God is liefde. 1 Joh 4:8. God het elke mens lief, onvoorwaardelik.
Maar … daar is dinge wat mense dóén, wat God haat, waaraan Hy 'n
afsku het, en waaroor Hy baie uitgesproke is. En onthou, God haat
nie die mens wat dit doen nie, Hy haat dit wat die mens doen. Jy sal
ook sien dat al hierdie dinge goed is wat juis Sy kinders seermaak.
Hierdie punte kom alles uit Spreuke uit, en daar is sekerlik baie
meer as net hierdie paar goed waarna ons nou gaan kyk.
Spreuke 3:31 Moenie 'n man wat sy mag misbruik,
beny nie en moenie self soos hy maak nie, want die Here het 'n
afkeer van 'n slegte mens.
Is dit nie waar nie? Die vinnigste wat jy 'n mens se ware
karakter leer ken, is wanneer jy hom in 'n magsposisie sit
Spreuke 30:21-22, 23(b) Daar is drie, nee, vier
dinge wat die lewe ondraaglik maak, wat onuitstaanbaar is: 'n slaaf
nadat hy koning geword het, … 'n slavin nadat sy haar eienares se
plek ingeneem het.
Dis ongelooflik wat die mens vir mag sal doen, en hoeveel skade
'n mens kan aanrig wat mag mal is. Kyk maar net oor die grens na ons
bure. Daar was waarskynlik geen diktator wat nie onbeskryflik wreed
was nie. Maar … lei ons nie maar almal in 'n mate hieraan nie? Hoe
tree ons op teenoor ons werknemers en ondergeskiktes? Hoe is jou
verhouding met die huis - en tuinhulp? Kry magsbeheptheid ook soms
in jou lewe die oorhand? Mag is 'n lelike ding as dit in die
verkeerde hande is. Sit 'n rewolwer of 'n mes in die hand van 'n
16-jarige en kyk na die verwoestende gevolge. Die Here haat mense
wat hulle mag misbruik.
Spr 6:16-19 Die Here haat ses dinge, nee, daar is
sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong
wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte
besig is, voete wat net een koers ken, dié van kwaad, 'n getuie wat
lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.
Sjoe, hierdie is 'n mondvol. Hoogmoed, leuens, moord,
samesweerdery, kwaadstokery. Kyk, 'n hoogmoedige persoon, is 'n
ander mens … neus in die lug, neerhalend, hou van spog, sien neer op
ander. Walglik, of hoe? Kom ons toets onsself gou-gou: hoe praat ons
van mense wat in minder gegoede woonbuurte bly? Wees eerlik met
jouself. Hoe maklik maak ons nie ander mense seer met sinnelose,
hoogmoedige opmerkings nie.
Lieg … wel, mens kry mos mense, as hulle sê "goeie
more", dan moet jy gaan kyk of dit more is; sulke mense is altyd
onder suspisie. Jok, leuens, praat deur jou nek, lieg deur jou tande
… vreeslik, of hoe? En wat van 'n noodleuen, of 'n wit leuentjie?
Wel, hoe vaar ek en jy met eerlikheid? Hulle sê as jy 'n leuen
genoeg vertel, glo jy dit self.
Spreuke 12:22 Die Here het 'n afsku van leuenaars, Hy hou van
betroubare mense.
Leuens is sleg en God haat dit.
Vers 18 sê: "gedagtes wat met komplotte besig is …"
God haat dit. Mense wat heeltyd onderlangs konkel. Ja, soos wanneer
mev X by die werk so beskinder word dat sy naderhand bedank.
Ondergrawery, subtiele aanvalle, ens. Dinge wat God pertinent haat,
volgens die Bybel.
Spreuke 15:8 Die Here het 'n afsku van die offers
van goddeloses.
Wat sou so 'n offer behels? Hoekom sal die goddelose dan nou iets
wil offer? Ek dink dit is wanneer ongelowiges dinge vir die skyn
doen, alhoewel hulle harte ver van die Here af is. Hulle gee bv geld
of doen die een of ander goeie daad om hulle gewete te sus, of om
raakgesien te word. Dis amper soos wanneer mense sê hulle speel
lotto sodat 'n deel van die wengeld vir die Here of vir die kerk of
vir die armes kan gee. My wêreld, so asof God die geld nodig het wat
gewetenloos by armes afgerokkel word met leë beloftes.
Spreuke 15:9 Die Here het 'n afsku van die
lewenswyse van goddeloses, maar Hy het dié lief wat volgens Sy wil
lewe.
Wie is hierdie goddeloses waarna so baie verwys word? Ek dink nie
dis noodwendig ongelowiges nie, ek dink dit is mense wat 'n
roekelose bestaan voer sonder vrees vir God, wat alles aanvang wat
sleg is - dis hierdie leefwyse wat vir God 'n afsku is. Maar … vir
hulle wat volgens Sy wil lewe, vir hulle het Hy lief.
Spreuke 16:5 Die Here het 'n afsku van 'n
verwaande mens; dit staan vas: so 'n persoon sal nie ongestraf bly
nie.
Is die Bybel nie wonderlik nie? Dit verduidelik alles so mooi. 'n
Verwaande mens is afskuwelik. Maar wie is ek om te praat?
Verwaandheid kom so maklik, en subtiel. As 'n mens dink jy kán, soos
niemand anders kan nie; as jy voel jy is onmisbaar, of jou geld kan
alles koop, of jou mooi huis en duur motor verleen darem so 'n
bietjie status. Grootpraat, groot bek, te veel praat ….
Spreuke 17:5 Wie met 'n arm mens spot, beledig sy
Maker; wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander, sal self nie
vrykom nie.
Wie 'n arm mens spot … wie neersien op mense wat minder het. Weet jy,
dis juis dikwels hulle wat die sout van die aarde is. Mense wat NIKS
voorgee nie, wat plat op die aarde is. Mense wat meer weet van
tevredenheid as wat baie bo-dorpers ooit sal kan hê. As jy soek na
opregtheid van hart, sal jy baie daarvan kry by die "minderbevoorregtes".
Dit lyk my dat hierdie dinge wat God haat, is goed
waarmee ons maar almal sukkel. Kom ons leer hieruit, en lééf 'n lewe
wat God behaag.
|