DRIE KRUISE OP GOLGOTA


Drie kruise op Golgota.  Kopbeenplek. Plek van verskrikking, soos die galg, of die elektriese stoel. Jy stap op soontoe, maar word afgedra. Lewendig op, dood af.  Plek van skande en hoon. ‘n Plek waar mense se geliefdes wreed doodgemaak word, waar ma’s se seuns hulle laaste asem uitblaas. As jy dáár opstap (met jou kruis), is alle hoop verby, en àl jou kanse verlore. In enige land regoor die wêreld, waar die doodstraf nog uitgevoer word, word dit so menslik as moontlik toegepas.

Maar nie op Golgota nie. Daar kon geen staatspresident jou red op nommer 99 nie. Die drie kruise.  Drie veroordeeldes.  Klaar deur die regstelsel skuldig bevind.  Of nie!!  Was Jesus skuldig bevind?  Nee, Pontius Pilatus het Hom nie skuldig bevind nie!  Inteendeel!!  Maar, hy het vir Jesus oorgelewer aan die mense.  Die volk het Hom skuldig bevind.  Juis die mense wat Hom goed leer ken het, daar waar Hy talle wonderwerke gedoen het.  Dalk was daar van daardie mense by wat gesond gemaak is!

Drie kruise.

Lukas 23:32-33; 39-43:

Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.     

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!" Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie." Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom."  Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."    

‘n Verlosser, ‘n geredde en ‘n verlorene!  Op watter kruis sou jy pas?

Drie kruise, twee skuldiges aan die oortreding van die landswette.  Rowers.  Die Een in die middel skuldig aan iets anders.  Skuldig om dat Hy gesê het Hy is die Koning.  Skuldig daaraan dat Hy die tempel in drie dae sou afbreek en opbou.  Skuldig omdat die mense nie kon verstaan dat Hy gesê het Hy en die Vader is  een nie!  Jesus was dus 100% skuldig, as gevolg van wat Hy gesê het.  Maar dit was nooit teen die landswette nie.  Die eintlike groot ding waaraan Jesus skuldig was, was :-

·        sonde,

·        moord,

·        roof,

·        verkragting

·        owerspel

·        leuens

·        bedrog

Maar nie Sy eie nie.  Myne en joune!  Skuldig aan die sondes van die ouens wat weerskante van Hom gehang het.  Jy sien, volgens die regstelsel, kon nie Pilatus of Herodes iets fout vind nie.

Joh. 18 : 37-40

"Dan is jy tog wel 'n koning?" vra Pilatus. "Dit is soos u sê: Ek is 'n koning," antwoord Jesus. "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê." "Wat is waarheid?" sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: "Ek vind geen skuld in hom nie. Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?"

Hulle skreeu toe terug: "Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!" En Barabbas was 'n rower.

Maar, wat nie die regstelsel, óf die Joodse Raad, of die hoogste gesag kon regkry nie, het die mense reggekry.

As die mense maar geweet het hoeveel hulle Jesus se kruisdood nodig gehad het.  Punt is, Jesus sou ook vir hulle sterf, maar hulle het dit nie besef nie.  Want hulle het nie geweet wie Hy was nie.

Drie kruise, ‘n Redder, ‘n geredde en ‘n verlorene.

Die Redder

Ek en jy kan nie op daardie kruis wees nie, want ons het redding nodig. Ons kan nie ons eie redder wees nie. Ons kan ook nie ander red nie, want ons is nie God nie. Ons het nie die vermoëns nie, nie die gesag nie, nie die status by die Vader nie, nie die taak nie. Daardie kruis was gereserveer vir die Een wat van die begin af deel van God die Vader se raadsplanne was. Jesus, self God, wat alles vir Hom en deur Hom geskep het, was uitgeknip vir daardie taak. Toe iemand lank tevore daardie boom afgekap het en daardie kruis gemaak het, was Sy naam reeds daarop geskryf. Geen mens kon dit doen nie, net God kon dit doen. Ek en jy kan nie die plek op daardie kruis okkupeer nie. Dit was Jesus se kruis. Dit was die kruis van die Redder.

Die verlorene

Die verlorene het nie besef hoe naby hy aan redding was nie.  Nie die paar meter tussen sy kruis en Jesus se kruis nie.  Dit was iets anders.  Tog snaaks dat selfs hy na Jesus uitroep om hom te red.  Probleem was, hy wou gered word van sy kruisdood.  Want Hy het geglo dat lewe beperk is tot die hier en nou.  As hy tog maar net van die kruis kon afkom met sy lewe sou hy okay wees.  Soos wat ons so dikwels uitroep na Jesus in nood as ons ‘n siekte onder lede het.  So uitroep, van Jesus, “as U die Koning is, genees my  tog net asseblief!!”  Natuurlik kan ons bid vir genesing, maar nie net vir fisiese, liggaamlike genesing nie.  Die ongeredde het nie  verstaan dat sy probleem groter is as die hier en nou nie.  Hy wou (spottenderwys) op Jesus staat maak, nie net Sy Koningskap nie, nee. Hy sê, “as U dan die Christus is!!”  Jy sien, die redding wat hy wou hê, het nie sy oortredinge in ag geneem nie.  Ook nie bekering nie.  Daar was hoegenaamd geen teken van berou nie.  Hy het nie besef dat hy van sy sonde gered moes word nie.

Dat Jesus se begeerte nie was om hom van die kruis af te kry nie, maar hom wou saamvat waar Hy op pad heen was.  Só naby aan gered wees, net een uitroep vêr.  Net een.  Geen katkisasie nie, geen Bybelkennis, geen hoë geestelike posisies nie.  Niks.  Net een uitroep ver.

Die geredde

Dan was daar die ander rower.  Steeds skuldig aan die wet.  Steeds in die oë van die wet ‘n krimineel.  Maar hy het iets anders besef.  Hy het geweet dat lewe nie beperk was tot asemhaal hier op aarde nie.  Sy desperaatheid het nie staat gemaak op  Jesus se aards vermoëns nie.  Jesus was nie vir hom ‘n spaarwiel nie, ook nie ‘n kwikfix vir sy probleem nie.  Hy het besef daar is nog ‘n kans, solank as wat hy nog so ‘n bietjie lewensasem in hom oorgehad het.  Hy was sterwend en hy het dit geweet.  Maar hy het geweet dat hierdie Man in die middel die ware Redder is.  Hy het geglo in Jesus se onskuld, maar ook in Sy reddende krag.  Hy het geglo dat Jesus die vermoë gehad het om iets baie groter as aardse herstel te doen.  Dat daar baie meer moes wees as om van die kruis af te klim.  Slegs een uitroep.  Tien woorde.  “Jesus, dink aan my wanneer U in U Koningryk kom”.  Net dit.  Geen katkisasie, hogere kerk posisies, nie eers gou gedoop word nie.  Net een uitroep.  Dalk was dit ‘n laaste fluistering.  Dalk ‘n laaste kragtige uitroep.  Dalk ‘n versugting!!

Maak nie saak nie.

Genoeg vir oorwinning!  Genoeg vir ‘n ewige lewe.  Sy liggaam bly op die kruis, sy siel is in die paradys vir ewig!!  Hy het net berou getoon, en dit vir Jesus gegee.

WOW!  Amazing!  So maklik!  Die arme verlorene aan die ander kruis.  As hy maar net dáárdie bietjie insig gehad het.

Die geredde is steeds in die hemel, die ongeredde een is steeds in die verderf.

Aan watter kruis hang jy?

Daar is nog tyd!  Weet jy dit?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)