DIEN DIE HERE


Om die Here te dien. Wat beteken dit vir jou om te sê: "Ek dien die Here". Is dit nie so dat ons as Christene so maklik sê "Ek dien die Here" nie? Dink vir 'n oomblik na: Sê nou iemand vra jou om te verduidelik wat jy bedoel as jy sê jy dien die Here. Hoe sou jy dit prakties uitdruk?

Jos 24 : 14 - 15
14 Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here.
15 Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.

Jos 24 : 23 - 28
23 Toe sê Josua: Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy julle heeltemal aan die Here die God van Israel.
24 En die volk sê vir Josua: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.
25 Josua het daardie dag vir die volk 'n verbond gesluit en vir hulle daar in Sigem voorskrifte en bepalings vasgelê.
26 Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, 'n groot klip gevat en dit daar onder 'n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit.
27 Hy het vir die hele volk gesê: Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.
28 Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.

"Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien". Is dit nie 'n pragtige verklaring van Josua nie? Ek en my familie, ons sal die Here dien. Het jy dit al iewers besluit? Heel moontlik, maar het jy dit al aan jou gesin (en ander mense) verklaar? Jy sien, in hierdie gedeelte is dit duidelik dat alles gaan oor 'n keuse. Om te kan sê, tussen al hierdie vals gode, afgode, ander dinge en begeertes, gaan my keuse die Here wees. Om die Here te dien met my hele hart, my hele siel en met my hele verstand. So moet ek en jy kies, is dit die ander dinge, of is dit God? Wat is die ander dinge wat vandag op ons pad kom, wat ons eerder - en meer - dien as die Here? Om 'n paar te noem:

· Rykdom, Mammon - onthou daar staan, ons kan nie God en Mammon dien nie.
· Status
· Werk
· Sport
· Verkeerde verhoudinge
· Die daaglikse gejaag in die rotresies

Dien jy die Here? Regtig? Hoe dien ons die Here? Eerstens het ek gesê "Ons moet kies wie ons gaan dien". Tweedens wil ek vra "Hoe doen ons dit?" Kom ek vra vir jou om jou lewe in 'n "pie-chart" in te deel. Deel dan nou die sirkel op in segmente en sê vir jouself hoe groot die stukke moet verdeel tussen 1. Werk. 2. Gesin. 3. Sport. 4. Stokperdjies 5. Finansies. 6. Christenskap. Hoe groot deel sou Christenskap uitmaak? Dink eerlik vir jouself: 50%, 10%, 5%, 100%? Net jy sal weet. Wel, om die Here waarlik te dien, beteken dat daar geen segment daaraan gekoppel kan word nie. Want jou verhouding met die Here moet die hele sirkel beïnvloed. Ons dien mos die Here in ons huwelik, gesin, werk, finansies, sport, alles!! Of hoe? As ek die Here waarlik dien, word alles beïnvloed. My tyd, my geld, my alles.

Mark 12 : 28 - 34
28 Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: Wat is die heel grootste gebod?
29 Jesus antwoord hom: Die eerste is: "Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.
30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag."
31 Die tweede is: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
32 Pragtig, Meneer! sê die skrifgeleerde vir Hom. Dit is waar wat u gesê het: "Die Here is die enigste God,"
33 En "om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag"
34 Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie. Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.

Om die Here jou God lief te hê, en jou naaste soos jouself. Dan sê die Here, dis belangriker as diere-offers en brandoffers. Om die Here te dien, beteken om 'n invloed op die wêreld om ons te hê. Hoekom is die wêreld om ons so gebroke as daar so baie Christene is wat die Here dien? Is dit nie dalk so dat ons maar net onsself dien, en dan sit ons so 'n Christelike suikerlagie om nie?

Ek het vroeër die vraag gevra "Verduidelik prakties wat dit sou beteken om die Here te dien". Ek het gaan kers opsteek by ander, en hier is wat hulle gesê het:-

· Ek dien Hom met emosie. As dit goed gaan is dit met blydskap. As dit swaar gaan met smeking. As dinge soos trauma op my pad kom, met verwarring. Maar ek dien Hom!!
· Met my lewe, my gesindheid, goeie dade, oorgegee, Gees beheerd, altyd konstant. Dus, selfs wanneer niemand anders kyk nie.
· In gehoorsaamheid, ek sterf elke oggend in myself en gee die beheer aan Hom, ek kanselleer dit wat onnodig en onbelangrik is uit my lewe uit.
· Deur vir ander te vertel wat Hy vir my uit Sy liefde gedoen het en dat Hy hulle ook baie lief het. Walk the talk.
· Deur God se opdragte uit te voer. Deur ander lief te hê net soos hulle is.
· Deur gehoorsaam te wees en te dien, vergeet wat jy wil en luister. Glo in die werking van die Heilige Gees en in wonderwerke. God gebruik selfs dom mense soos ek.
· Hoe ek God dien en aanbid, is my reaksie op Sy liefde en genade.
· The heart of worship - surrender - obedience and trust. Surrender not out of fear, or duty, but in love.

Is dit nie 'n klomp pragtige stellings nie?

Rom 12 : 1 "En nou, doen ek 'n beroep op julle broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en Heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die Godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe."

Hoe sal ons kinders in die toekoms die Here dien? Soos hulle by ons sien? Hoe leer ons hulle dit?

Deut 6 : 4 - 9
4 Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.
5 Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
6 Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.
7 Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
8 Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees.
9 Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

Skerp dit by jou kinders in, in jou huis, as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Maar weet jy, dan kan ons nie 'n deeltjie van die "pre chart" aan godsdienstigheid afstaan nie. Jy sien, ons staan maar gewoonlik net so 'n stukkie Sondagtyd aan die Here af. Soms Sondag Christene. En dis hoekom dit al is wat vir ons belangrik is. Na watter kerk toe ons gaan, hoe ons moet aantrek, net sing in goeie ou Afrikaans (trêêêkerig), sedig, lang gesig. Dan mis ons ons kinders. Hulle dien die Here met ander musiek, in ander kleredrag. En as ons dit nie kan hanteer nie, gaan ons ons kinders vir die evangelie verloor. Het jy al gesien hoe 3000 jongmense in 'n kerk lyk, op 'n Sondagaand? Waar hulle die Here op hulle manier kan dien?

Hoekom kan ons mekaar nie maar die ruimte gee om die Here te dien op die manier wat ons pas nie? Hoe sal iemand in die amasone oerwoud nou op ons gereformeerde (of wat ookal) manier, die Here leer ken. God is nie volksvreemd vir enigiemand nie. Hy is vêr verhewe bo ons menslike vieterjasies.

Joh 4 : 23 - 24
2
3 Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.
24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)