God. ‘n Baie
bekende woord, ‘n baie bekende naam, ‘n baie bekende Persoon. Die mees
bekende Persoon op aarde, en in die hemele. Mense roep Hom aan, mense het
verskillende opinies oor Hom, mense verbind aan Hom uit verskillende
verwysingshoeke, ons probeer Hom peil en plot. Sy naam word soms as ‘n
skelwoord gebruik, sommiges betwyfel Sy bestaan, ander word kwaad vir Hom.
party soek hulle lewe lank na Hom, en kry Hom nooit. Ander beweer Hy het
Hom aan hulle openbaar, hulle kry drome waarin Hy met hulle praat ....
maar ek nooit. Waar kom Hy vandaan? Hoe lyk sy woonplek?
Job 23:1-17
Toe het Job weer gepraat: “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie
ophou kla nie. As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy
woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. Ek
sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê.
Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie; Hy sal my dit
nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit
en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word. Maar gaan ek na die
ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die
noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide
toe draai, ek sien Hom nie. Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer
soos goud. Ek volg Hom waar Hy gaan, ek hou op sy pad en draai
nie af nie. Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde
as aan my eie begeertes. Hy bly dieselfde, wie kan Hom teenstaan? Wat Hy
wil, doen Hy. Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen, wat sy planne met my
ook al is. Daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan,
maar ek bly Hom vrees. God het my weerstand afgebreek, die Almagtige het
my met angs vervul. Maar in hierdie donkerte het ek nie stilgebly nie, in
hierdie duisternis wat my oorval het.”
Dis Job se
woorde; en so voel ek ook. Ek sit elke week hier in Rippel se ateljee en
praat oor Hom en bedien mense op verskeie plekke; ek was jare lank
betrokke met evangelisasiewerk, waar ek die evangelie met baie mense
gedeel het; daar is vrug op ons werk .... maar as jy my vandag vra om Hom
te verduidelik, Sy weë uit te pluis, Hom op ‘n manier in ‘n boks te plaas
sodat Hy en wat Hy doen kan sinmaak, dan kan ek nie. Want ek verstaan Hom
nie. Ek verstaan tonne dinge wat Hy doen en toelaat net eenvoudig glad
nie. Soos Job sê: “Ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees”. Maar
nogtans kan ek onomwonde sê: ek is werklik lief vir Hom.
Hoe baie probeer
ons nie om in ons eie menslikheid formules aan Hom toe te ken en Hom te
probeer verduidelik nie. E=mc2 is Einstein se formule. Dit
verduidelik die son wat skyn, en hoe ‘n atoombom groot verwoesting laat
plaasvind. ‘n Klein bietjie massa word vernietig en onbeskryflik baie
energie word vrygestel. Ek verstaan die formule ... soort van. Maar watter
formule beskryf die Here? God = , God is gelyk aan wat?
Eks 3:13-14
Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê
vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en
hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê
God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’
het my na julle toe gestuur.”
“Ek is..”. Ek is
wie? Ek is wat? Dié beskrywing beskryf nie in verstaanbare taal wie Hy
regtig is nie.
Verstaan jy Sy
werke? Ek bely vandag dat ek nie verstaan nie. Jy sien, dit is hierdie
ding van “on-verstaan”, wat maak dat ongelowiges vir Christene uitlag.
Want, ek moet self sê ek verstaan nie hoekom ek glo nie.
Heb 11:1
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig
te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
... dit maak net
eenvoudig nie sin nie. Ek verstaan nie hoekom ek onwrikbaar glo in die
maagdelike geboorte, die kruisiging en opstanding en hemelvaart van Jesus
nie. Ek verstaan nie, maar ek GLO dit! Hoe maak dit sin....?
Hoekom leef ons
so goed in Suid-Afrika, in hierdie lieflike sonskynland? Maar ‘n paar
duisend kilometer Noord gaan kinders dood van die honger. Hy is tog
sekerlik net so lief vir daardie mense as vir ons, of hoe? Hoekom raak ‘n
wonderlike, wedergebore egpaar se kind verslaaf aan dwelms, maar my
kinders nie? Hoekom bid ons intensief, in volle afhanklikheid van God, vir
‘n kind met kanker en dan gaan daardie kind dood? Intussen sit ‘n
boemelaar, so vuil dat jy nie met ‘n tang aan hom kan vat nie, op die
sypaadjie en bedel; dalk voel hy niks eers vir die Here nie. Al sy organe
werk perfek - dit kan tog seker eerder vir iemand anders, ‘n goeie mens,
aangewend word? Hoekom word mense gestremd gebore? God wat die mensdom
dan so volmaak geskep het. Maak Hy dan so nou en dan ‘n ou foutjie?
Maar... om een of
ander onverklaarbare rede, hou hierdie siekes, en gestremdes, en
getraumatiseerdes, hierdie mense wat soms so gebroke is, onwrikbaar vas
aan hulle geloof in God. So asof hulle hierdie “magic” formule ken, wat ek
nog nie ontdek het nie. Hoekom draai hulle nie hulle rug op Hom nie? Nee,
hulle vlug juis na Hom toe! En kry ongekende vertroosting. Ek verstaan
nie...?
Uiteindelik kom
ek toe tot hierdie besef; en ek stel dit in ‘n vraag: sê nou maar ek hét
Hom verstaan, en ek hét Sy formule geken, sou Hy dan nog steeds ‘n God vir
my gewees het? Sou Hy nog majestieus en soewerein gewees het? Belangrikste
van alles: sou ek nog geloof nodig gehad het? Kom ek sê nou reguit hoe ek
voel: Ek kies honderd persent om nie te verstaan nie, maar om te glo. Nie
andersom nie. So weet ek dat die Heilige Gees in my woon. So verstaan ek
dat Jesus se kruisdood my heil is, en dan kan ek glo in ‘n ewige lewe saam
met Hom.
As ek hom
verstaan het, sou ek deurgaans kon eis vir verduidelikings; Hy sou altyd
moes “please explain” vir dinge wat Hy toelaat. Hy skuld my niks, maar tog
oorlaai Hy my met genade. Ek verdien niks, en tog leef ek in oorvloed. Wil
Hy nie dalk hê dat ek net so bietjie moet deel van hierdie oorvloed nie?
Goddank, Hy vat nie alles weg waaroor ek soms so kla nie. Sê nou maar net
ek het vandag nét dit gehad waarvoor ek gister dankie gesê het? Sê nou net
Hy vat jou kinders weg oor wie jy so kla? Of jou werk wat jy so
swaarmoedig doen? Of jou wederhelf wat net nooit goed genoeg is nie? Of
jou huis wat te klein geword het omdat jou goed so baie geword het? Of jou
gesondheid wat jy dalk opmors? Maar dit lyk my Hy doen dit nie sommer
nie.... en DIT verstaan ek regtig ook nie. Soms mors ek met Sy genade,
maar Hy onttrek dit nie.
.... daarom staan
ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees.
|