Drie pote van die Huwelikspotjie - 3 Januarie 2010


Ek hoor onlangs ‘n preek oor die vyf balle wat ons daagliks in ons lewe in die lug probeer hou. Soos wanneer ‘n “juggler” die balle tussen die hande gooi en sorg dat nie een val nie. Hierdie vyf balle is :-

·        Werk

·        Gesin / Huwelik

·        Vriende

·        Geloof

·        Gesondheid

Almal van ons probeer al vyf die balle in die lug hou. Die werkbal is ‘n rubberbal, want hoe hard hy ook al op die grond val, hy kom maar net weer terug na jou toe. So asof hy hom opdring aan jou, en al vier die ander die knie voor hom moet buig. Die ander vier is glasballe, soos die tipe wat aan ‘n kersboom gehang word. As hy val breek hy. En met baie hantering kraak hy. In Engels kan die woord “vulnerable” nogal daaraan gekoppel word. 

Die bal wat die swaarste kry onder hierdie aanslag van die werk bal, is die huwelik. Stasitiek is skrikwekkend, en die grootste slagoffers is die kinders. 

LW: HIERDIE STUKKIE IS GEENSINS VEROORDELEND TEENOOR GESKEIDES NIE 

In the statistics for 2006, marriages lasted for less than 15 years in 67,8 percent of all divorce1 cases. Statistiek van Stassa

Skokkend!

Hoekom gebeur dit? Waarom begin ‘n huwelik, en waarom eindig dit? Wat maak dat iets wat so idilies begin, so tragies eindig? 

Ek wil graag die huwelik vergelyk met een van hierdie swart driepoot potte, en die drie pote vergelyk met:-

·        Liefde

·        Kameraadskap

·        Intimiteit 

Eerstens ‘n vraag waarmee daar deesdae geworstel word. Is die huwelik deur God ingestel?

Gen 2 : 88
Verder het die Here God gesê: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke."  

Gen2 : 23 – 24
Toe sê die mens: "Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy 'vrou' genoem word; sy is uit die man geneem. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.  

Dit lyk tog vir my of God ‘n bedoeling gehad het van een man wat met een vrou, in ‘n vaste verhouding aan mekaar gebind word. “Till death do us part”. 

Hoekom ‘n huwelik?

·        Standvastigheid

·        Skep ‘n veilige hawe vir kinders

·        Sekuriteit vir albei partye

·        Steeds die mees aanvaarbare verwantskap in vandag se samelewing

·        God se bedoeling vir hierdie verwantskap 

Waar pas God / Godsdiens in?

Jou verhouding met God is nie een van die pote van die potjie nie, maar eerder die hele fondasie waarop hierdie drie pote rus. Of dalk die staaldop van hierdie pot wat alles binne hou, en waar wonderlike verhoudinge prut wat net beter en beter word.

Kinders van die Here se huwelike is per definisie niks beter af nie. Die statistiek is presies dieselfde as vir nie-gelowiges.  

Poot no 1 – LIEFDE

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees. Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind. Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!  

Gaan kyk bietjie na die dele wat hierbo in donker uitgelig is, en gaan pas dit toe binne die huwelik. 

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie

Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind. 

Kan jy sien hoe toepaslik hierdie gedeelte in 1 Kor 13 op die liefde in die huwelik is?  

Wat is liefde?

·        ‘n Keuse

·        Onvoorwaardelike aanvaarding – soos van eerste ontmoeting af

·        Totale oorgawe en toewyding

·        Stel ander persoon eerste

·        Deernis / genade / soos God Sy volk liefhet

·        Beskerming

·        Respek 

Wat is dit nie?

·        Om huweliksmaat soos ‘n vloerlap te hanteer, net omdat hy / sy aan jou verbind is

·        Man die hoof / maar nie Hitler nie 

2 KORINTIËRS 11:2
Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. 

Ef 5 : 21 - 33

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is. Daar staan in die Skrif: "Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees." Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon. 

Liefde, soos Christus Sy kerk liefhet. Kan jy sien wat die voorwaarde is vir “hoof van jou vrou”? “soos Christus Sy kerk liefhet".

 

Hierdie onvoorwaardelike liefde is die belangrikste element van enige huwelik.

·        Jesus het ons lief, ten spyte van ons onvolmaaktheid

·        So moet ons ook mekaar se onvolmaaktheid verdra 

 

Hoe gaan ek met die liefde vir my huweliksmaat om?

·        Sê dit gereeld, in woorde, sms, e-pos, briefie ens.

·        Wys dit voor ander / spesifiek die kinders

 

Jy reflekteer iets van die ander persoon. Dus,  jou vrou sien haarself in dit wat jy weerkaats. Soos ‘n spieël.

