EEN SE DOOD IS DIE ANDER SE BROOD – 31 Maart 2010 


Een se dood is ’n ander se brood ... dis ’n bekende spreekwoord. Een persoon se swaarkry kan dalk tot die ander een se voordeel wees. Mens kan hierdie stelling op twee maniere bekyk: dit kan negatief klink, bv. solank mense doodgaan het die begrafnisondernemer werk; of dit kan positief klink: die begrafnisondernemer is daar om ’n diens te lewer wanneer iemand tot sterwe kom. Ons staan nou in Paastyd en dink terug aan Jesus se sterwe sodat elkeen van ons kan lewe. Jesus se dood is as’t ware my en jou brood. Hy het iets prysgegee sodat ek en jy iets kan ontvang. WAT Hy gegee het, is duidelik en wat ons ontvang het, weet ons, Maar, daar is so ’n paar interessante dinge waarna ons vandag kan kyk.... 

Na die vermeerdering van die brood, kom van die mense die volgende dag na Jesus soek: 

Joh. 6:25:40
En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: "Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?" Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen." Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." Hulle sê toe vir Hom: "Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet. Jesus het hulle geantwoord: "Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee." Hulle sê toe vir Hom: "Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood." Maar Jesus sê vir hulle: "Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie. "Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.

Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan."  

Nogal treffend. Net die vorige dag vermeerder Hy die brood en voed duisende met 5 brode en 2 vissies en steeds vra die mense vir nóg ’n wonderwerk. Ek dink nie hulle was moedswillig nie, ek dink hulle was eerder só oorweldig en só soekend, dat hulle bevestiging wou hê van wie en wat Hy was. 

Die mense onthou die gebeure wat in die woestyn plaasgevind het en praat van die manna uit die hemel. Vir hulle was die  brood uit die hemel ’n teken van redding, fisiese redding. Daardie brood was hulle voedsel, maar dit was net tydelik van aard. Nou herinner Jesus hulle dat dit nie van Moses afgekom het nie, maar van God af. Dan trek Jesus vir hulle hierdie treffende vergelyking as Hy sê: "Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee”. Dieselfde aksie. In die woestyn gee God brood en later gee Hy sy Seun wat Homself die “brood wat lewe gee” noem. Hier is egter ’n verskil. In die woestyn val die manna op die grond en die mense skep dit net op. Maar, toe Jesus kom, sê hy (vers 35) “Wie na My  toe kom, sal nooit weer honger kry nie” 

Brood was stapelvoedsel en saam met enige ete geëet. Brood het deur die hele Bybel altyd ’n spesiale betekenis en nou maak Jesus hierdie vergelyking tussen Homself en brood. Brood wat lewe gee – ewige lewe ... nooit weer honger nie! 

Joh. 6:39 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 

Dit is primêr God se wil – dat elke mens wat van hierdie brood wat lewe gee, sal eet. En weet jy wat? Net soos wat die 5 broodjies nie opgeraak het nie, raak hierdie “brood wat lewe gee” nie op nie! Jy kan aanhou “brood breek”, aanhou eet en aanhou uitdeel. 

Die kern van Jesus se koms na die aarde toe, is toe die brood gebreek is. Dit was toe Jesus sterf. As Pilatus vir Jesus begenadig het, was die brood, net soos in die woestyn, sonder ewigheidswaarde. Die brood moes “breek” om die volheid van Sy voedingswaarde te bereik. 

Joh. 6:54-58
Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe."     

Wow, diep woorde, of hoe? Jy weet mos as ons Nagmaal vier, dan breek ons die brood as simbool van Jesus wat gesterf het. Luk 22:19 “Dit is My liggaam wat vir julle gegee word”. As die brood nie gebreek het nie, het dit vir ons geen waarde gehad nie. Besef jy die grootsheid van hierdie hele aksie? Sien jy die vergelyking met die gebeure in die woestyn? Die Israeliete tel manna op en eet dit. Hulle moes dit vat, dit eet en glo. Hoekom glo? Want hulle mag net elke dag een dag se voorraad optel. Hulle moes glo dat daar die volgende dag weer sou wees. Nou kom Jesus en Hy sê: As julle glo sal julle lewe. As jy glo sal jy die brood aanvaar.  

Jesus is die brood vir ons. In hierdie Paastyd dink ons nou terug aan die feit dat Sy liggaam gebreek is vir my en vir jou. Hier is ’n paar belangrike punte wat ons moet glo: 

1)     Jesus was God. Joh. 1:18 “Sy enigste Seun, self God...” As Hy nie God was nie, was Hy mens. En ons weet tog een mens kan nie vir ’n ander verlossing bring nie.

2)     Hy moes uit ’n maagd gebore word, anders was Hy mens. Dit was die metode wat God gekies het om Hom in die wêreld te laat kom.

3)     Hy moes sterf. Hy kon eenvoudig nie begenadig word nie, anders was die brood nooit gebreek nie en was die ewige dood ons voorland... so wreed as wat dit ook mag wees.

4)     Hy moes opstaan – sodat die Brood voedingswaarde kon hê. Anders kon Hy nie vir Satan die finale kishou gee nie.

5)     Hy moes opvaar hemel toe, sodat Hy kan heers en ons saam met Hom. Op 2:17 Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee... en Op 3:21 Elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek saam met My op my troon laat sit... 

Goddank! Jesus se dood is ons brood!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)