EK SAL VIR JULLE RUS GEE


Hoeveel mense het vandag regtig 'n vrolikheid, of 'n uitsien na hierdie dag, of hierdie tyd van die jaar? Dalk is jy vandag werkloos, of jou besigheid presteer nie, of dalk is daar huislike of huweliksprobleme, probleme met jou kinders, finansies of werksdruk. Daar is baie dinge wat daagliks oor ons pad kom wat ons in 'n drukgang sit, en dis nie lekker nie. Baie dikwels lei hierdie dinge tot depressie wat maak dat ons net nie kans sien vir hierdie dag nie. Dis sleg om in 'n lewens situasie te wees waar alles hopeloos geword het. Ek hoor so dikwels mense sê "Ek is so bang". Bang vir vandag, bang vir die toekoms, en dan kom hierdie tyd dat mens voel asof jy in so 'n swart kombers toegedraai word. En weet jy, in sulke tye voel dit selfs of die Here se genade, of Sy teenwoordigheid, of wat Hy kan doen, maar 'n skrale troos is. O ja, en dan kom mense en sê vir jou: "Man, ruk jou reg, tel jou seëninge, klim uit hierdie swart gat uit jou lewe uit". Maklike woorde, maar as daai bang vir môre oor jou gekom het, is dit baie moeilik.

Matt 11 : 25 - 30
25 Daardie tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.
26 Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.
27 "My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.
28 "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.
30 My juk is sag en my las is lig."

My juk is sag, en My las is lig. Kom na My toe, en ek sal vir julle rus gee. Jesus se uitnodiging. Weet jy, ek sien nie in hierdie gedeelte die gedagte dat ek met my kruiwa probleme na Jesus toe kom, dit voor Hom uitgooi, en dan weg huppel met geen sorge in die lewe nie. Dis nie so maklik nie. Ek dink dis eerstens om te besef dis die enigste plek waar ek hoegenaamd kan gaan met my laste. Tweedens om te besef dat Jesus daar is vir my en jou, en dan net styf teen Hom te gaan leuen, sodat Hy ons kan vashou.

Ps 62 : 1 - 13
1 Vir die koorleier.'n Belydenis. 'n Psalm van Dawid.
2 Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.
3 Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.
4 Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak, 'n man wat reeds is soos 'n muur wat wil omval, 'n klipmuur wat omgestoot word?
5 Hulle probeer my uerk; hulle skep behae in leuens; met die mond seën hulle, in die hart vervloek hulle. r Sela
6 Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.
7 Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan.
8 God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.
9 Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons 'n toevlug. r Sela
10 Mense is verganklik, mense is niks: op 'n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks.
11 Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie. As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.
12 Een ding het ek God hoor sê, nee, twee: dat net God mag het
13 en 'n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

Net by U vind ek rus. En die Here sê, kom, almal wat vermoeid en belas is.

Luk 10 : 38 - 42
38 Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het.
39 Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het.
40 Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: "Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!"
41 Maar die Here antwoord haar: "Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge,
42 maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie."

Moet ons nie soos Maria net gaan en styf by Jesus se voete sit nie? Ek sien so in my geestesoog hoe Maria net teen Jesus se been leuen, en Hy liefdevol haar hare streel. Jesus sê vir Marta, Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.

Ons is soms so besig met kerklike aktiwiteite en geestelike dinge, maar hoeveel keer gebeur dit dat ons regtig hierdie intimiteit van Jesus ervaar? As die Here sê, "Ek sal vir julle rus gee", wat beteken hierdie rus? Ek dink nie dis dat al jou sorge eensklaps verdwyn nie, maar dat die Here sê, "raak net rustig. Kom sit hier by My, hier aan My voete. Vergeet vir 'n oomblik van die berg wat voor jou lê. Ons sal later daarby kom. Kom raak net stil. Ek wil vir jou so bietjie van My oorvloedige seën gee". Ek ken nie jou situasie nie, dalk lê daar 'n berg voor jou, of dalk is jy in 'n swart gat in jou lewe, of dalk druk die drukgang onmenslik hard. Dan dink ek wil die Here net vir jou vandag sê, "Kom, kom sit hier by my voete, ja, huil jou hart uit, ek droog al die trane af. Ek is steeds hier." Al is jou las hoe swaar, sê die Here, "Neem My las, en My juk, dis lig en sag. Dalk sê die Here "Kom ons ruil, ek neem joune, en jy neem myne."

Maak tyd om net rustig by die Here te gaan stil raak, en geniet Sy seën.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)