‘N EEN SIN PREEK


Ek is seker jy het al baie preke, boodskappe, oordenkings, dagstukke en Geestelike gedagtes gehoor, van baie mense. In jou kerk, op die radio, TV, straathoeke, orals. Preke is volop. Ek glo jy onthou baie daarvan, al is dit net frases daarvan. Sommige was lank, ander was blitsig, party was eenvoudig en ander was so kompleks dat jy geen idee gehad het waaroor dit gaan nie. 

Ons was baie jare gelede in 'n gemeente waar die dominee in metafore (beeldspraak) gepreek het. Dit was baie indrukwekkend, met GROOT woorde en vergelykings, net jammer ons het nooit 'n idee gehad waaroor hy gepreek het nie, want g'n mens het die woorde verstaan nie, want ons het dit nog nooit gehoor nie. Later jare het ons 'n baie kort dominee gehad (fisies), en sy preke het by sy lengte gepas, maar dit het oemf gehad! 

Maar... soms is 'n enkele sin genoeg om reuse impak te hê, want die Here stuur mense om met een enkele sin jou wêreld om te dop en Sy doel te bereik. 

Wil jy ook graag preek? Of 'n besondere boodskap van God oordra? Jy kan, as jy wil! Weet jy hoe maklik is dit? Dis baie eenvoudig, sê net vir iemand die dinge wat jy self glo, en die Here sal die vrug op daardie boodskap bring. Wat is daardie een-sin preek wat jy moet preek? Wie is daar in jou vriende – of werkskring wat jou een-sin preek moet hoor? Dit sal 'n baie kragtige uitwerking hê, en dit kan net sowel vermaning as bemoediging wees. Solank dit net nie veroordeling is nie. Daar is mense wat jou boodskap SO dringend moet hoor. Miskien weet jy dit al lankal, en miskien is dit nou nodig om dit te gaan preek. Gaan vertel wat jy moet vertel, gaan preek jou een-sin preek. Voor jy spyt is en dit te laat is. 

Kom ek vertel vir jou van 'n ou wat met een sin 'n hele stad gered het. Of liewer, hy het sy een sin gepreek, en toe red God die stad.

Stad se naam

Nineve

Probleem

Hulle het sleg en afvallig geword

Prediker

Jona

Preek

“Nog net 40 dae en Nineve word verwoes”

Jona 1:1-3
Die Here gee die opdrag vir Jona

Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.         

Jona 1:9-10
Jona besef sy fout

Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?” Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel.


Jona 3:1-3
Jona kry weer sy opdrag

Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jona gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur te stap.     
       

Jona 3:4
Die een-sin preek

Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”

Jona 3:5-10

Die resultaat

Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op 'n ashoop gaan sit. Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.” Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

Miskien het Jona in die tempels gepreek, dalk op straathoeke, of dalk het hy net geloop en sy preek uitgeroep. Ek dink hy het dit net uitgeroep: “Nog net 40 dae en Nineve word verwoes” Bekeer julle, draai terug, want God gaan hierdie plek verwoes soos Sodom en Gomorra, nog net 40 dae en Nineve word verwoes! 

'n Kragtige preek, waarop die hele stad reageer en terugdraai na God toe. 'n Kragtige een-sin preek! Soos daardie een wat jy moet gaan preek. 

Soos ek deur die boek Jona lees. Kom daar egter 'n klomp dinge op wat ek net eenvoudig nie verstaan nie.

  • Hoekom wil die Here iemand gebruik wat so steeks soos 'n donkie is?

  • Hoekom gebruik Hy nie iemand plaaslik nie? Daar was tog sekerlik priesters wat goed kon preek en ernstig kon waarsku.

  • Hoekom praat Hy nie sommer self met die mense nie? Ons sê mos graag ons hoef nie kerk-toe te gaan nie, want die Here sal sommer self met ons praat terwyl ons in die kooi lê. Terwyl ons verlang na die kerk. Jy weet mos...

