GEESTELIKE BLINDHEID


Ons het al dikwels vir mekaar gesê dat daar op geestelike vlak twee uiterstes is. Aan die een kant sien ons hoe honger mense is vir geestelike opbou, belewenisse en geestelike diepte. Aan die ander kant is daar mense wat openlik 'n bespotting van God maak, wat dié wat deelneem aan geestelike aktiwiteite en geestelike herlewing verkleineer en bespot. Een groep geestelik warm, die ander groep yskoud, verlore, geestelik afgestomp. Dié in groep een is geensins volmaak nie, maar tog is hulle mense wat die Here aanroep, en deel word van Sy Koninkryk. Die ander groep het totaal téén God gekies, en is op pad hel toe … tensy hulle êrens stop en omdraai. Almal het 'n kans, maar die gedagte van die sonde teen die Heilige Gees kom by my op. Tussen die warm en die koue groep is daar nog 'n groep waarteen die Here ernstig waarsku, en dit is geestelike louheid of blindheid.

Openb 3:14-22 (Die Boodskap)
Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Laodisea: Die Een wat waarborg dat dinge sal wees soos dit moet wees, het vir julle 'n boodskap. Wat Hy sê, kan julle maar glo, en alles wat Hy sê of doen, is waar. Dit is soos God dit wil hê. Jesus is die Een wat die skepping van God aan die gang gesit het. Dit is Hy wat nou met julle praat. Julle kan niks vir my wegsteek nie. Ek weet wat julle doen en Ek is glad nie tevrede nie. Julle is nie koud nie, maat ook nie warm nie. Was julle tog maar een van die twee! Nou is julle tussenin, so louerig. Ek hou niks daarvan nie. Om die waarheid te sê, as julle so aanhou, sal Ek later niks meer met julle te doen wil hê nie. Julle is nogal die mense wat dit waag om te spog. "Kyk hoe ryk is ons," sê julle. "Kyk hoe gaan ons vooruit. Ons het niks van niemand nodig nie, want kyk net wat het ons alles!"
Ai. Al hierdie gespog maak dat julle heeltemal blind is vir hoe pateties dit regtig met julle gaan. 'n Mens wil eintlik sommer oor julle aan die huil gaan. Kyk net hoe lyk julle: julle is geestelik brandarm en bankrot. Boonop besef julle dit nie eens nie, want julle is soos blindes. Laat Ek julle goeie raad gee: kom koop geestelike goud by My en kom vind uit hoe dit voel om iets te hê wat regtig die moeite werd is. Kom kry by My behoorlike geestelike klere en trek dit aan. Dan hoef julle nie meer uit verleentheid te probeer wegsteek dat julle eintlik geestelik kaal is nie. Ek het ook net die regte medisyne om op julle oë te sit sodat julle geestelik weer kan sien wat julle behoort te sien. Mense vir wie Ek regtig omgee, help Ek reg. Ek wys vir hulle wat Ek van hulle verwag.
Soms moet Ek hulle op die regte pad hou op maniere wat nie vir hulle lekker is nie. Maar Ek doen dit uit liefde sodat hulle goeie Christene kan bly.
Nou toe, Ek praat ook met julle. Sit skouer aan die wiel. Los al die afdraai-paadjies en stap net agter God aan.
Kyk mooi na My. Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand dit hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap na hom toe. Ons sal saameet soos baie goeie vriende behoort te doen.
Dis Christen wat hom nie van stryk laat bring nie, maar enduit aanhou, sal voor God 'n ware wenner wees. Ek sal sorg dat hy langs My op die troon sal sit. Ek het alles presies gedoen soos my Vader van My verwag het. Daarom is Ek 'n wenner wat nou langs my Vader op sy troon sit.
Wie kan hoor, moet goed luister na wat die Heilige Gees vir al die Christene te sê het.

"Julle is nie koud of warm nie, maar iets tussenin. So louerig". Ongelukkig moet ek bely dat dit vir my persoonlik bietjie té bekend klink … ek is ook maar so effe louerig. Die bek is seepglad as dit by geestelike praatjies kom, maar dit gaan maar soms met 'n louheid in die hart gepaard.

Volgens hierdie gedeelte gaan die geestelike louheid ook gepaard met geestelike blindheid en kaalheid. Vers 17 gee die eintlike rede: . "Kyk hoe ryk is ons. Kyk hoe gaan ons vooruit. Ons het niks van niemand nodig nie, want kyk net wat het ons alles!" Weet jy, as ek hierdie goed lees verstaan ek hoekom Jesus so baie teen te veel geld en materiële goed gewaarsku het. Onthou jy die ryk jongman? "Gaan verkoop alles en volg My" - dis wat Jesus vir hom gesê het. Voorspoed kan baie, baie gevaarlik wees. In hierdie dae van hierdie skielike finansieële krisisse word die Here opnuut aangegryp. En die wonderlike is, Hy is daar! Na wie toe sal ek en jy draai, as God nie daar was nie? Daarom sê hierdie gedeelte in Openb 3: Julle sê ons is ryk, maar geestelik is julle bankrot. Ek weet dat moeilike tye goed is vir my, want ek besef dan my afhanklikheid van God.

