Geld wat stom is
maak reguit wat krom is .... geld soos bossies .... vir geld kan mens die
duiwel laat dans .... waar geld is, wil geld wees .... ‘n plaas se geld
....geld groei nie op ‘n mens se rug nie .... in die geld swem .... geld
in die water gooi .... vir g’n geld ter wêreld nie – dis maar net ‘n
klompie sê-goed oor geld.
Vandag vra ek jou
‘n paar vrae:
-
koop jy soms
iets skelm waarvan jou lewensmaat nie weet nie?
-
koop jy soms
goed wat jy nooit gebruik nie?
-
het jy al
gebid dat jy die lotto moet wen?
-
koop jy soms
sommer enige iets omdat jy gefrustreerd is?
-
gaan koop jy
sommer iets moedswillig as jy kwaad is vir jou eggenoot .... om hom te
“straf”
-
koop jy soms
iets wat jy voor jou siel weet jy nie kan bekostig nie?
-
sukkel jy om
verantwoordelik met geld om te gaan?
-
is koop vir
jou terapie?
Luk 16:10-13
"Wie in die
kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie
in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. As
julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie,
wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? As julle met 'n ander man
se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle
eie te besit? “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want
hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer
oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
Kom ons praat oor
geld, maar onthou: te veel geld, of ‘n gebrek aan geld kwalifiseer of
diskwalifiseer geen mens van die hemel nie. Daar is niks fout met geld
nie, daar is soms fout met ons en hoe ons met geld omgaan.
Ek ken ‘n man, as
hy begin praat, dan gaan dit ALTYD oor geld. Sonder uitsondering. Hy het
hierdie en daardie gekoop, soveel betaal, soveel ge-“score”, so ‘n wins
afgedwing, soveel beding, ens. Boonop voel hy altyd so goed as hy die
ander persoon as’t ware ingedoen het ... dan is hy trots daarop en vertel
dit met smaak oor. Altyd geld, geld, geld, tot vervelens toe. Dit laat my
aan die volgende teks dink:
Spr 20:14
“Sleg! Sleg!” sê die koper, maar as hy weg is, spog hy met sy winskopie
Wanneer die Here
in die Bybel oor geld praat, is dit hoofsaaklik negatief. Miskien is dit
juis omdat dit vir so baie mense ‘n probleem is. Ek kom terug na my vrae
van vroeër:
Gebed oor lotto:
Hoe sou dié gebed
wees: Here, ek het tans ‘n groot geldnood. U weet dit. U is ook ‘n God wat
wil hê dat dit moet goed gaan met U kinders. Here, ek gaan nou geld neem
wat ek nie kan bekostig nie, en ‘n paar lotto kaartjies koop. Vader, U
weet hoe werk die lotto, U weet dat ek net ‘n een uit 14 miljoen kans het
om te wen. Gaan dus nou asb oor die hele land, en neem die geld wat
duisende mense met ‘n valse hoop om die lotto spandeer het, geld wat dalk
brood uit honderde kindertjies se monde gevat het. Neem nou daardie geld,
koppel dit aan my nommer, en gee dit asb vir my, want ek wil graag ‘n
lekker vakansie gaan hou.
Koop jy soms
skelm? Gewoonlik is dit dan ook met geld wat jy nie het nie. Sit jy jou
man, of jou huishouding, onder geweldige finansiële stres? Lê jou eggenoot
wakker oor jou koopdrange? Pleeg jy dalk self-bedrog? Is jy altyd
ontevrede en wil altyd meer en beter hê? Dryf ander mense se welvaart jou
tot armoede? Sit jy dalk jou huwelik op die spel daarvoor?
Het jy dalk al
sover gegaan en geld geneem by die werk? Oppas, jy gaan uitgevang word, en
dan sal tronkstraf jou voorland word.
Kom ons kyk wat
die Bybel oor die onderwerp sê; hier volg ‘n klompie toepaslike
skrifgedeeltes:
Pred 5:9
Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir
wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie.
1 Tim 6:10
Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld
nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself
baie ellende op die hals gehaal.
Spr 17:16
Watter nut het dit as 'n dwaas geld in die hand het om wysheid te koop
en hy het nie verstand nie?
Pred 5:12
Ek het in hierdie wêreld 'n bitter swaar ding gesien: dat 'n man rykdom
opgaar en dit vir hom ellende bring.
Spr 11:28
Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot 'n val; wie reg doen, floreer soos
groen blare aan 'n boom.
Spr 23:5
Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg; dit kry vlerke en
vlieg die lug in soos 'n arend.
Spr 27:24
Rykdom hou nie vir altyd nie; selfs koninklike mag is nie blywend nie.
Spr 28:8
Wie groot rykdom versamel deur mense uit te buit, versamel dit
vir iemand wat hom oor arm mense sal ontferm.
Ek moet sê ek ken baie mense wat regtig
welaf is, wat hulle geld en welvaart baie oordeelkundig aanwend, wat nie
toelaat dat dit hulle lewe oorheers nie; hulle vertrou steeds altyd op die Here. Daar is ook wel mense wat optree asof die Here se versorging
oorbodig raak omdat hulle geld alles vir hulle kan koop en doen. Ek het
ook al welaf mense gesien wat in ‘n kort tydjie alles verloor.
Wat is die slotsom?
Diegene wat wysheid en nederigheid het, kan rykdom hanteer:
Spr 22:4
Wie nederig is, dien die Here en ontvang rykdom, eer en lewe.
Spr 15:6
In die huis van die regverdige is daar groot rykdom; die inkomste van
die goddelose is vir hom tot nadeel.
Spr 3:16
Die wysheid gee met die een hand 'n lang lewe en met die ander rykdom
en eer.
Spr 10:22
Dit is die seën van
die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie.
Spr 14:24
Wyse mense word bekroon met rykdom; die dwaasheid van dwase mense lei
na meer dwaasheid.
Spr 13:25
Die regverdige het meer as genoeg om te eet; goddelose mense bly
honger.
Moenie bid om die
lotto te wen nie – ek glo dit is verkeerd. Bid gereeld vir wysheid, oor
hoe om oordeelkundig met geld te werk. Bid teen enige vorm van gierigheid
of jaloesie op die besittings van ander. Bid dat die Here jou sal leer om
tevrede te wees met wat jy het. Bid dat die Here jou nood sal verlig waar
dit buite jou beheer is. En ja, dis sekerlik nie verkeerd om te vra vir
bietjie “jam” op die brood nie. Bid vir perspektief op rykdom en
besittings. Bid vir ietsie ekstra om vir ander uit te deel.
Bid Spr 30:7-9
Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek
sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie
arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het,
sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en
sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.
|