ETIKETTE


Die blondine was beswaard omdat 'n bottel sjampoe haar net een was gehou het. Want die etiket het gesê:- Was, spoel af, herhaal... of was dit dalk 'n blonde man? Ons gesels oor etikette, “labels”. Die blondine (ou) het gedoen wat die etiket sê, maar toe gaan hy/sy in 'n “loop”. Was, spoel af, herhaal... Was, spoel af, herhaal... Was, spoel af, herhaal... 

Ons as mense plak etikette op mekaar, op ander mense, op groepe en selfs op onsself. Soms goeies, maar gewoonlik slegtes. Ek het dit ook pas gedoen met die blondine, deur die suggestie te skep dat hy/sy nie te skerp is nie. Lelik van my! 

Jy kry etikette op alles:

  • Leaves hair strong, shiny and healthy looking - spreek vanself, sjampoe

  • For noticeably soft skin with protein extract – badseep

  • Tough cleaning, beautiful results – bekende skoonmaakmiddel

  • Four in one premium fragrance:- Eliminates odors, acts in seconds, lasts up to one hour. Lugverfirsser. Glo jy dit?

  • Proven too help your baby sleep better. Mmm... wat sal dit wees? Medisyne? Susmiddel? Kombersie? Hoesstropie? NEE! Babapoeier! Genugtig...

  • Maak vel 92.55% meer soepel. Vir 98.2% van dames wat dit gebruik. Velroom.

  • Dan kry jy die bekende onderarm spuitgoed wat vrouens om jou laat swymel. Of liewer, so sê die etiket. Lyk my niemand gebruik die goed nie, ek het dit nog nooit op straat sien gebeur nie.

Maar, dis alles wat hierdie etikette belowe. Hulle gee inligting, instruksies, waarskuwings (soos bv gifbottels), spog, oordryf, maak beloftes en lieg sommer blatant. Sulke etikette plak ons ook op onsself en op ander, sommer so in die verbyloop, veral as ons nie van hulle hou nie, label ons hulle chop-chop. Terwyl ons eie etikette maar bietjie sleg lyk, of hoe? 

Matt 7:1-6
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal. “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”
 

Oulike stukkie hierdie. Elke maatskappy het 'n etiketmasjien. Hy staan op 'n spesifieke plek en almal weet waar hy staan en boonop word hy flink gebruik. Party mense (gewoonlik dieselfde mense), gaan staan so paar keer per dag by hierdie masjien en maak dan hordes etikette. Dan word dit flink op mense geplak in hulle afwesigheid. Hulle doen dit selfs sonder vergoeding.
Spr 26:22 'n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit soos maklik
Spr 18:8 Skinderstories word gretig verslind, mense sluk dit so maklik

Onthou jy toe ons kinders was, het ons 'n stuk papier gevat en die woord “donkie” daarop geskryf? Dan plak jy dit skelm op iemand se rug sonder dat hy dit agterkom. Dan het jy hom ge-“label” en almal lag agter sy rug vir hom. So is dit by die etiketmasjien daar by die werk waar die mense kom “skoon lug” soek en mense dan links en regs “label”.  Daar in “skinner straat” loop almal deur, gewoonlik deur liegstories. Laag, gemeen, vuil, agterbaks, vieslik, onnodig, onvleiend, onverdiend, ongevraagd. Absoluut laakbaar! Daai masjien druk 99% van die tyd gif-etikette. 

Weet jy hoekom? Spr 18:22 is reg. “'n Geskinder is soos lekker kos...” Kinders van die Here loop veral deur. Die mooi etiket wat mense wel toekom, word gewoonlik verdoesel deur 'n reuse een wat hom heeltemal verberg. 

Weet jy wat is verstommend? Mense wat dit doen besef nie dat hulle eintlik hulleself label in hierdie proses nie. Hulle glo dat die lelike etikette wat hulle uitdeel, mooi etikette vir hulleself besorg. Siestog ... 'n Geskinder is soos om die agterkant van 'n posseël te lek. Want die goor agterkant van 'n storie proe vir party so lekker. 

Nog 'n kant van etikettering is hoogmoed.  Met hoogmoed plak jy 'n etiket op jouself wat jok soos die een op die babapoeier bottel. My ma werk donkie-jare gelede by De Luxe droogskoonmakers. Daar kom toe eendag 'n dame in en stel haarself voor as Mevrou Luitenant Generaal van Loggerenberg, 'n titel wat sy elke keer gebruik het as sy bel. Indrukwekkend, is dit nie? Kon seker 'n G5 kanon uit die heup skiet. My vroulief sou toe later jare die titel:- Mevrou Meganiese Tegnikus Botha vir haarself losslaan. 

Dis wat hoogmoed doen. Praat jy lelik van mense wat in 'n spesifieke woonbuurt woon, of 'n minderwaardige werk doen, of 'n outydse motor ry, of nie kwalifikasies het nie, dan label jy jouself as iemand wat jou weelde en status sonder genade bekom het. So asof die Here dit nie in 'n oogwink kan wegvat nie. Eintlik beskou jy jouself dan as meerderwaardig teenoor die Here, want Hy hou dan seker ook nie van sulke mense nie.

Spr 6:16-17 “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe dinge waaraan Hy 'n afsku het. Oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is...” ens. Oë wat straal van hoogmoed!

Daar staan nie een plek in die Bybel dat die Here 'n afsku het in 'n arm mense nie. Maar oë wat straal van hoogmoed... 

So label ons mekaar. Weet jy wat is die probleem met hierdie goed? As mense sulke etikette op jou plak glo jy dit naderhand self. Dan glo jy die label en nie die inhoud nie en dan begin jy minderwaardig voel teenoor ander mense, jouself en teenoor die Here. Wat het mense al op jou geplak? 'n Onderwyser, 'n ouer, jou kinders, kollegas en selfs 'n dominee. Dan sien jy nie meer raak dat die Here vir jou lief is en vir jou omgee nie. Satan kom lê natuurlik ook 'n eiertjie as hy 'n skoot inkry en plak etikette op jou wat sê:- LOOSER. ONGEREDDE. SLEGTE EEN. Dan glo jy dit boonop. 

Soms kom mede-Christene met dieselfde dinge vorendag. Haal tekste uit verband aan en plak dit as labels op jou. Mense word siek of beland in trauma, dan kom sê mense vir jou dis omdat jy sus of so gedoen het, of jou ouers dit gedoen het en wil dan links en regs bestraf. Die etiket wat dan kry sê: Onbevry. Dan moet jy na mense toe gaan wat die etiket van jou gaan aftrek. Natuurlik is daar plek vir bevryding, sonder twyfel! Maar ek glo 90% van gevalle waar dit aangebied word hoegenaamd nie. Dit word soms goedkoop en mensgemaak aangebied deur mense wat hulleself label as bevryders. Wees maar versigtig. 

Laastens label ons die Here as hierdie kwaai Persoon wat die heeldag met 'n lat rondloop en wild en wakker slae uitdeel. 1 Joh 4:8b sê egter presies wat op die Here se etiket staan:- “God is liefde”. Net dit. 

God het ook iets op jou etiket geskryf, spesiaal vir jou:

Sef 3:17
Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.
 

Glo dit.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)