GEE DIE BROEK


Vrou, gee die broek!! Genugtig, jy sal dink ek is gek om só iets te sê. Lees asb. enduit (veral as jy 'n vrou is, anders slag jy my dalk lewendig af.)

Ef 5:21-33
Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.
Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.
Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,
sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.
Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.
Daar staan in die Skrif: "Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees."
Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.
Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

Vrouens, wees aan julle mans onderdanig. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en Sy lewe daarvoor afgelê het. Vrou, gee die broek! As ek so lees, dan besef ek, elke huis kort 'n broek. Soos die spreekwoord sou kon sê: "wat is 'n huis sonder 'n broek?" Lyk my iemand moet die broek dra. Ek praat natuurlik vanoggend in 'n spreekwoordelike sin van "broekdra". Die vraag is: wie het die broek aan? Dra manlief die broek? Dra vroulief die broek? Of, nog erger, dra die kinders dalk die broek in die huis? Of NOG erger, dra niemand die broek nie? Sjoe jong, as ek 'n broek was, sou ek darem baie verward gewees het!

Gen 3:24 Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
Dit lyk vir my die broek was nog nie in die prentjie nie, want Gen 3:25 sê: "Hulle twee, die mens en sy vrou was kaal, maar hulle was nie skaam nie"

Vrou, gee die broek! En kinders, gee die broek!

God se plan met die man is om geestelike outoriteit in sy huis te neem. As hoof van die huis, en die pilaar van liefde het die man die taak gekry om sy huis te bestuur, en die rol van die hoof in te neem. Die probleem is net, vernaam op geestelike vlak, die man het begin terugstaan, en in die proses het die vrou die broek begin oorneem. So kan ons dus sê dat die outoriteit deesdae nie meer in enige een se broek sit nie! Miskien begin die broek al hoe korter word. Jy ken mos die spreekwoord as iemand se broek bietjie hoog sit: "die broek moet 'n partytjie gooi en die skoene nooi" .. of so iets. Die broek word al hoe korter. Ag nee man, wie wil nou naderhand "ou kortbroek" genoem word (ha-ha!)

Die man behoort as koning, priester en profeet in die broek van die huis. Dit is God se bedoeling, Maar nou laat ons toe dat ons gejaagde lewe, baie lang werksure en stres ons met die broek op die knieë vang.

Dit is so dat die mens met balans en rolle geskep is, en as die man die broek verloor, trek vroulief dit aan. Wanneer Jakob as ou man sy seuns seën, dra hy die outoriteit aan hulle oor. Hy was egter al die tyd die steunpilaar van die gesin. Die rolle was goed gedefinieer, en ek glo dat dit vandag nog steeds gedefinieer is, maar ons het self die balans versteur. Die man wil die broek by die werk dra, maar nie by die huis nie.

Hoe pas jou broek, meneer? Het jý hom aan? Vroulief, moenie toelaat dat jou man sy werk op jou afskuif nie. As jy sukkel dat hy tot aantrek kom, het Petrus net die antwoord:1 Pet 3:1-2 Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie. 'n Man is maar 'n snaakse ding, as hy so 'n bietjie papbroekerig word, dan skuif hy (of te wel, delegeer) die joppie na vroulief toe.

Wat die kinders betref, staan ons as mans nie meer ons broek vol nie … ek bedoel, ons skoene vol nie! Kinders gaan op 'n "rampage" en pa se broek begin bewe. Ek het eendag 'n baie waar ding gehoor:- in die verlede het pa, as patriarg, die boonste posisie in die hiërargie ingeneem. Nie as sadis of diktator nie, maar as hoof en leier. In die huishouding het al die prioriteite om pa gedraai. Vandag neem die kinders daardie posisie in: alles draai om die kinders se skedules, behoeftes en planne. In dié proses staan pa terug, en ma erf die broek, en dan in besonder ook die geestelike broek… Vandag sê ek vir die vroue: "vroulief, trek vir jou man weer sy broek aan" 

Kol 3:18-21
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo.
Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.
Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.

Die man het 'n bepaalde taak, maar die vrou is beslis nie vrygestel nie:
Gen 2:18, 20 Verder het die Here God gesê: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke." 
Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie.
Hoe mooi sê dit hier dat die vrou die man se gelyke en sy helper is. Maar as hoof van die huis kort manlief 'n netjiese broek, een wat perfek pas. Hoe lyk 'n man wat kan spog met só 'n broek?

1) Hy sorg dat hy in 'n intieme verhouding met God staan. Hy is primêr die een wat sy gesin op God se skoot kom tel.
2) Hy is die een wat God se stem gaan soek vir sy gesin.
3) Hy is die primêre broodwinner wat sy gesin versorg.
4) As hoof van die vrou hanteer hy haar met liefde, ontsag, respek, diensbaarheid en omgee, hy is bereid om te sterf vir haar, hy dra haar laste, neem haar sorge op sy skouers, hy beskerm haar, hy is 'n skouer om op te huil, hy luister as sy haar hart wil uitstort, hy was haar voete. Klink dit bietjie vergesog? Wel, dit is wat Jesus vir ons doen. En die Bybel sê dat die man sy vrou so lief moet hê soos wat Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het (Ef 5:25)
5) 'n Liefdevolle pa stel 'n voorbeeld vir sy kinders, en is dáár vir hulle, sonder om hulle te bederf.

Pa, vat terug die broek!

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)