DIE VROU BY DIE PUT


Die Here verander nooit. Hy is gister, vandag en môre dieselfde, daarom glo ek Hy is elke dag nog besig om nuwe mense op te soek, konstant besig om aan harte te klop, om mense te red, en so sy kudde uit te brei. Hy soek daagliks verlore skape - dié wat weggedwaal het, of dié wat nog nooit deel van die kudde was nie. Hy soek en roep mense uit elke volk, taal, stam en nasie.

Joh 4:1-9 Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. - Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. - Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. Hy moes deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: "Gee My 'n bietjie water om te drink." Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: "Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?" Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

Wat ons hier sien, is Jesus wat besig is om te evangeliseer. Hy gebruik 'n alledaagse gebeurtenis om iemand tot redding te bring.

Dit is nogal 'n interessante toneel wat hier afspeel. Jesus, 'n Joodse man, begin 'n gesprek met 'n alleenloper vrou, maar méér nog, 'n Samaritaanse vrou en .. "die Jode en Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie". Dit klink nogal bekend: die rykes gaan immers nie met die armes om nie, die mense van die Ooste nie met die van die Weste nie, Afrikaanse mense nie met Engelse mense nie, Blankes nie met Swartes nie, die prokureurs nie met die stoormanne nie, ens. Nee, nie Jesus nie, Hy SOEK 'n aanknopingspunt: "Gee My 'n bietjie water om te drink". Jesus soek dikwels 'n aanknopingspunt met ons om ons aandag te kry. Soms is dit nie op 'n manier wat ons verstaan nie, soms is dit deur seer- of swaarkry. Hy soek ons aandag sodat Hy vir ons van Sy lewende water kan aanbied.

Joh 4:10-15 Jesus het haar geantwoord: "As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: 'Gee My 'n bietjie water om te drink,' sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het." Jesus het haar geantwoord: "As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: 'Gee My 'n bietjie water om te drink,' sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het." Die vrou sê toe vir Hom: "Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?" Maar Jesus antwoord haar: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee." Die vrou het vir Hom gesê: "Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie."

Dit is vir my interessant dat Jesus eers die waarheid aan haar verduidelik voordat Hy Homself openbaar.

Ons as mense is voortdurend soekend … ons soek op verskillende maniere, op verskillende plekke, en ons raak so verward tussen alles wat ons hoor en sien, dat ons sukkel om God se stem uit te ken tussen al die geraas. Of dalk het ons dieselfde probleem as die Samaritaanse vrou, nl. dat ons God nie KEN nie … "As jy geweet het wie dit vir jou sê .."

Ek lees tans die gewraakte boek "The God Delusion" van die aards ateïs, Richard Dawkins, en besef dat hierdie man in sy verlorenheid alles doen om God weg te wens en weg te redeneer. Hy skryf boeke, maak TV-reekse, maar weier om te vra vir die lewende water. Hierdie man is só dors, en probeer om die hele wêreld saam met hom van die dors te laat omkom, maar hy weier die lewende water. In die proses maak hy soveel geraas dat mense sukkel om God se stem te hoor. Jesus se belofte en uitnodiging, ja, ook vir die ateïs: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie." (vers 13 & 14)

Joh 4:16-24 Hy sê toe vir haar: "Gaan roep jou man en kom terug hierheen." Die vrou het Hom geantwoord: "Ek het nie 'n man nie." En Jesus sê vir haar: "Dis reg wat jy nou gesê het: 'Ek het nie 'n man nie. Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat." Die vrou het vir Hom gesê: "Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem." Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid."

Dit lyk asof Jesus die Samaritaanse vrou toets met "Gaan roep jou man". Sy erken sy het nie 'n man nie. Sy het reeds vyf gehad en die een wat sy nou het, is nie haar man nie. Sy het 'n man in haar lewe, maar dis nie HAAR man nie. Sy is seker besig om op een of ander sondige manier met hierdie man om te gaan. Jesus sê dan vir haar dat sy die waarheid gepraat het, en dat die tyd gekom het dat God in gees en in waarheid aanbid moet word. Dalk het God vandag vir ons ook hierdie vraag: "Aanbid jy My in waarheid?" Jesus wou dalk hê dat die vrou eers die verkeerde dinge in haar lewe raaksien en erken … ek glo dit is beslis wat Jesus vir my en vir jou wil hê, sodat ons Hom in Gees en in waarheid kan aanbid. Kom ons ondersoek ons harte en ruim ons lewens op en kom om versadig te word deur die lewende water.

Jesus sê: "Dit is Ek, Ek wat met jou praat". Wat bied die wêreld vandag vir ons aan? Materialisme? Twyfel? Wanhoop? Verkeerde genot? 'n Tydelike, leë, nuttelose lewe sonder enige kwaliteit? 'n Rotresies, gejaag na wind? Jesus bied iets anders: water, lewende water. Water wat ons Geestelike dors TOTAAL les. Water wat ewige lewe gee … meer as wat enige wêreldse stelsel of persoon kan aanbied. Wat is die voorwaarde? … dat ons Hom in Gees en waarheid sal aanbid.

Joh 4:25 "Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak." Hierdie vrou het 'n verwagting gehad en sy het die profete van die tyd geglo, al was sy 'n Samaritaan. EN sy het Jesus geglo toe Hy sê: "Dit is Ek, Ek wat met jou praat" … glo JY Hom?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)