DIE GAWE VAN PROFESIE


1 Kor 12 : 4 - 11
Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5 daar is 'n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6 daar is 'n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. 7 Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8 Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9 aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10 Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om te profeteer, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê. 11 Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil.

Dis duidelik dat God gawes uitdeel aan wie Hy wil, soos Hy wil, tot Sy eer. En al die gawes deur die een Gees, die Heilige Gees.

Die volgende deel praat van die liggaam se baie lede en elkeen se onmisbare funksie:

Vers 27 - 31 Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen 'n lid daarvan. 28 En in die kerk is daar mense aan wie God 'n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. 29 Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? 30 Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê? 31 Lê julle toe op die beste genadegawes.

Die liggaam van Christus kan dus nie funksioneer as al die lede nie teenwoordig is nie; daarom moet die gawe van profesie ook funksioneer in die kerk. Ek lees in 1 Tess 5 : 19 - 22 die volgende: "Moenie die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie die uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is"

Die gawe van profesie word baie pertinent uitgelig as 'n baie belangrike gawe, wat 'n baie belangrike rol moet vervul. Ons moet dus aanvaar dat sommige mense die gawe het, en dat dit 'n baie belangrike gawe is.

Die gawe van profesie - wat beteken dit? Dit is definitief nie waarsêery nie, dit is wel iets ('n boodskap) wat God op 'n spesifieke tyd vir iemand spesifiek wil gee. Dit kan vir 'n individu of 'n groep wees, of korporatief, soos vir 'n gemeente. Dit is 'n boodskap wat deur 'n spesifieke persoon oorgedra word, presies soos die Here dit gegee het. Hierdie persoon kan oud of jonk wees.

Joël 2 : 28: "Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek My Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle ou mense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien."

Interessant nè? Oud en jonk. Profesie is een van die sogenaamde woord gawes, maar moet nie verwar word met die gawe van prediking nie. Want 'n prediker kan 'n boodskap - 'n preek - bring, maar nie noodwendig profeteer nie. Hoewel die gawe om God se Woord te verkondig (of te wel profesie), altyd aan die Woord getoets kan word, beteken profesie nie net om God se Woord aan te haal nie. 'n Goeie prediker het die vermoë om dalk goeie lering te gee, en die Woord oop te breek, maar dis nie noodwendig 'n spesiale Woord van God vir spesifieke mense nie. Dit kan egter sekerlik 'n element van profesie bevat. Iemand wat egter profeteer, lê hom/haar daarop toe om 'n spesiale boodskap van God oor te dra, vir sekere omstandighede, ens. Hierdie boodskap moet getoets en bevestig kan word, en lei tot die opbou van die gemeente of die persoon, en kan daarom ook vermaning insluit.

Die persoon met die gawe van profesie, moet baie naby aan God leef, en sy oor moet baie naby aan God se mond wees. Hierdie persoon kan 'n boodskap op 'n klomp verskillende maniere ontvang.

1. Dit kan in die vorm van 'n hoorbare stem wees. Ek het al gehoor van mense wat 'n fisiese klank gehoor het. Paulus word op die pad na Damaskus deur die Here aangeraak en hy hoor 'n stem. Daar staan selfs die ander mense het die stem gehoor. 
2. Dit kan 'n diep indruk in die persoon se gees wees. Joh 10 : 3 "Die skape luister na die Herder se stem." Fyn ingestel, sal so iemand God se stem hoor. 'n Spontane indruk wat iemand as God se stem herken. 
3. Dit kan deur eksterne omstandighede, of deur 'n skrifgedeelte, of onder gebed, tot 'n persoon kom. En die persoon sal gewoonlik weet vir wie dit is. 
4. Dit kan letterlik deur drome of visioene tot 'n persoon kom.

En dan kom die moeilike gedeelte. Daar moet iets met dié boodskap gedoen word. Dit moet gedeel word, al maak dit nie altyd sin nie, of al dink die persoon dat hy verkeerd gehoor het, of al pas die omstandighede nie. Soms vra dit waagmoed en durf, dalk moet hierdie persoon voor die gemeente gaan opstaan en sê: "So sê die Here". Maar, ek dink dit moet met groot nederigheid en beskeidenheid gebeur, onder leiding van die Heilige Gees.

Hoe weet ons of dit wat gesê is, van die Here af kom?

1. 'n Boom word aan sy vrugte geken. As dit van God af kom en die waarheid is, sal dit uitkom soos wat dit gesê is. 
2. Dit sal nooit in stryd met die Bybel wees nie, want God gaan nooit terug op Sy Woord nie. Jy soek verniet 'n profesie dat jy vir vroulief kan los vir poppie. 
3. Wanneer hierdie profesie deur ander gelowiges getoets word, sal almal vrede daaroor hê. 
4. Die gevolg van 'n profetiese woord sal mense ALTYD nader aan Christus bring. In Jesaja en Jeremia lees ons van ernstige rampe wat belowe word …. as die mense hulle nie bekeer nie. Weereens, dit bring mense nader aan die Here. 
5. Dit sal goeie vrug tot gevolg hê en groei voortbring. 
6. Hoewel dit 'n ernstige element van vermaning kan bevat, sal dit nie krities, negatief of afbrekend wees nie. En dan moet ons oppas vir satan. Hy probeer God se gawes naboots, en dan kom hierdie profesie nie tot vervulling nie. Dis dan wat mense se geloof begin wankel, en dis ook die rede hoekom die Here waarsku teen die vals profete.

Kom ons beoefen hierdie gawe, as ons dit het. Kom ons toets elke profesie. 1 Tess 5 - "Toets alles, behou wat goed is, en bly weg van wat sleg is."

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)