| 
              
			 Valse profete - dwaalleraars - die Antichris. Terme wat my nog altyd 
			so bietjie met vrees en onsekerheid vervul het. Klink so na mense of 
			wesens wat iewers soos aliens op die aarde gaan toesak en dan 
			vreeslike dinge met ons gaan doen. Ook mense wat in die eindtyd in 
			aksie gaan kom en dan grootskaalse verwarring gaan bring onder die 
			christene. Alles in die toekomstige tyd. 
			1 Joh 4 : 1 - 6 Geliefdes, moenie enigeen glo wat 
			sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals 
			profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees 
			van God afkomstig is. 2 Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen 
			wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het 
			die Gees wat van God afkomstig is. 3 En elkeen wat dit nie van Jesus 
			bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die 
			gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom 
			en wat nou reeds in die wêreld is. 4 Julle behoort aan God, liewe 
			kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle 
			is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is. 5 Hulle behoort 
			aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en 
			die wêreld luister na hulle. 6 Ons behoort aan God, en wie vir God 
			ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons 
			nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die 
			dwaalleer onderskei. 
			Ek lees 'n baie interessante kommentaar in die Bybel 
			in Praktyk oor hierdie gedeelte. Daar staan dat met die ontstaan van 
			1 Johannes, die meeste mense wat ooggetuies van Jesus se lewe en 
			werk, reeds dood was, en daar dus twyfel begin ontstaan het of 
			hierdie Jesus waarvan almal praat, regtig God en mens was. Dit was 
			veral onder die Griekse christene. Volgens Plato se leer was die 
			gees belangriker as die liggaam. Iemand wat dus tot die sfeer van 
			die gees behoort het, sou nie so verneder word om volledig liggaam 
			te word nie. Die Dosetisme was een van die mees algemene dwalings. 
			Volgens die leerstellings was Jesus 'n gees en het net die skyn van 
			'n liggaam gehad. Hulle het geglo dat Hy nie 'n skaduwee gehad het 
			nie, ook nie voetspore gemaak het nie. Dit blyk dus dat die boek 
			geskryf is in 'n tyd wat daar baie probleme was rondom hierdie 
			dwalinge. Iets soos, "as ek nie gesien het nie, sal ek nie glo nie". 
			Onthou ook dat daar in daardie tyd nie media bestaan het waarop die 
			dinge vrylik beskikbaar was nie. Dit was alles op oorvertellinge 
			gegrond. 
			Vals profete. Ons het nou gesien dat hierdie 'n 
			eeu-oue probleem is en nie net van gister af kom nie. Dit is vandag 
			nog so en sal net erger en erger raak namate die eindtyd nader kom. 
			1 Johannes 4 het verwys na die vals profete, maar 1 Johannes 2 praat 
			van iets soortgelyk, en dis nie die Antichris nie. Ons lees in 
			Openbaring van die Antichris wat gaan kom, maar reeds in 1 Johannes 
			van die kenmerke van die hedendaagse Antichris. 
			1 Joh 2 : 18 - 27 Kinders, dit is die laaste uur. 
			Julle het gehoor dat daar 'n Antichris kom; en daar is nou reeds 
			baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is. 19 
			Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle 
			was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, 
			sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van 
			hulle werklik een van ons is nie. 20 Julle is egter deur die Heilige 
			Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid. 21 Ek skrywe nie vir 
			julle omdat julle nie die waarheid sou ken nie, maar juis omdat 
			julle dit ken en weet dat daar geen leuen uit die waarheid voortkom 
			nie. 22 Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus 
			werklik die Christus is nie? Hý is die Antichris, hy wat nie die 
			Vader en die Seun wil erken nie. 23 Wie nie die Seun erken nie, 
			verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader. 24 
			Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in 
			julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, 
			sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. 25 En dít is wat die 
			Seun ons belowe het: die ewige lewe. 26 Dit het ek aan julle 
			geskrywe oor die mense wat vir julle wil mislei. 27 Wat júlle egter 
			betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle 
			het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle 
			alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, 
			soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly. 
			In hierdie twee gedeeltes is dit duidelik dat die 
			vals profeet en die Antichris (teen Christus) een en dieselfde doel 
			het, en dis om te verkondig dat Jesus nie die Here is nie. Nou vra 
			ek jou, gebeur dit nie vandag feller en erger as ooit tevore nie? 
