Hoe
verskil ons van mekaar? Dis nou ons as Christene. As ek een of ander
uitlating sou maak oor sekere goed wat ek glo, hoe sou jy reageer?
Indien ek nou ‘n stelling sou maak, met watter gesindheid sou jy van
my verskil? Aggressief? Militaristies? Aanvallend? Oor-reageer? Of
dalk met liefde, iets soos: ek respekteer jou mening, maar ek behou
my eie mening. Weet jy hoe min wedergebore Christene kry dit reg?
Wanneer dit by ware, egte, vaste geloofsoortuiging kom, kry min van
ons dit reg om die ander se standpunt te aanvaar.
Ek gaan ‘n paar kwel-situasies noem waaroor ons
Christene nogal skerp kan verskil:
1) Grootdoop vs kleindoop
2) Ses dag skepping vs ‘n ou heelal
3) Die eind tye – sal daar ‘n wegraping wees of
nie?
4) Is rockmusiek boos of nie?
5) Wat mag geëet word en wat nie?
6) Sabbats onderhouding op ‘n Saterdag vs geloof
viering op ‘n Sondag?
7) Gebruik van sekere rituele al dan nie
8) Mag ek Kersfees vier of nie?
9) Beeldjies, of dalk ‘n kruis in jou huis – mag
dit?
10) Werk en inkopies op ‘n Sondag
11) Onderhouding van Geloftedag of nie?
12) Watter vertaling van die Bybel moet / mag ek
lees?
13) Mag vrouens op die kansel kom?
Jip, oor hierdie goed en nog horde meer kan ons
mekaar se hare lekker trek. Nou praat ek nie van verskille tussen
gelowiges en ongelowiges nie, of van Christene en ander gelowe nie,
ek praat van wedergebore Christene wat verskillende sieninge
handhaaf.... lekker bekgevegte!
As ek Romeine 14 lees lyk dit vir my of hierdie nie
‘n nuwe ding is nie – dit gaan al duisende jare so!
Rom 14:1-6, 9-16
Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry
as sy opvatting van joune verskil. Een glo 'n mens mag alles eet; 'n
ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. Die een wat
alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die
een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie
veroordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy om oor iemand
anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy
goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.
Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is
alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig
wees van sy opvatting. Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere
wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen
dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles
eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.
Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend
geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom
veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons
sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar
staan geskrywe: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke
knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal
dus oor homself aan God rekenskap moet gee. Laat ons mekaar dan nie
meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou
broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. Omdat ek die
Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself
onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit
dan onrein. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy
nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir
wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie. Moenie dat die
goeie wat julle het, 'n slegte naam kry nie.
Paulus raak in Galasiërs 5 sommer erg omgekrap oor
die besnydenis, want dit lyk my mense het soveel daarvan gemaak dat
hulle in mekaar se saligheid begin twyfel het. En dis presies hoe
dit vandag ook gaan tussen Christene. Ons byt en verskeur mekaar oor
goed wat hoegenaamd geen ewigheidswaarde het nie.
Gal 5:1-6, 12
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in
hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat
indwing nie.
Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat
besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer
nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele
wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil
word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus
verbreek, julle het die genade van God verbeur. Wat ons betref, deur
die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur
te glo, vrygespreek sal word. In Christus Jesus is dit nie van
belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat
deur die liefde tot dade oorgaan.
Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig,
wou hulleself dan maar heeltemal ontman!
Wat Paulus eintlik sê is: as ons so hartstogtelik
vashou aan sulke moets en moenies, mis ons dalk net vir Christus.
Vers 6(b): Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde
tot dade oorgaan. In Rom 14:13 “Laat ons mekaar dan nie meer
veroordeel nie”. Hierdie is ‘n opdrag van God!
Hulle sê mos ons boere weet wat ons wil hê. As ons
van mekaar verskil, stig ons ‘n nuwe politieke party en ‘n nuwe kerk.
Dit lyk my die Bybel is oor sommige sake nie baie
duidelik nie. Miskien omdat dit vir die Here nie baie belangrik is
nie. Paulus sê jy moet wat jy doen uit geloofsoortuiging doen. En
dit is reg, handel en wandel soos jy doen, glo soos jy glo binne God
se raamwerk van jou saligheid, maar moenie ander veroordeel wat
anders as jy dink of doen nie.
As ons dan so verknog aan sekere dinge vashou, moet
ons dan seker maar aan álles vashou wat daarmee saamgaan. Kom ek vra
‘n moedswillige vraag: mag ‘n Christen ‘n tatoeëermerk dra? Wat sê
jy? Dalk sal jy sê: nee, want dit Bybel sê nee. Nog ‘n moedswillige
vraag: sny jy jou baard, dié hier op jou wange? Of is jy skoon
geskeer, soos ek?
Lev 19:28
Julle mag nie heidense rougebruike navolg
deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en
tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.
Daar het jy dit nou! Wang baarde en tatoeëermerke in
een sin. Nee, ek is nie ‘n voorstaander van tatoeëermerke nie, maar
sal geen mens daaroor veroordeel nie. Ek sal ook nie my kind se hand
afkap as hy een op sy hand aanbring nie.... en ek gaan ook nie my
wang baarde groei nie. Dis dalk hierdie tipe goed waarna Paulus
verwys as hy sê: as jy een wet wil onderhou moet jy elke wet
onderhou. Hy verwys na wettiese en godsdienstige reëls. Vraag is,
hoe voel jy oor mense wat van jou verskil? Ek het al gesien hoe
mense mekaar aanvat, Christene! en dan is daar geen sprake van die
vrug van die Heilige Gees nie.
Hoe sal ons dan ons verskille hanteer? Anders as wat
ons dit met politiek doen. Weet jy, ek sien BAIE meer
verdraagsaamheid onder mense wat verskillende rugbyspanne ondersteun
as mense wat verskillend glo en tog veronderstel is om in dieselfde
geestelike span te speel. Hulle sê mos: Die Christene is die enigste
weermag wat sy eie soldate skiet. Of dit so is, weet ek nie, maar
dat mense liefdeloos van mekaar verskil is duidelik.
Ons weet teen dié tyd dat daar mense is wat glo die
wederkoms van Jesus vind voor die einde van Mei plaas. Ek glo dit
nie, maar hoe gaan ek optree teen die persoon wat dit verkondig, as
23 Mei wel aanbreek, en die wederkoms het toe nie plaasgevind nie?
Gaan ek nydig wees, en die persoon se karakter afbreek? Of gaan ek
bloot sê: vriend, ek het respek vir jou om so ver te gaan vir dit
wat jy glo... al was hy verkeerd.
Miskien moet ons mekaar ook maar ‘n bietjie uit
luister, meer verdraagsaam wees, aanvaar dat daardie persoon gered
kan wees, lief is vir die Here, al doen hy sekere dinge anders as
wat jy dit doen. Paulus sê: as kos vir iemand onrein is, is dit vir
hom onrein. Hy gaan egter nie sy eie siening daaroor verander nie,
en ook nie sy broer veroordeel nie.
Kom ons verskil van mekaar in liefde. Onthou: Al wat
van belang is, is dat ons geloof in liefde oorgaan in dade.
|