'n Spieël sê iets. Hy reflekteer iets van iemand wat in hom kyk. Nou kom ek by my punt: Manlief, as jy jou vrou se spieël is, wat sien sy? Ek het eendag hierdie beeld gehoor en dit het 'n groot indruk op my gemaak: die man is die spieël waarin 'n vrou haarself sien. Dus, dit wat jy as man van haar reflekteer, dit is wat en wie sy glo sy is. Wat weerkaats jy van jou vrou, en hoe beïnvloed dit haar selfbeeld? Jy sien, mens kry sulke gebuigde spieëls, so bv laat 'n hol spieël jou lekker maer lyk … maar dit vertel nie die waarheid nie. As jy as man iets anders weerkaats as wat jou vrou is, gaan sy verander …. Negatief. Maar, as jy as spieël na haar kyk met aanvaarding, gaan sy haarself aanvaar. Praat jy afbrekend, en kommunikeer negatiewe goed, dan word sy iemand wat jy nie wil hê nie, en dan is dit die spieël se skuld. Verdien elkeen van ons nie die reg om onsself te wees nie? Jy sien, ek is laaankal nie meer die wulpse Adonis van vervloë jare nie, maar as my spieël (my vrou) positief kommunikeer en reflekteer, glo ek wragtie ek gaan nog in my nr 32 broekie pas! Dan is ek nie skaam oor hoe ek lyk nie. Maar as sy die heeldag vir my vertel ek is 'n tenk, dan blaas ek die aftog. Wat sien jou vrou van haarself as sy deur jou oë kyk?

Hooglied 6:4-12
4 "My liefling, jy is so mooi soos Tirsa, so aantreklik soos Jerusalem, so indrukwekkend soos 'n afdeling vaandeldraers.
5 Draai jou oë liewer weg van my af, hulle maak my onrustig. Jou hare is soos 'n trop bokke wat teen die Gileadberge afkom.
6 Jou tande is so wit soos 'n trop ooie wat nou net skoon gewas is, elkeen met 'n tweeling, nie een sonder 'n lam nie.
7 Die versiersels op jou voorkop is soos granaatpitte agter jou sluier.
8 "Daar is sestig koninginne, tagtig byvroue, jong vroue sonder tal,
9 maar sy, my duif, my volmaakte, is enig, die enigste dogter van haar ma, haar ma se oogappel. Die jongmeisies kyk na haar; hulle praat met bewondering oor haar, die koninginne en die byvroue sing haar lof.
10 "Wie is dit wat soos die daeraad verskyn, so pragtig soos die maan, so helder soos die son, so indrukwekkend soos 'n afdeling vaandeldraers?
11 "Ek gaan af na die neuteboord toe, ek gaan kyk na die jong boompies by die spruit, ek gaan kyk hoe die wingerde bot, hoe die granaatbome bloei.
12 Ek ken myself nie, dit is of sy my laat ry op die strydwa van die keur van my volk."

Pragtig, of hoe? Wat sien jou huweliksmaat deur jou oë? 

 

Poot no 2 – KAMERAADSKAP

 

Wat is ‘n kameraad / comrade?

·        ‘n Boesemvriend

·        Iemand nader as enige iemand anders

·        Iemand met wie jou jou diepste geheime deel

·        Mentor / raadgewer

·        Jou held / heldin

·        Iemand wie jy maklik volg

·        Iemand met wie jy oop en vertroulik kommunikeer

 

Wat gebeur as jou huweliksmaat nie daardie rol vervul nie?

·        Gaan soek daai kameraadskap by poppie by die werk

·        Begin meer en meer in jou binneste opkrop

·        Keer in jouself in

·        ‘n Bom wat wag om te ontplof

·        Kan nie uiting gee aan spanning nie

 

Wat werk nie?

·        Ek ken ‘n man wat geensins meer kon kommunikeer met vroulief nie. Poppie by die werk vervul toe daardie rol, en man skei vir vroulief. Hy trou later met poppie. Uiteinde? NIKS MEER OM VIR MEKAAR TE Sê NIE. Kom saans by die huis, praat niks met poppie (nou nuwe vroulief) nie, en leef in ongelukkigheid met mekaar.

·        In hierdie verkeerde verhouding raak die tweetjies se bagasie op mekaar verlief.

·        Liefde word met wellus verwar, want dit eindig gewoonlik in die bed.

 

Kameraadskap

·        Hou by die erkende reëls – soos wat die Bybel voorskryf

·        Gaan gereeld alleen uit, selfs sonder die kinders.

·        Beskerm dit , want jy gaan dit UITERS nodig hê as die kinders eendag die huis verlaat.

·        Doen gereeld klein goedjies saam.

·        Kan jy saam met jou vrou / man werk? 

