GENESING


Ons kyk vandag na genesing. Ek weet nie of ek dit pertinent geloofsgenesing moet noem nie, want ek glo alle genesing kom in elk geval van God af.

Luk 8 : 40 - 48 Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. 41 Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, 42 want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. 43 Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. 44 Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: 45 Wie het My aangeraak? Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U. 46 Maar Jesus sê: Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het. 47 Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48 Toe sê Hy: Dogter, jou geloof het jou gered Gaan in vrede!

Dogter, jou geloof het jou gered. Ons lees hier van 'n vrou wat absoluut desperaat was om genees te raak. Die gedeelte wat my egter baie ernstig opval, is waar Jesus sê: "Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het." Ons lees so baie van "bonatuurlike" genesing in die Bybel, dat daar geen twyfel is dat Jesus op wonderbaarlike maniere kan werk nie. As jy in die Nuwe Testament lees, sal jy sien dat elke enkele persoon wat Jesus aangeraak het om hulle te genees, gesond geword het. Onthou jy: "Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom" Jes 53 : 5. Ek is ook seker dat jy al baie mense ontmoet het wat bonatuurlik genees is.

Maar, werk dit vandag nog so? Kan ons per definisie daarop aanspraak maak? Word almal gesond vir wie daar gebid word? En wat van die mediese wetenskap?

Matt 8 : 2 "'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: "Here, as U wil, kan U my gesond maak". Toe steek Jesus Sy hand uit, raak hom aan en sê, "Ek wil, word gesond". En sy melaatsheid was onmiddellik weg."

Ons lees in Matt 8 : 14 van Petrus se skoonma se genesing. Sjoe, dit lyk my Petrus was 'n goeie skoonseun. Dit lyk of hy dit gereël het. In Handelinge lees ons dat as Petrus-hulle se skaduwee oor iemand geval het, of as van hulle klere op siekes gelê is, het hulle gesond geword. Hand 5 : 16 sê: "hulle is almal gesond gemaak!"

Inderdaad wonderlike dinge wat gebeur het.

Natuurlik kan ek en jy die Here vra om dieselfde vir ons te doen.

Mark 2 : 1 - 5 Toe Jesus ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is. 2 Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie. Hy was besig om met hulle oor sy boodskap te praat. 3 Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. 4 Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle 'n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. 5 Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Vriend, jou sondes word vergewe!

Toe Jesus hulle (die vriende) se geloof sien, sê Hy vir die verlamde: "Vriend, jou sondes word vergewe". In vers 12 sien ons dan ook dat die persoon genees word. Jesus genees die persoon op grond van ander se geloof.

As ons na Jesus se wonderwerke kyk, sien ons dat Hy net sommige aangeraak het, by party glad nie teenwoordig was nie, met party net gepraat het, en in een geval met spuug in die grond "medisyne" gemaak het, en aan die persoon se oë gesmeer het. Daar is 'n liedjie wat lui: "The Gentle Healer came into our town today". Nogal wonderlik, dat Jesus geen sieke verby gegaan het nie. En so wil Hy ook hê dat jy heel moet wees, en genees moet wees.

Kan ek en jy vandag vir die Here vra vir genesing? Verseker, maar kom ons kyk na 'n paar praktiese punte.

Jak 5 : 14 "As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here".

Uit die bogenoemde skrifgedeeltes:

1. Die sieke moet wil genees word, en die aksie begin met “die ouderlinge laat kom". 
2. Dit is 'n saak van onwrikbare geloof, bv. die vrou met bloedvloeiing. 
3. Ons moet vir die Here vra daarvoor en Hom aanroep. 
4. Jesus het dikwels 'n aksie gevra, bv. Mark 3 : 5 "Steek jou hand uit". 
5. Ons lees dikwels dat Jesus eers sê: "Jou sondes word vergewe" en "jou geloof het jou gered", voor Hy genesing laat plaasvind het. Ons lees dus nie net van fisiese genesing nie, maar ook geestelike genesing. 
6. Ons kan ook intree vir ander se siektes. Bv. die man wat deur die dak laat sak is.

Kom ons kyk net na 'n ander faset:

1. As ons genesing van die Here vra, het ons sekerlik self ook 'n verantwoordelikheid wat ons moet nakom. As ons 'n toestand oor onsself bring wat ons liggaam benadeel, moet ons sekerlik dit stop voor ons vir genesing bid, of hoe? Ek is seker jy kan dink aan 'n paar elemente waarna ek nou verwys?
2. As kossoorte, alkohol, rook, chemiese middels, of wat ook al, jou siek maak, staak dit! Dalk het jy rugpyn elke oggend, maar jou bed lyk soos 'n kano - kry 'n ander bed! So is daar seker baie dinge wat ons kan noem. 
3. Dalk moet jy vir 'n operasie gaan om iets te laat herstel, of tandarts toe vir 'n seer tand. Doen dit, moenie uitstel nie! Iemand het gesê, "'n Dokter, of die mediese wetenskap kan jou net help om die liggaam tot sy geskape posisie terug te bring, maar die genesing kom steeds van God af".

So, moenie net jou pille weggooi nie, drink dit, maar doen wat jy ook al moet doen van jou kant af. Oefen, dieet, wat ook al nodig is en raak tog van die ewige stres ontslae, dan is jy sommer 50% beter af en gesonder.

Miskien is jy egter reeds deur al hierdie stappe en nog nie gesond nie. Kom ons vra die Here weereens. Dalk besluit Hy om Sy hand van genade oor jou uit te steek.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)