			Jy sien, al wat die Satan wil regkry, is om twyfel 
			te saai oor hierdie enkele punt. 'n Gewese sataniese priester wat 
			tot bekering gekom het, het gesê dat hulle geen saak gehad het met 
			enige ander geloof nie, want dit was geensins 'n bedreiging nie. 
			Luister net of ek reg is as ek sê: "'n ware Christen praat nie net 
			van God nie, maar ook van Jesus as sy persoonlike Verlosser. Dis 'n 
			goeie toets om te weet of iemand wedergebore is. 'n Toegewyde 
			satanis praat nie net teen God nie, maar teen Jesus Christus. 
			Hoekom? Want tot 'n satanis weet wie die ware Redder is, al verwerp 
			hy Hom. 
			Hoe werk die vals profete vandag, en wie is hulle? 
			En wat is die doel? 
			Eerstens kan ons seker sê dit is gelowe of 
			groeperinge of kultusse wat volstoom daarop uit is om die 
			Christelike geloof te ondermyn. Of as 'n daadwerklike poging om die 
			Bybel verkeerd te bewys, of mense wat op 'n dwaalspoor gebring word 
			soos sekere sektes. Dis die een kant. Maar daar is ook 'n ander 
			kant. En dis die gevaarlike groep. Die mense wat daagliks om en 
			tussen ons beweeg, maar net die skyn van die Christelike geloof het. 
			Ek wil amper sê, die ek en jy. Jan Alleman. Al twee hierdie 
			skrifgedeeltes sê dat Jesus as Verlosser uit die berekening gehaal 
			moet word. Klink dit bekend? 'n Teoloog beweer dat dit eintlik net 
			Johannes was wat sê dat Jesus die enigste weg tot saligheid is, en 
			ons om verskillende redes nie vir Johannes te ernstig moet opvat 
			nie. Maar wat van die uitsprake van Jesus self, en Paulus, en 
			Petrus? Nou, as die persoon sulke uitlatings maak, dan noem 1 
			Johannes hom die verleier, die antichris en die vals profeet. Dan sê 
			die Bybel (nie ek nie) in 1 Johannes 4 : 3, dat hy die gees van die 
			antichris het. Die punt is, christenskap is nie 'n passiewe saak 
			nie, maar 'n aktiewe saak. Die Bybel is baie duidelik oor die 
			voorwaardes van ware Christenskap, en die enigste manier om daar uit 
			te kom, is om vir Jesus uit die berekening te haal. En dis die 
			hoofdoel van die antichris en die vals profeet. 
			Hoe erken ons hierdie vals leerstellinge?  
			· 'n Leerstelling wat as 'n nuwe openbaring gesien 
			word.  
			· As daar groot geheimhouding daarmee saamgaan.  
			· As daar persoonlike voordeel vir die sogenaamde profeet is.  
			· As Jesus se gesag op enige manier ondermyn word.  
			· As die Bybel verdraai moet word, of as iets weggeneem word, of 
			bygevoeg word.  
			· As daar net verkondig word wat mense wil hoor.  
			· As daar eksklusiwiteit by betrokke is.  
			· As Jesus se gesag afgetrek word tot op menslike vlak.  
			· As daar nie 'n gesonde balans in teksverse voorgehou word nie, of 
			totaal uit konteks aangehaal word. 
			Hoekom gebeur dit dan dat daar dwaalleraars in ons 
			midde is? 
			Judas vers 4 - 6 Die rede hiervoor is dat sekere 
			mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie 
			se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van 
			ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en 
			hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus. 5 Al weet 
			julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel 
			die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié 
			wat nie geglo het nie, laat omkom het. 6 Dink ook aan wat gebeur het 
			met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het 
			nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met 
			onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die 
			oordeel van die groot dag. 
			Die opskrif is: "Die dwaalleraars en hulle straf". 
			Gaan lees die hele boek Judas 1 hoofstuk. Kom ons hou vas aan die 
			waarheid van die Evangelie van Christus. Dan sal ons ook kan sê soos 
			in Judas vers 24 - 25. Aan Hom wat magtig 
			is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met 
			vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, 25 aan die enigste God, ons 
			Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die 
			heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid 
			af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. 
			   |