 

Poot no 3 – INTIMITEIT

 

‘n Baie kontroversiële element waaroor niemand graag praat nie

 

Wat is intimiteit?

·        Natuurlik die sg liefdesdaad / maar nie net dit nie

·        ‘n Drukkie in die verbyloop

·        Rug kielie / voete vryf / lekker bederf

·        “En hulle sal een word” aldus Genesis

 

Wat is dit nie?

·        Brutale, respeklose seksdaad nie. Soos soms op TV.

·        Bevrediging van slegs een persoon se behoeftes. Wees sensitief / ken jou huweliksmaat se befoeftes.

 

Waar hoort dit / hoe?

·        Net binne die huwelik

·        Met wedersydse goedkeuring / aanvaarding

·        Moet mekaar ten volle vertrou

 

Wat werk?

·        Volle aanvaarding vir ander party, net soos hy / sy is

·        Heaven @ eleven, starts at seven. Begin vroeg-vroeg met ‘n aanloop.

·        Oop kommunikasie

·        Respek vir mekaar se behoeftes / ook dalk gesondheidsprobleme

 

Wat werk nie?

·        Kobus Rudolph praat soms oor die “hand in die donker”. Man is aaklig met vroulief, die hele dag lank, maar vanaand in die bed kom daai hand onder die kombers nader gekruip. Dan wil hy vat aan dieselfde liggaam wat hy netnou nog afgekraak het.

·        Verwag intimiteit terwyl hy netnou nog ‘n vark was

·        Onversorgdheid. Magtig man, maak jouself “presentable”. Sorg dat jy lekker ruik!!!

·        Beledig mekaar se uiterlike, maar in die bed is alles nog okay.

·        Verstaan die verskil tussen man en vrou. Manlief werk soos ‘n ligskakelaar, binne sekondes is die knaap gereed vir aksie, vroulief werk soos 100 kersies wat eers een vir gemaak brand word. Net so skakel manlief agterna die skakelaar af, draai om en slaap. Vroulief se kersies moet eers een vir een uitgedoof word.

 

Kyk wat sê die Here by monde van Paulus hieroor.
1 Kor 7 : 1 – 5

Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.

·        Frekwensie met wedersydse ooreenkoms, Paulus praat van huweliksplig (ja meneer / mevrou, jy is die een wat hierdie rol MOET vervul) Mmm… manlief sê dalk vanaand:-  “ Bid jy alweer met die Huisgenoot oop voor jou?” 

Spreuke 5 : 15 - 23

Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei? Hulle is tog net joune, en jy sal hulle nie met 'n ander wil deel nie. Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm. Waarom sou jy jou laat bedwelm deur 'n slegte vrou, my seun, waarom sou jy in die arms van 'n ander vrou gaan lê? 'n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy. Die oortreding van die goddelose agterhaal hom, hy draai hom vas in sy sonde. Hy sterf deur sy gebrek aan selfbeheersing, sy dwaasheid het hom op die verkeerde pad gebring. 

So staan hierdie potjie en prut op hierdie drie UITERS belangrike pootjies.

 

Waar pas die Here in die prentjie in?

·        Hy pas in al drie hierdie pote in, nie net beperk tot een poot nie.

·        Hy maak dat die potjie lekker prut, en skep daardie gebondenheid wat ons nodig het.

·        Die Hoofbestandeel wat smaak gee aan alles in die pot. Die GRAVY??? 

 

Wat gebeur in ‘n pot waar al die pote in plek is?

·        Geen plek vir sieklike jaloesie nie

·        ‘n Veilige hawe vir kinders. Hulle sal eerder hulle vriende huistoe bring as om elders uit te hang. Trots op hulle ouerhuis.

·        Geen plek vir dag tot dag oorlog nie

·        Goeie kommunikasie

·        Kan saam die Here dien. “Pray together, stay together”.

·        Geen plek nodig vir ander partye nie

·        Pie in the sky? Nee, daar is hordes mense wat dit regkry.

 

Kan ek dit omswaai?

·        Ja, selfs as professionele berading nodig is

·        Gaan op ‘n Huweliksverryking naweek

·        Gooi die plantjie van voor af nat

·        Dit wat jou aanvanklik die meeste na die ander persoon aangetrek het, sal jou dalk die meeste irrtiteer. Swaai dit om.

·        Verwyder “egskeiding” uit jou woordeskat. GEEN AGTERDEUR!!!!

·        “Fire” vir poppie by die werk

·        Soek weer die mooi / spesiaal in die ander persoon

·        Gaan saam na die Here toe

 

Ek kan enige berg, hoe groot ookal, oor worstel, solank my vrou aan my sy is. Geen probleem is te groot binne ‘n standvastige huwelik nie, en enige kraak kan herstel word as dit betyds identifiseer word. Begin NOU daarmee.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)