Sien
hierdie prentjie saam met my: Jou voordeurklokkie lui, jy maak die
deur oop, maar daar is niemand nie. Dan stap jy uit by die deur, en
daar, in jou oprit, staan ‘n bloedrooi, helder blink, splinternuwe
Ferrari 599GTO, met ‘n reuse lint om die motor en ‘n reuse strik op
die dak. Daar is ‘n koevertjie op die lint. En jy dink ... wat op
aarde? Uit nuuskierigheid maak jy die koevert oop en daar is ‘n
klein briefie in met die woorde: “Hierdie is ‘n geskenk aan Willem.
Geniet hom!” Die sleutels is binne-in, tesame met die registrasie
papiere – reeds op jou naam. Wat sal jy dink?
Matt 13:34 Al hierdie dinge het Jesus vir die
mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle
niks geleer nie.
Vandag wil ek ook ‘n gelykenis vertel.... dié een van
die rooi Ferrari: ‘n vergelyking met ons saligheid. Gratis, free en
verniet.
Rom 6:23 Die loon wat die sonde gee, is die dood;
die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons
Here.
Matt 13:44 Met die koninkryk van die hemel gaan
dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer
iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik
is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.
Sal jy kan glo daardie Ferrari behoort aan jou? Of
sal jy ook dink dis te goed om waar te wees? Soos wat ons dink oor
ons Saligheid, wat gratis is... te goed om waar te wees? Dalk glo jy
dat ‘n gratis Ferrari meer waarskynlik is as dat Jesus jou hemelse
prys klaar betaal het? Wie sal tog vir Willempie ‘n Ferrari gee? Ek
verdien dit tog nie. Hoekom sou Jesus vir my sterf? Ek verdien dit
tog nie.
As kind het ek elke jaar met my verjaardag én vir
Kersfees ‘n geskenk gekry. Ek het nooit vir my ma-hulle gevra
hoeveel ek daarvoor moet betaal nie; ek het hulle integriteit genoeg
vertrou om te weet dat hulle nie later van plan sou verander nie.
Joh 6:46 Dit verseker Ek
julle, wie in My glo, het die ewige lewe.
PUNT. Die briefie op die rooi Ferrari: hierdie
Italiaanse monster behoort nou aan my. Punt.
Baie belangrik is egter om te besef dat saam met die
rooi Ferrari kom ‘n geweldige groot stuk verantwoordelikheid. Dis
nie sommer vir: dé, kry vir jou nie. Om so 'n motor, wat so geweldig
kosbaar is, te besit en te onderhou vra baie. Bekering is die begin
van ‘n ongelooflike journey, maar dit vra ook ‘n prys.
-
Voordat jy die pad met jou rooi skip aandurf, haal jy eers
daardie handleiding uit, wat vir jou presies vertel hoe alles
werk. Al die moets en moenies, voorwaardes, verduidelikings,
alles wat jy nodig het om die beste daarvan te kan geniet. So
gee die Here vir ons die Bybel, sodat ons kan weet presies wat
dit behels om die weg na Saligheid te bewandel.
-
‘n R4 miljoen Ferrari is baie
gevaarlik in die hande van ‘n 18-jarige laaitie. Of liewer, dit
kan wees. Jy weet mos hoe gevaarlik ‘n nuwe bekeerling kan wees,
of hoe? Was jy ook daar? Raak dinge kwyt, wil die wêreld omkeer,
wil net bestraf, uitdryf, bebid, bepreek.... maar weet self nog
maar min. 1 Kor 3:2
Ek het julle met melk gevoed, nie
met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie.
Spring
maar eerder stadig weg met daardie rooi Ferrari. ‘n Nuwe
bekeerling weet nie skielik alles nie, inteendeel! Wees maar
eers versigtig.
-
Jy
kry dalk ‘n lewenslange onderhoudsplan saam met jou Ferrari,
maar as jy hom nie diens nie, gaan daai plan jou niks help nie.
Die inisiatief lê by my en jou om ons Christen-lewenspad in
stand te hou. Heb 10:25 Ons moenie van die samekomste van die
gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar
eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate
julle die oordeelsdag sien nader kom. Dit behels meer as net
kerk toe gaan. As ek en jy ons Ferrari afskeep, gaan jy hom nie
lank ry nie. Hang van jou af...
-
As
jy die Ferrari se waarde besef, en dit nie sommer net so weer
wil verloor nie, moet jy hom verseker. Jy sien, as iemand hom
vir jou skenk, het iemand daarvoor betaal. Met ‘n R4 miljoen
pryskaartjie, het jy ‘n baie waardevolle item! Wat het jou
Saligheid gekos? R4 miljoen is grondboontjies! Dit het ‘n léwe
gekos. Bloed, duur, kosbare bloed. My en jou versekering is die
inwoning van die Heilige Gees. 1 Kor 4:14 Die mens wat nie
die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van
God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie,
omdat dit geestelik beoordeel moet word. Baie mense klink
baie geestelik, maar dis soms leë doppe. Soos ‘n bloedrooi
Ferrari sonder ‘n enjin. Mooi van buite, maar leeg binne.
-
Daai rooi Ferrari gaan jy wraggies moet oppas, want ander gaan
hom wil steel. Joh 10:10 'n Dief kom net steel en slag en
uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in
oorvloed. Boeta, stop met daai rooi vuurwa op die verkeerde
plek, los sommer roekeloos die deur oop, en sommer so
traak-my-nie-agtig die sleutel in hom, en hy is weg sodra jy jou
rug draai. Die Here sê vir jou vandag: moenie ‘n opening in jou
lewe los vir daardie dief nie, hy sal inkom en steel en verwoes.
Staan die duiwel teë en hy sal van jou af wegvlug. (Jak 4:7)
-
Die rooi kar het baie vermoëns. Hy
is vinnig, en hy het pad hou vermoë, maar moenie hom op die
verkeerde plek gebruik nie. ‘n Klein Toyota RAV 4X4 kan op
plekke ry waar die Ferrari nie kan nie. Moenie in die gemors
gaan ploeter nie. Luister maar vir sy ingeboude GPS. Ons GPS sê:
Jes 30:21 Wanneer jy die
regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: Hier is
die pad, loop hierlangs.
-
As jy die Ferrari op die regte
plek gebruik, is hy tot baie in staat. Hy is veilig, is luuks,
is kwaliteit. Fil 4:13
Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
As bevrydes, wedergeborenes kan ons baie meer vermag
as ander mense. Ons het krag wat skrik vir niks. Geniet jou geskenk,
maar weet dat dit groot verantwoordelikheid vra.
|