  • Hoekom verdelg Hy nie sommer vir Jona ook in die proses nie?

Jy sien, die Here se weë is nie ons weë nie, en ons weë is nie Sy weë nie. Ek verstaan nie eers hoekom Hy Nineve wou verwoes nie. Hoekom dan nie vir Pretoria ook nie?

Weet jy, ons hou ons so slim, ons probeer so graag die Here se metodes en denkwyses verklaar en ons verduidelik dit asof ons kenners is, ons het reseppies en formuletjies wat ons kundig voorhou. Maar ek sê jou, ons weet niks! 

Ons kan die Here nie in 'n boksie in verduidelik nie. Ek weet min, maar ek weet die Here werk as ons gehoorsaam is. En ek en jy moet maar luister, want 'n vis se maag is 'n goor, slymerige plek vol viskoppe en bierblikke. Die Here kan en wil jou gebruik, al is dit in een enkele sin. En selfs vlug het nie vir Jona gewerk nie, want die Here het 'n “duikboot” gestuur om die ou uit sy miserabele omstandighede te red, en hom steeds Nineve toe gestuur. 

Maar... Nou gaan preek jy jou een-sin preek, dan gebeur daar 'n vreemde ding. Jy doen wat Hy jou vra om te doen, en dan wil ons die uitkoms dikteer. Want ons het mos nou gepreek! Here, ek het my kant gebring, maak U nou sus en so! Anders word ek kwaad, soos Jona. 

Jona 4:1-3
Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. “Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”      

Hoekom was hy kwaad? Omdat hy liewer op die heuwel wou sit en die vuurwerke sien soos die Here die stad verwoes? Of omdat hy dink die Here het sy tyd gemors omdat Hy Homself in elk geval sou ontferm oor die mense. “U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het...”

So ietsie van: Hoekom moes ek amper verdrink, my lewe verloor, in 'n vis se vieslike pens bly, myself verneder en blootstel en preek terwyl “ek nie die gawe het nie”, net sodat U uself in elk geval ontferm. “What a waste...”

Soms weet ons nie wat om te sê vir mense nie. Wel, die Here het nie vir Jona gevra om sy eie woorde uit te dink nie.

Jona 3:2 “...spreek hom aan met die woorde wat Ek jou sal gee”. Ja, die Here sal ook vir jou die nodige woorde gee.

1 Pet 3:15
Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

Dis dalk al wat jy moet sê. Net iets oor die hoop wat in jou is.

Dalk is daar 'n paar ander een-sin preke wat die Here oor jou lippe wil laat rol:

  • Vriend, die Here het jou oneindig lief

  • Daar is hoop in Jesus, glo dit.

  • Jou swaarkry gaan nie vir ewig aanhou nie

  • Die Here se genade is vir jou genoeg

  • Die Here sal selfs DAARDIE sonde vergewe

  • Die Here het ook 'n doel met hierdie insident

  • Die Woord van God is die waarheid

  • Die Here vergeet nooit Sy beloftes nie

Dalk 'n woord van vermaning:

  • Vriend, as jy jou nie bekeer nie, sal jou uiteinde erger wees as wat jy in jou wildste drome dink

  • Hierdie buite-egtelike verhouding gaan maak dat jy alles wat kosbaar is, verloor

  • Daardie drankbottel gaan jou lewe verwoes

  • Daar is 'n God, of jy dit glo of nie

  • Daar is 'n bose, of jy dit glo of nie

  • Daar is 'n hemel, of jy dit glo of nie

  • Daar is 'n hel, of jy dit glo of nie

  • Jesus sal jou aanneem, of jy dit glo of nie, as jy hom vra

Daar is 'n gemeente daarbuite vir elkeen van ons, dit hang net af of ons gehoorsaam wil wees of nie.

Jou een-sin preek kan iemand se lewe red, of radikaal verander. Of jy dit glo of nie...
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)