EK KYK OP NA DIE BERGE


Ps 121:1-8
'n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.   

Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Dit is einde van die jaar – hoe voel jy? As ek vir jou sou vra: “is jy moeg”?, is ek amper doodseker jy sal ja sê. Ek praat nie van bergklim-moeg, of marathon-moeg nie, ek praat van “op”. Is jy “op”? Jy weet nie meer waarheen nie?

Die Psalmskrywer begin hierdie Psalm met: “ek kyk op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom?” Ons ken die res van die Psalm, ons ken die einde wat sê dat die Here jou sal beskerm waar jy ookal gaan. Ons ken ook Job se einde. Terwyl ons lees van al sy swaarkry en ellende, verlies en pyn, verwerping en alleenheid weet ons alreeds wat die uiteinde gaan wees: daar wag herstel en voorspoed vir hom. As ek vandag vir jou sou vra of Ps 121:1 op jou van toepassing is, steek jy dalk net by vers 1 vas.

Voel jy dalk vandag moedeloos, hopeloos, hooploos, toekomsloos, visieloos, leweloos? As jy so voel, is jy een van biljoene in die wêreld. Onthou egter dat as jy die res van Psalm 121 lees en glo, dan het jy ‘n groot voorsprong bo baie... want daar is ‘n goeie einde.

Vers 1 maak voorsiening vir die feit dat daar slegte tye in ons lewens sál wees. Punt. Die hele Psalm 121 maak voorsiening vir die feit dat kinders van die Here een of ander tyd hooploos of hopeloos sal voel, en Hom sal gaan soek in die berge; dat hulle een of ander tyd moedeloos sal voel, en selfs sal begin twyfel of God ooit hulle uitroep hoor. Daar staan glad nie in hierdie Psalm dat jy ongelowig is as jy swaarkry en soekend is nie. Inteendeel, hierdie is ‘n belofte Psalm: wanneer daar dae kom dat jy opkyk na die berge en uitroep vir hulp, is Hy daar. Daar kán gevare wees, maar die Psalm belowe dat Hy jou lewe sal beskerm (vers 7). Wow!

Dit sê nie:

-          jou finansies sal eensklaps regkom nie

-          jou motor gaan homself regmaak nie

-          jy sal more dadelik by ‘n nuwe werk instap nie

-          jou kinders sal nie jou hart breek nie

-          jou huwelik gaan sommer dadelik regkom nie

Dit sê wel dat wanneer hierdie goed gebeur, jy seker kan wees daarvan dat die Here dáár sal wees.

Ons woon in ‘n gebroke wêreld, weet jy? Onvolmaak, vol slaggate, vol moeilikheid en teleurstellings – en kinders van die Here is nie uitgesluit hiervan nie. Ons is deel van ‘n onvolmaakte bestel. Ons neem deel aan ‘n on-lekker lewe. Maar wat is ons voordeel dan? Hét ons ‘n voordeel?

Weet jy watse woorde maak my vies? “Christene het my seergemaak”. Ek wil sê: siestog, shame, kom oor dit, get a life. Weet jy hoekom gebeur dit? Dit gebeur omdat mense opkyk na ander mense, na sisteme en mensgemaakte stelsels. Weet jy wat sê die Bybel daaroor? Jes 2:22 “Moenie op mense staatmaak nie, hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd”. Dis hoekom hulle jou seermaak, en dis ook hoekom jy een of ander tyd iemand seergemaak het, of nog sal seermaak.

Hier is, na my mening, die gemiddelde volgorde van die lewe:

-          dit gaan goed met jou

-          dan vlieg die volstruis in die windpomp in (dit is mos die Afrikaanse uitdrukking vir die pawpaw strike die fan)

-          dan begin jy skarrel, jy maak planne, jy probeer dinge regkry, jy sukkel

-          dan gaan soek jy hulp by mense – en word dikwels teleurgestel

-          dan gaan jy na God toe en probeer met hom ‘n “deal” aangaan (jy weet, Here as U my help dan sal ek dit of dat doen, of prysgee, ens)

-          dan gee jy Hom ‘n bietjie raad en ‘n paar voorstelle en tydskedules van hoe Hy jou probleem kan oplos

-          dan eers begin jy opkyk na die berge – oorgegee aan Iemand groter as jy

-          dan, uiteindelik, iewers, vertrou jy net op Hom

...eers as niks anders werk nie, soek ons na Hom. Hoekom begin ons nie by die laaste punt nie?

“Ek kyk op na die berge” spreek vir my van vertroue, en van aanvaarding en van oorgee.

‘n Paar jaar gelede het dit sleg gegaan in my besigheid. Ek gaan toe bank toe vir ‘n leninkie, maar hulle sê toe nee. Ek was eers lekker vies vir hulle, maar toe sê ek vir die Here dat ek al my eie planne sal los, en Hom vertrou as die bank dan nie wil help nie. Binne ‘n maand was my probleme opgelos, sonder die bank! In dieselfde tydperk sit ek een aand in my motor buite die gym en vra die Here vir uitkoms – en dit hét gekom. Nie deurdat geld net in my skoot geval het, of iemand ‘n erfporsie aan my bemaak het nie, maar deurdat ek buitengewone goeie bestellings van kliënte af gekry het .... ek moes wérk! My probleem was dat ek gedink het dinge gaan nooit weer verander nie; ek was verkeerd, want ek het vasgehaak by vers 1 van Ps 121. Kan jy die Here genoeg vertrou dat die uitkoms wat Hy gaan bring die beste is, al sal dit dalk nie pynloos wees nie, of nie volgens jou tydskale wees nie?

Hoe moet ons dan optree in moeilike tye?

-          aanvaar dat slegte tye so normaal is soos ontbyt eet

-          aanvaar dat dit menslik is om bekommerd te wees

-          weet dat God nêrens heen is nie, Hy IS daar

-          glo dat Hy ook jou slegte omstandighede kan gebruik

-          aanvaar dat jou eie planne kan misluk

-          aanvaar dat Hy vir jou “nee” kan sê vir dit waarvoor jy bid – Hy weet beter

-          aanvaar dat dit dalk nóg slegter kan gaan

-          glo dat dit weer beter sal gaan

-          moenie jou toevlug by mense gaan soek nie

-          wag op die Here! Wag en vertrou.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)