GEBRUIK JOU SALIGHEID


Christen … gered … ewige lewe … wedergebore … kind van God …'n Nuwe lewe, nou en vir altyd. Ons is kinders van God, en dit beteken dat my wedergeboorte my voorberei vir 'n nuwe bestel - die ewige lewe. Dit hou egter ook NOU vir my en jou voordeel in, of hoe? Nou vra ek vir jou die vraag: hoe gebruik jy jou saligheid vir jou lewe hier en nou? Of anders gestel: hoe wend jy jou saligheid aan terwyl jy lewe, hier en nou?

Die oomblik wat ons tot bekering kom, word iets agtergelaat en iets nuut word aangehang. 'n Ou lewe word afgelê en 'n nuwe word aangeneem. 'n Nuwe mens word gebore en jou gedrag verander … só is dit veronderstel om te wees; maar soms verflou hierdie nuutjie as't ware. Ons lewe wel as wedergeborenes, maar die "voordeel" daarvan is beperk tot eendag, na ons afsterwe. Daarom vra ek jou vandag: benut jy jou saligheid tot sy volle potensiaal? Gebruik jy jou saligheid optimaal tot jou voordeel, tot ander se voordeel, en tot die voordeel van God se koninkryk?

Wat beteken my saligheid vir my?

· My saligheid maak my Geestelike oë oop. Dis eers dan dat ek kan leef in die onsienlike, en dinge geestelik kan beoordeel. Dit gee vit my  geloof.
· My saligheid vestig 'n verhouding met God. Dit is logies, maar so min mense verstaan dit regtig. Sonder wedergeboorte bestaan daar geen verhouding met God nie.
· My saligheid gee my 'n getuienis. 'n Getuienis is nodig, nie net vir myself nie, maar vir ander. My getuienis sê dat ek iets het wat tot jou voordeel kan wees. 1 Pet 3:15(b) "Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe". Sien jy dat hierdie teks 'n lewenswandel vra wat ander hoop gee?
· My saligheid maak dat ek die vyand kan teë staan. Aanvalle van die bose is algemeen, volgens Paulus: "Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke gees in die lug" (Ef 6:12) Iemand het nou die dag gesê ons moet só lewe dat as jy wakker word Satan moet skree: "Chips, ouens, hy's op!" Jou saligheid gee vir jou ongekende krag in Christus.
· My saligheid gee my iets om te doen. Ons hoef nie net te sit en wag tot die einde van my lewe of tot die wederkoms nie - ons saligheid maak dat ons nou baie werk het! Moenie net kla en kerm nie, spring aan die werk - daar is baie mense wat nog tot redding moet kom. Gaan vertel en maak 'n impak op ander se lewe, solank jy nog kan.
· My saligheid gee vir my vrede en vreugde. Daardie vrede wat Fil 4:7 van praat: "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle gedagtes en harte die wag hou in Christus Jesus"
· My saligheid laat my my getuienis lééf. Leef só dat woorde amper nie nodig is nie - tot ander se voordeel.
· My saligheid maak dat ek waardering het vir wie ek is en wat ek het. Mens sukkel om God se genade te verstaan as jy nie in waardering kan leef nie.
· My saligheid maak dat ek besef dat my weë nie God se weë is nie; dat my tyd nie God se tyd is nie; dat my denke nie Sy denke is nie; dat my wil nie altyd Sy wil is nie. Net mense met geloofsekerheid kan verstaan dat God soewerein is. Het jy al die arrogansie gesien van sommige ongelowiges?… asof God 'n kragtelose, niksseggende entiteit is? Sjoe, elke knie sal buig …
· My saligheid bring die besef dat God aan my kant is, en niks, maar niks , kan jou skei van Sy liefde nie, en niks kan keer dat Hy jou seën nie.
· My saligheid bring mee dat ek deel word van 'n ongelooflike familie - mense wat jou wil bystaan, help, ondersteun, vertroos. Sjoe, God se familie is onbeskryflike mense - jy WIL deel wees daarvan: 'n onuitputlike bron van skouers om op te huil, hande wat wil help, ore wat wil luister …
· My saligheid gee aan my volle toegang tot God se beloftes - AL Sy beloftes in die Woord word joune.

My vriend, besef jy die geweldige krag van jou saligheid? Besef jy waartoe jy in staat is? Verstaan jy die onbeskryflike potensiaal wat in jou opgesluit is omdat jy gered is? Alles vir hier en nou. Dit raak elke faset van jou lewe. Dit maak dat ons hierdie lewe kan leef asof daar geen beperking is nie.

Jy is 'n Koningskind - gebruik dit!

Heb 10:19-25
Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur Sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)