ERFGENAME – 10 Junie 2009  


Resessie, ekonomiese afplatting, werksverlies, rentekoerse, wisselkoerse, kontantvloei. Al hierdie goed is ernstig aan die orde van die dag en ons word almal hierdeur beïnvloed en ons almal ly op die een of ander manier daaronder. Dan glo ek ons almal het iets in gemeen, en dit is dat ons almal graag so ietsie groot wil wen, of erf. Wonder jy ook of daar nie dalk iewers so 'n ryk ou tannetjie is wat nét jou naam in haar testament geskryf het nie? Nou nie dat ons die antie haar einde toewens nie, maar as sy gou maak, is jy vinnig uit jou finansieële verknorsing. 

Wat is 'n erfgenaam? Dis iemand wat geld, bates of besittings kry waarvoor hy nie gewerk het nie, en dan bevoordeel word deur iemand wat hom goedgesind is. Daardie erfgeld sal so 'n persoon dan slegs toeval as dit in 'n geldige testament opgeskryf is. Daardie testament is dan bindend en kan nie deur iemand anders verander word nie. Die testament spreek die uitdruklike wil van die persoon uit.

Die persoon wat die testament opstel moet by magte wees om dit op te stel, by sy volle positiewe wees en in goeie geestesgesondheid verkeer. As alles in plek is, kan die erfgenaam staatmaak op sy erfporsie, en hy is dan ook gebind aan die bepalings en voorwaardes. 

Gal 3 :15 – 20
Broers, ek gaan nou 'n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As 'n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie. God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie "aan nakomelinge", meer as een nie, maar: "en aan jou nakomeling" Hiermee wil ek dít sê: God het 'n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie.  As 'n mens dit wat beloof is, kry op grond van die onderhouding van die wet van Moses, kry jy dit nie meer op grond van die belofte nie, en God het sy genade aan Abraham juis deur 'n belofte toegesê. Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van 'n tussenganger aan die volk gegee. Maar as daar net één is wat handel, is 'n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een.

In hierdie deel is die hele kruks van die Evangelie saamgevat. God sluit 'n verbond met Abraham en sy nageslag, waarvan jy een is, omdat Hy ongelooflik lief is vir die mens. God maak die weg tot Saligheid oop lank voor die belofte aan Abraham, en skep daardeur vir die mens die geleentheid om die volle erfporsie te ontvang. Nog lank voor Jesus op aarde gebore word, skryf God die testament vir jou en my.

Eintlik maak Hy voorsiening daarvoor dat ek en jy alles kan erf, as ons net een ding doen en dit is om die erfporsie op te eis. Maar... natuurlik moet jou naam in die boek van die lewe opgeskryf staan, en juis dit is die testament wat die erfporsie op jou laat toeval.

Vers 15 sê:- As 'n testamanet eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan byvoeg of weglaat nie. God sê in Jes 49:16a “Ek het jou naam in My handpalm gegraveer...”. Sien jy? Vasgemaak, lank lank gelede. Ou-testament. Daarom kan ek en jy staatmaak op die volle erfporsie, die volle beloning wat hierdie testament aanbied. Die wonderlike is dat jy dit met niemand deel nie, want dis asof Jesus nét vir my gesterf het, en as ek en Hy alleen op aarde was, sou Hy steeds net vir my gesterf het. Al was dit dalk ek wat Hom aan die kruis moes vasspyker. Jy erf, of jy erf nie, jou naam is in die boek van die lewe, of dit is nie. Jy is die erfgenaam, of jy is nie. So eenvoudig soos dit.

Wat moet 'n erfgenaam doen om te erf? Wel, absoluut niks!!! Sommige mense glo egter dat hulle by die lees van die testament eers bietjie moet “perform” voordat die erfporsie uitbetaal, maar dis nie nodig nie, want die persoon wat die testament geskryf het, moet net sterf, dis al. Die probleem is net, dit klink te goed om waar te wees. En die rede daarvoor is dat die wet vir die mens 'n probleem word. Want wie van ons kan dan nou verby die wet kom?

Gal 3:21-22
Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God? Beslis nie! As 'n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou 'n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

Sien jy dat selfs die wet nie in staat is om dit te doen nie? Die wet het gekom as gevolg van die sonde, sodat die mens kan weet wat reg en verkeerd is. Die wet is die verkeersreëls en die padaanwysings om by die bestemming te kom, sodat ek en jy 'n sinvolle bestaan kan voer. Die bedoeling van die wet was nog nooit om jou Saligheid te bewerkstellig nie. Onthou net een ding, die wet is goed en sal altyd goed bly. En daarom sal dit ook altyd geldig bly.

Die wet het dan ook 'n belangrike rol as oorgangsinstrument gespeel.

Gal 4:1-7
Hierby wil ek nog dít sê: Solank 'n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van 'n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer. En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: "Abba!" Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Die wet self is dus nie die testament nie. Jy is egter 'n kind van God op grond van die testament.

Hoe verkry ek dan hierdie erfporsie?

Gal 3:21-29
Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God? Beslis nie! As 'n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou 'n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus. Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie. Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Hoe moeilik is dit om dit te verstaan? Jou geloof in Christus maak die testament geldig, en dis al!!! God het die eerste stap geneem en aan Abraham en sy nageslag die belofte gegee, en die volgende stap is om jou naam in die boek van die lewe te kry. En almal wie se naam in die boek geskryf staan sal alles erf. Die wet is dus nie die toegang tot die erfporsie nie, die boek van die lewe is die toegang.

Openb 20:15
As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

In Openbaring is daar etlike verwysings na die boek van die lewe, en al die plekke sê dieselfde ding.

Waar los dit vir jou en my? Die testament is geskryf en die erfporsie moet geërf word, en almal wat dit regtig wil hê kan dit kry. Die voorwaarde vir die afhandeling van die testament is dat iemand moet sterf, en dis wat Jesus gedoen het. Die testament moet gelees word en die erfporsie is gratis. Die testament is geldig, en die beloning is “out of this world”.

Is jy seker jou naam is ingeskryf?

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)