Hoe lyk ons verpakking? As jy 'n produk van die winkelrak afhaal,
word jy dikwels beïnvloed deur die verpakking. Dit werk nie net met
kinders nie, dit werk so vir my en jou ook. Verpakking is 'n baie
groot deel van die sukses van 'n produk. Jy sal waarskynlik nie 'n
deurskynende plastiese sak met waspoeier koop nie - hoe meer
indrukwekkend die verpakking, hoe makliker verkoop dit. Dis 'n
belangrike bemarkings truuk. Net so, het ek en jy ook in ons lewe 'n
balans tussen die inhoud en verpakking van ons lewe nodig… wat aan
die binnekant aangaan wys aan die buitekant. Soms verander ons mos
ons verpakking om by die situasie of die geselskap waarin ons ons
bevind te pas. Wat noem ons dit? Skynheiligheid? Huigelary? Valsheid?
Ons sit mos nie shampoo in 'n hondekos blikkie nie, of polonie in 'n
olieblik nie, of hoe?
As Jesus sê ons liggaam is 'n tempel van God, dan
moet ons produk (die binnekant) by die verpakking (die buitekant)
pas. Voor die dae van karton bokse en weggooibare plastiekbottels,
was produkte soos koffie, tee, koekies ens. in staal blikke verpak.
Jy het dalk nog daar in jou huis so 'n blikkie wat uit jou ouma se
spens gekom het. As jy nou na daardie blikkie kyk, weet jy wat
aanvanklik daarin was.
In Matt 23 vat Jesus die Fariseërs ernstig aan oor
die saak van verpakking:
Matt 23:13-33
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe.
Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil
ingaan.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy
dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle
self is.
"Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is.
Julle sê: 'As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed
gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet
hy die eed nakom.'
Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur
die goud geheilig word?
Julle sê ook: 'As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy
eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed
aflê, moet hy die eed nakom.'
Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar
waardeur die offergawe geheilig word?
Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by
alles wat daarop is.
Wie by die tempel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die tempel en by God
wat daarin woon.
En wie by die hemel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die troon van God
en by God wat daarop sit.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat
volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na:
geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge
moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.
Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle
sluk die kameel in.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar
binne is hulle vol hebsug en onmatigheid.
Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan
sal sy buitekant ook skoon wees.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar
daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.
So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne
is julle vol huigelary en minagting van die wet."
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die
gedenktekens van die vromes,
en julle sê: 'As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou
ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van
die profete nie.'
Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die
moordenaars van die profete.
Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het!
"Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in
die hel?
Sjoe, dit was 'n ernstige gesprek, en ek dink ek is
skuldig aan elke enkele een van die goed waaroor Jesus so driftig
praat. Onthou net, die Fariseërs was nie slegte mense nie,
inteendeel, hulle het baie, baie ywerig die wet onderhou. Hulle was
dus baie gehoorsaam aan die opdragte van God, en hulle verpakking
was perfek. Hulle is uitgeken aan hulle kleredrag. Hulle
godsdienstige uitgangspunt was ook honderd persent in die kol. Hulle
het volgens die wette geleef, dit is al wat hulle op daardie stadium
gehad het. Hulle was ook bekend vir hulle vroomheid en hulle eng
lewenswandel. Hulle het geglo aan die opstanding van die dooies en
aan die ewige lewe, teenoor die Sadduseërs wat nie daaraan geglo het
nie. Hulle verpakking het verseker reg gelyk.
Hoe lyk ons geestelike verpakking?
In Matt 23 raak Jesus ses elemente aan oor die
Fariseërs se geestelike verpakking:
1) (:15) - hulle het mense van God laat wegkeer om
ook soos hulle te word.
2) (:16-22) - hulle laat God se volk blindelings agter tradisies
aanloop, in plaas daarvan om na God se Woord te luister.
3) (:23-24) - hulle raak verstrengel in beuselagtighede, terwyl
geloof, liefde, geregtigheid en genade geïgnoreer word.
4) (:25-26) - hulle doen vroom dinge om die sondes in hulle harte
weg te steek.
5) (:29-36) - hou dinge uit die verlede in stand, maar hulle gedrag
toon dat hulle niks uit die verlede geleer het nie.
Hulle binnekant het nie by die verpakking gepas nie!
En ons, hoe lyk ons verpakking? Ek weet ek is ook skuldig, soos die
Fariseërs … is ons nie ook maar skuldig dat ons ander mense
bombardeer met ons eie oortuiginge nie? Hou ons nie ook maar vas aan
ons ou tradisies nie? Is die metode van doop, nagmaal, kerk toe gaan,
sing, lofprysing, ens. nie dikwels belangriker as 'n verhouding met
God nie? En wie van ons wys openlik ons korruptheid? Vloek by die
werk, maar nie by die kerk, skinder subtiel …. Wit gepleisterde
grafte.
Wat sal moet verander? Die verpakking of die inhoud?
Lyk my al twee. Ons moet só lewe dat ons wys wie ons is. As ons ons
sondes bely - God is getrou om ons te vergewe, en die binne- en
buitekant skoon te was.
Die mens sien die verpakking, maar God sien die
hart. God wil één prentjie sien as Hy na ons kyk.
|