestaan mis.

Matt 7 : 21 - 23 " Nie elkeen wat vir My sê: "Here, Here," sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22 Baie sal daardie dag vir My sê: "Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?" 23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

Klink nogal bekend, of hoe?

Dan was daar die verstandige meisies. Hulle was ernstig oor hulle verwagting van die bruidegom. Hulle het gewag, maar met die regte voorraad. Want hulle het geweet Hy kom. Hulle het 'n verwagting gehad, want hulle het geglo Hy gaan kom. En hoewel hulle aan die slaap geraak het, was hulle heeltemal voorbereid op Sy koms. Hoekom het hulle nie hulle olie gedeel nie? Want olie in ons geloofslewe is 'n verhouding tussen ons en God. Hulle olie was die paspoort tot die bruilofsmaal. En kon nie gedeel word nie.

So is mense wat vandag met 'n verwagting uitsien na die bruilofsmaal. Onthou jy hoe 'n troue was toe jy klein was? Die opgewondenheid, rondhardloop met jou pak klere of pienk frilletjiesrok tussen die mense wat dans. O, en die kos, lekker! Mense wat uitsien na Jesus se wederkoms, is mense wat besef dat dit 'n GROOT gebeurtenis is. Iets wat hulle net nie wil mis nie! So belangrik, dat die olie in kanne saamgedra word. Elke dag orals. Wel wetende dat dit nog lank kan vat, of more kan wees. Mense wat nie staat maak op ander se olie nie, maar slaggereed is vir die onvoorsiene. Mense wat nie moedeloos gewag is nie.

2 Petr 3 : 3 - 11 " Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot 4 en sê: En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af. 5 Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het. 6 En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het. 7 Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. 8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9 Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. 10 Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met 'n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. 11 Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe."

'n Paar punte rondom hierdie gelykenis:-

1. Verstandiges - Die wat skoon, toegewyd en in afhanklikheid van God leef.
2. 'n Klomp mense in die kerk is dwaas, en gee nie om nie.
3. Die bruidegom is Jesus Christus, en Hy kom weer, verseker.
4. Die verstandiges is die kinders van die lig.
5. Die onverstandiges se lampe het net vir die skyn gebrand, om te be-indruk, maar hulle was vals.
6. Ons harte is die oliehouers. Die olie is genade, 'n verhouding met God, intimiteit met God, 'n diepe kennis. Om waaragtig vir Jesus aan te neem as Saligmaker.
7. Mense raak moedeloos gewag, en raak aan die slaap. Gebrek aan geloof!
8. Net een geroep! "Die Bruidegom kom". Toe is dit te laat! Kan ek en jy sê ons het nie geweet nie? Nee! Want ons het die Bybel. Hang net af of ons dit glo.
9. Mense glo daar is dalk nog tyd op nommer 99. Maar daar is nie! Hoekom Russian roulette speel?
10. Mense glo dat ander hulle saligheid kan bewerkstellig, maar dit werk nie so nie.
11. Om olie te koop, en jou kannetjie vol te hou, neem tyd. Tyd saam met God, en medegelowiges.
12. Jy het net een kans om in die hemel te kom. NET EEN!!
13. Jesus het die weg gebaan. Reeds, dis gedoen, volbring, Tetelestai. Maar ek en jy moet die olie vol hou.

Om af te sluit: Daar is 'n hemel, of jy dit glo of nie. Daar is 'n hel, of jy dit glo of nie. Daar is 'n God, of jy dit glo of nie. Daar is 'n Satan, of jy dit glo of nie. Daar is 'n weg tot Saligheid, of jy dit glo of nie. Daar is 'n weg tot die verderf, of jy dit glo of nie. Daar is een metode, of jy dit glo of nie. En daardie metode is Jesus, of jy dit glo of nie.

Wees gereed, hou die oliekan vol. Leer ander om hulle kanne vol te hou. Sien met 'n verwagting uit, want die beloning is HEMELS!!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)