Die mens is in hierdie ontsaglike
heelal, deel van ’n klein planeetjie en sovêr ons weet , blyk dit
dat ons paar mensies (so 7 biljoen), heeltemal alleen in die heelal
woon. In ’n heelal so onbeskryflik groot, is ons nóú hier.
Die Bybel begin met die woorde:
“In die begin het God die hemel en die aarde geskep...”. Blykbaar
het Hy dit gedoen deur net te praat. Dit is absoluut vreemd! Al wat
ons dikwels met ons woorde regkry is om verhoudinge te vertroebel.
Adam maak sy oë oop en bevind hom as ’n volwassene in hierdie
vreemde wêreld en “sien” hierdie vreemde wese wat Hom geskep het en
hy wonder waarskynlik: “wat maak ek hier?” Toe kry hy op die koop
toe nog ’n vreemde wese as lewensmaat (ons kan daarmee assosieer,
want ons as mans bly maar sukkel om die skoner geslag te verstaan....
of soek ek dalk nou na moeilikheid?). Daar loop toe ook allerhande
vreemde diere rond en hulle is anders, want hulle praat nie terug
nie; Adam het hierdie vreemde besef dat hy oor die diere heers. Die
mens is van die vreemdste skepsels op aarde: by diere vind daar net
veranderinge binne spesies plaas, maar die mense het die vermoë om
homself voortdurend te “verbeter”, sy kennis neem toe, hy ontwikkel
homself en hy ontwikkel allerlei instrumente en masjiene om sy lewe
te vergemaklik. Dan het die mens ook nog die vermoë om in ’n
verhouding te kom met sy Skepper. As mens mooi daaroor dink, is dit
’n baie, baie vreemde gedagte! Hoe meer sy kennis toeneem van sy
wêreld, hoe meer besef die mens dat jy al hoe minder en minder van
hierdie vreemde wêreld van God verstaan. Toe die slim mense
allerhande somme van die heelal maak, kom hulle agter dat ons net
van 4% van die massa van die heelal kan rekenskap gee. 96% is weg en
ons soek dit in wat genoem word “dark matter”. Sjoe, dis vreemd,
man!
’n Verdere vreemdheid wat die mens
besef is dat dit moontlik is om sy verhouding met sy Skepper te
vertroebel en dat hy kan kies om weg te breek van God af. Wat nog
meer vreemd is, is dat sy Skepper aanhou hunker en verlang na hom en
hom wil terugtrek na Hom toe. Op die vreemdste manier begin die
Skepper toe om ’n liefdesbrief vir Sy skepsels te skryf. Hy neem
1600 jaar daarmee en praat op ’n vreemde manier met meer as 40 mense
om presies dieselfde boodskap neer te skryf. Die boodskap is
eenvoudig en kan opgesom word as: “Kom terug na My toe”. Hierdie is
voorwaar ’n vreemde Boek. Sommige lees dit en níks gebeur nie; ander
lees dit en die vreemdste goed gebeur in hulle harte; hulle verander
só dramaties dat jy nie kan glo dit is dieselfde mense nie.
Wat ook nog vreemd is, is dat hoe
vêrder die mens van God af wegdryf, hoe meer begin hy self hunker om
terug te keer. Hy wíl met sy Skepper versoen, maar die vreemde
konsep van sonde (wat vreemd genoeg net by die mens voorkom!) dryf
hom net weer vêrder weg. Hoe meer God en die mens sukkel om hande te
vat, hoe moeiliker raak dit om vêr genoeg te strek om weer verenig
te word. Ek dink God en die mens het besef dat iets vreeslik vreemd
moet gebeur om hierdie “handshake” moontlik te maak!
Wat tóé gebeur, kan g’n mens
verstaan nie. ’n Baba word uit ’n maagd gebore. En as dit nie vir
hierdie bonatuurlike Boek was nie, sou ons nooit geweet het wat dáár
gebeur het nie. “Niks is vir God onmoontlik nie”, sê Lukas
1:37. Jy sien, die vreemde ding wat moes gebeur om God se
uitgestrekte hand by die mens se uitgestrekte hand te kry, was die
geboorte van die mens Jesus, wat self ook God is, wat die Middelaar
tussen God en mens geword het. Hoe vreemd dit ook al mag klink,
niemand anders op aarde as God se Seun self sou hierdie taak kon
doen nie.
Nog iets wat vir my soms só
vreemd is dat ek vasdraai in my eie gedagtes soos wat ek dit probeer
uitredeneer, is wat in Joh. 1:14 en 1:2-3 staan:
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy
heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van
die Vader het, vol genade en waarheid.
Hy was reeds in die begin by
God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat
bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
Glo dit of nie, Hy het ook daardie
96% “dark energy”, wat skoonveld is, geskep.
Vreemd genoeg moes Hy toe
gekruisig word sodat ons gered kan word. Hy moes sterf sodat ons kan
leef.
Daar gebeur toe nog iets vreemds, waarvan ons in Hand 2:1-4 lees:
Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een
plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n
geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle
gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en
op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul
en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan
hulle gegee het om onder sy leiding te doen.
Die Heilige Gees word uitgestort en tot vandag gebeur hierdie
vreemde ding met ons as die Heilige Gees van ons besit neem.
Al hierdie dinge is vêr bokant die
begrip van die mens en vervul my net met verwondering. Ek moet
vandag erken dat die vreemdheid van al hierdie dinge my soms
onbeskryflik dom laat voel en vir my laat voel dat ek eintlik
liewers niks van die Here moet probeer vertel nie. Daarom vat ek dit
maar met ’n knippie sout as ek mense teëkom wat beweer dat hulle God
volkome verstaan, Sy werk verstaan, Sy denke verstaan, Sy planne kan
uiteensit, Sy wederkoms in detail kan voorspel en praat asof hulle
hierdie vreemde wêreld van God heeltemal onder die knie het. Dit
terwyl die slimste mense op aarde nie kan verduidelik waar 96% van
die heelal is nie!
Op 5:1-5
In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek 'n boekrol
gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en
wat met sewe seëls goed verseël was. Toe het ek 'n sterk engel
gesien wat met 'n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek
oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” Maar niemand in die
hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek
oop te maak en daarin te kyk nie. Ek het baie gehuil omdat daar
niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin
te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie.
Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het
die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”
Ek kan nie eers probeer om dít te verstaan nie; hiervoor het jy
nog iets vreemd nodig, iets wat jy nie kan sien of verduidelik nie
en dit is geloof.
Heb 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons
hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.