Nou sê die Here 'n vreemde ding - Hy sê nie: "Kom, ek sal julle baie geld en goeters gee nie". Nee, Hy sê: "Kom, koop geestelike goud by My en kom vind uit hoe dit voel om iets te hê wat regtig die moeite werd is. Kom, kry by My behoorlike geestelike klere en trek dit aan."

Kom ons wees eerlik met mekaar: As die Here vir jou een van die volgende twee opsies gee, wat sal jy regtig, regtig kies? 1) Genoeg geld, in oorvloed, geen finansiële bekommernis, alles net voorspoedig, of
2) 'n Geestelike lewe in al sy volheid. 'n Wonderlike verhouding met God. Geestelike vrede, wat alle verstand te bowe gaan. Maar … met materiële gebrek. Wat sal jy kies? Regtig, regtig kies? Kan jy sien dat Openbaring 3 eintlik vir ons met hierdie vraag konfronteer? Wat sal jy kies?

In vers 18 het ons gelees dat die Here sê dat Hy nét die medisyne het vir geestelike blindheid. Sy eie unieke oogsalf wat maak dat ons oë weer kan sien wat dit moet sien. Weet jy, daar is só baie geestelike invloede. Mense wil só graag buitengewone ervarings beleef, en "nuwe" geestelike goed probeer. En nee, ek glo nie daar is iets verkeerd daarmee nie, maar onthou dat baie van hierdie dinge nie van die Here af kom nie. Daarom wil Hy ons oë oopmaak om te kan onderskei; Hy wil ons terugbring op Sy pad as ons weggedwaal het. Wanneer ons lewe só afgestomp raak dat alles maar net reg lyk, wil Hy vir ons sê: "Mens, maak oop jou oë". Soms raak ons oë só verblind deur die wêreldse dinge dat ons God net nie meer raaksien nie. Maar weer jy, die Here gee om vir ons . In vers 19 sê Hy: "Mense vir wie Ek regtig omgee help Ek reg. Ek wys vir hulle wat Ek van hulle verwag. Soms moet Ek hulle op die regte pad hou op maniere wat nie vir hulle lekker is nie. Maar ek doen dit uit liefde sodat hulle goeie Christene kan bly"

En verder: "Nou toe, Ek praat ook met julle. Sit skouer aan die wiel. Los al die afdraaipaadjies en stap net agter God aan". Mooi gestel, né? Daar is net een pad. Net een temperatuur. Koud, of warm. Koud het klaar gekies. Koud sê: "Ag, dis sommer alles 'n klomp snert. Ek glo niks". Ek lees gister van 'n ou wat sê: "Julle sê daar is één God. En Hy is almal se God. As hy dan myne is kan ek met my god maak wat ek wil. Dan sal ek hom beledig as ek wil, want hy is mos myne". Dis Koud wat praat. Morsdood. Warm praat anders. Warm sê: "Ek is afhanklik van my God. Ek is lief vir Hom, ek dien Hom, al is ek 'n sondaar. In moeilike tye gaan soek ek skuiling by Hom. Wanneer dit swaar gaan plaas ek my vertroue in Hom. Hy is my God". Lou is so tussen die boom en die bas. Koud is verlore. Warm is gered. Albei het klaar gekies.

Vir Lou is daar egter uitkoms. Openbaring 3:20: Kyk mooi na My. Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand dit hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap na hom toe. Ons sal saameet soos baie goeie vriende behoort te doen. Kom ons "vertaal" dit 'n bietjie: "Ek, God die Vader, wil graag jou hart hê, jou hele hart, siel en verstand. Ek wil deel word van jou. Ek maak Myself aan jou bekend, en smag na 'n vriendskap met jou. As jy jou harde hart sagmaak en My toelaat in jou lewe, sal Ek verseker (dit is 'n belofte), van jou lewe besit neem en een word met jou. Ons sal in volmaakte harmonie kom, jy sal My ken soos Ek jou ken, en Ek sal jou red. Omdat jy een word met My, sal jy nooit ooit verlore gaan nie"

As ek en jy dít doen, is ons eensklaps vuurwarm. Kyk wat is die prys: Dis Christen wat hom nie van stryk laat bring nie, maar enduit aanhou, sal voor God 'n ware wenner wees. Ek sal sorg dat hy langs My op die troon sal sit. (Openb 3:21)

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)