GOD IS 'N SOEWEREINE GOD


Wat is die verhouding tussen die mens en God? Wat was die Here se bedoeling toe Hy die mens geskep het? Wat is die posisie van die mens en wie is die Here? Ons sê God is 'n soewereine God. Hy is wat Sy Naam sê - God. Die Allerhoogste, die Oppergesag, die Koning van die heelal, die enigste God. En waar kom Hy vandaan? Gen 1 : 1
"In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef."

Gen 1 : 1 praat baie duidelik van God as die Skepper. Ons lees dat God reeds voor die skepping was. Tydloos. Hy was nog altyd gewees. Ons kan nie tyd aan Sy bestaan koppel nie, want Hy het tyd ook geskep.

Job 36 : 26 "God is groot, ons kan Sy grootheid nie begryp nie, Sy jare kan nie bereken word nie". Is dit nie 'n aangrypende teks nie. Sy jare kan nie bereken word nie. Hy was, Hy is, en Hy sal altyd wees. En wie sê God, is Hy, wat sê Hy oor Homself?

Eks 3 : 12 - 15
12 God het Moses geantwoord: "Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid."
13 Daarna sê Moses vir God: "Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: 'Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,' en hulle vra vir my: 'Wat is sy Naam?' wat moet ek dan vir hulle sê?"
14 Toe sê God vir Moses: "Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: 'Ek is' het my na julle toe gestuur."

Ek is. Sjoe, hoeveel mag, en krag en beskrywing lê nie in hierdie twee woorde nie. Ek is...  Eintlik sê dit God is onbeskryflik, geen woorde kan Hom omskryf nie.

God is 'n soewereine God. Maar wie is die mens?

Gen 1 : 26 - 28
26 Toe het God gesê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip."
27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
28 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip."

Kom Ons (meervoud, dui op die Drie-eenheid) maak die mens as Ons verteenwoordiger. So, wie is die mens? Die verteenwoordiger (die rep). Wat is die funksie van 'n verteenwoordiger?

'n Verteenwoordiger:
1. is ondergeskik aan sy meerdere (werkgewer);
2. dra die beeld van die maatskappy;
3. promoveer die produk van die maatskappy;
4. tree op as 'n ambassadeur;
5. doen wat hy gesê word om te doen;
6. is lojaal aan sy maatskappy;
7. hy probeer nie groter wees as die maatskappy nie.

Dis die funksie van 'n verteenwoordiger. En so is ons verteenwoordigers van hierdie Goddelike maatskappy. Dit is God se bedoeling. Dat ons op dieselfde manier hierdie lojaliteit teenoor ons Oppergesag sal handhaaf en uitleef. In die Psalms sê die Here, "Ek het die mens geskep as iets duskant 'n hemelse wese".

Inderdaad is die mens nie sommer as 'n hierjy geskep nie. In Genesis staan daar dat die mens geskep is om te heers oor die aarde. Maar die mens moet sy plek ken. Toe satan (wat 'n engel was), in opstand kom teen God, is hy en 'n derde van die engele (saam met hom) uit die hemel gewerp. Dit lyk vir my mens speel nie met God nie.

Het jy al gehoor iemand sê "Ek is kwaad vir God"? Sjoe! Vir my is dit 'n gevaarlike stelling. Dit lyk vir my dit raak deesdae mode om vir God kwaad te wees. So asof Hy gesondig het, of ons benadeel het, asof Hy moedswillig is. My vriend, kom ons speel nie satan se speletjies nie. Hierdie God is 'n soewereine God.

Job 36 : 23 "Wie kan van Hom rekenskap eis oor sy dade? Wie kan sê "U het verkeerd gedoen?"

Job 39 : 35 "Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys?"

Job 41 : 1b - 2 "Wie wil dan nog teen My standhou? Wie wil aan My eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My." Ook ek en jy.

Jes 45 : 11 "Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur? Durf julle aan My voorskryf oor my kinders en oor die werk van My hande?"

Jes 10 : 15 "Kan 'n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag? Kan 'n stok die een swaai wat hom optel? Kan 'n lat die een oplig wat hom gebruik?"

Jes 55 : 8 - 9 "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes."

En nou vra ek: Wie is ons dat ons onsself so belangrik ag dat ons hierdie soewereine God bevraagteken, of aanval, of skuldig maak aan iets? Kom ons doen dit nie!

Miskien het hierdie klomp tekste 'n harde beeld voorgestel van 'n liefdevolle God. Ek dink egter, dit gee 'n beeld van God se soewereiniteit. Dit is so dat moeilike dinge met ons gebeur, maar God bly in beheer.

Jes 45 : 7 "Ek is die Here, daar is geen ander nie. Ek maak die lig en skep die donker, Ek gee voorspoed; en skep rampspoed."

Maar hierdie soewereine God het 'n saak met die mens. Hy is lief vir die mens, en sy bedoelinge is net goed. Al bevraagteken ons dit soms. Al verstaan ons dit nie. Want as Hy nie groter as die mens is nie, hoe sal ons by Hom gaan skuil? In wie se liefdevolle arms sal ons dan vasgehou kan word in moeilike tye? Wie sal ons kan verlos en beskerm en krag gee as ons onsself groter as Hom ag? Waar sal my hulp vandaan kom? Hierdie God is liefde.

1 Joh 4 : 7 - 8 "Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde." God is liefde, dis Sy wese.

Ons kan vir God vrae vra, maar ons kan Hom nie bevraagteken nie. Ons mag dalk nie alles verstaan wat gebeur nie, maar ons kan nie so arrogant wees om ons woede teen God te laat ontvlam nie. Hy doen wat Hy wil, maar tog het Hy die beste vir ons in gedagte. Miskien verstaan ons nie nou nie, maar eendag sal ons. Hy is getrou, want Hy is liefde.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)