EK STREK MY UIT …


Nou is nog ‘n jaar amper verby. Onthou jy nog jou nuwejaarsvoornemens wat jy aan die begin van verlede jaar gemaak het? Hoe het jy gevorder? Ek gee dit sommer in elk geval op vir ‘n “bad job”. Die einde van die jaar is vir my altyd so bietjie van ‘n skeidslyn, waaroor ek kan klim. Iets tot die effek van “wat was en wat kom”, “voor en agter”, “gister en môre”, “verlede en toekoms”. Of soos om deur ‘n deur te stap .. duskant die deur en anderkant die deur. Dis vir my ‘n tyd om terug te kyk en te reflekteer, en ‘n tyd om vorentoe te kyk en te droom. Hoe was hierdie afgelope jaar vir jou? Hoe hoop jy sal die nuwe jaar wees? Wat laat jy agter en wat vat jy saam? Wat hoort by die nuwe jaar en wat moet agtergelaat word? Ek hoop jy visualiseer ‘n beter jaar as wat die afgelope een was. Al was hy dalk goed.  Ek glo nogal baie mense wil nou maar eerder die vorige jaar opvou en mooi verpak en iewers in ‘n kas in ‘n donker hoekie wegpak…. Om hom nooit weer uit te haal nie. Kom ons dink so bietjie – hoe was die afgelope jaar? Was daar trauma? Hartseer? Misdaad? Armoede? 

Ek wil vandag vir jou ‘n paar verse voorhou, en dan die teks ‘n bietjie uit sy bedoelde konteks gebruik.

Fil 3:10-14
Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.  Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
 

Pragtige gedeelte. Ek wil veral konsentreer op “ek maak my los van wat agter is, en strek my uit na wat voor is”. Ons het so ‘n hele rukkie gelede gepraat van daardie sleepwaentjie wat ons óf agter ons aansleep, óf afhaak en agterlos. Bagasie, gemors, hartseer. Hierdie waentjie met die wêreld se pyn daarin, slegte verhoudinge, onvergewensgesindheid, swaarkry, emosionele pyn, en alles wat sommer net sleg is. Ek dink ons almal se waentjies het maar iets sleg in. Die vraag is, gaan jy hom afgehaak voor die einde hierdie jaar, of gaan jy hom oor saam oor die drumpel sleep na die nuwe jaar. Of nog erger … gaan hy jou oorstoot in die nuwe jaar in? Ek glo nie mens kan alles uitgooi nie, maar ek dink tog party van die slegte goed kan maar gerus uitgehaal word.  Miskien moet jy die ding maar net bietjie afpak en kyk of daar nie so paar gemorsies is wat jy kan uitgooi nie. Jy sal moet, want jy moet plek maak vir die lekker goed van die nuwe jaar wat moet in. “Ek maak my los van wat agter is, en strek my uit na wat voor is”. Ek wonder nogal as ek vir jou vra hoe jy die afgelope jaar sou gradeer, ‘n punt uit 10 – waar sou jy jou merkie sit? Watter van daardie elemente wat die jaar sleg gemaak het, gaan saamgaan die nuwe jaar in? 

Kom ons kyk na ‘n paar goed wat gerus maar kan agterbly:

-         Slegte verhoudinge. Kom ons maak vandag vir onsself die besluit om niks daarvan saam te neem in die nuwe jaar in nie.  Daar is ‘n paar maniere hoe mens met slegte verhoudinge kan werk. Jy kan (a) dit ignoreer en hoop dit gaan weg. Dit sal nie weggaan nie; (b) voortbou daarop deur nóg meer kole op die vuur te gooi, en dit sodoende nóg slegter maak, of (c) dit regmaak. Ag toe man, dis mos by verre die beste opsie.

-         Emosionele pyn. Dis definitief nie so maklik nie, maar dit is dalk slim om hulp te kry daarmee.

-         Die effekte van trauma. Miskien het jy onder misdaad deurgeloop. Ons het ‘n paar jaar gelede onder gewapende rowers in ons huis deurgeloop, en ons het besluit om dit agter te los. Ek dink bykans nooit meer daaraan nie. Dis nie die moeite werd om heeltyd daaroor aan te hou tob nie.

-         Bekommernis en stres. Veral die onnodiges. Daar is mos baie daarvan in ons lewens, of hoe? Nee wat, dis tyd vir ‘n nuwe blaadjie. Maak jou los van wat agter is, en strek jou uit na wat voor is.

Waarna strek jy jouself uit in die nuwe jaar wat voorlê? Ja, strek en rek ‘n bietjie om dit by te kom wat dalk buite jou bereik voel.

-         Strek uit na nuwe geleenthede. Dalk het jy ‘n paar goeies gemis in die afgelope jaar. Moet dit nou nie weer mis nie; dalk sou dit bietjie beter met jou gegaan het as jy dit benut het.

-         Strek jou so bietjie uit na diensbaarheid. Doen miskien so bietjie meer tot voordeel van iemand anders. Dink so bietjie of jy miskien so ‘n projekkie of twee moet aanpak wat vir iemand anders iets kan beteken nie. Dink net, dalk wil jy spaar om vir iemand ‘n rolstoel te koop, of dalk ‘n paar rand opsy sit om ‘n weeskind vir ‘n kamp te borg. Daar is só baie goed wat gedoen kan word.

-         Strek jou uit na ‘n jaar met minder stres. Miskien moet jy bietjie afskaal, miskien moet jy bietjie meer by jou gesin wees.

-         Dalk moet jy jou uitstrek om ‘n slegte gewoonte af te leer, of daardie troetelsondetjie laat staan.

-         Dalk moet jy jou uitstrek na ‘n intieme verhouding met die Here. Meer tyd saam met Hom. Meer geestelike groei. Meer intimiteit met Hom. Meer liefde vir die Here en vir Sy kinders. Nog so bietjie geestelike verdieping, bietjie meer Woordkennis. Bietjie nader aan Hom. 

Kom ons besluit sommer nou  wat duskant die jaar-skeidslyn gaan bly, en wat anderkant hom moet gebeur. Ons het nou wel nie beheer oor alles nie, maar daar is tog sekere dinge waaroor ons wel beheer het. Maak los van wat agter is, en strek uit na wat voor is. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)