Ons
lewenstrein spoed elke dag volstoom voort, en saam met dit kom
die gewone daaglikse bekommernisse. En ons moet bo bly. Kom ons
wees maar eerlik met mekaar, tye raak sekerlik moeiliker, ons dink
terug aan vroeër dae en sê so maklik: ai, was dit maar nog die goeie
ou dae. Ek dink ons almal voel maar dat die druk vandag groter is as
ooit tevore, en min mense sien regtig lig in die tonnel.
Nou ja, 20 jaar gelede was ons baie ongemaklik met
die regering van die dag, en nou verlang ons terug daarna. Jy sien,
die fout wat ons net maak, is dat dit niks nuut is nie. Daar staan
in Prediker, "daar is niks nuut nie, alles wat is, was reeds gewees."
Alles wat nou gebeur, het al vroeër gebeur. Ons word vasgevang in
omstandighede en verlang terug na die verlede, maar eintlik is dit
nie regtig die rede hoekom ons voel soos ons voel nie. Die rede vir
hoe ons voel, is meer te wyte aan die feit dat die gemiddelde
persoon nie hou van verandering nie. Dit bring onsekerheid.
Klaagliedere 5.
1 Slaan tog ag op wat oor ons gekom het,
Here, kyk tog en sien self hoe ons verneder is.
2 Ons besittings is gevat en aan vreemdes gegee, ons huise aan
uitlanders.
3 Ons het weeskinders geword, daar is nie vaders nie, ons moeders is
soos weduwees.
4 Ons moet ons eie drinkwater koop, vir ons eie hout moet ons betaal.
5 Ons word gedryf deur ons oorheersers, ons is uitgeput, ons word
geen rus gegun nie.
6 Ons het ons hande uitgesteek na Egipte en na Assirië om by hulle
kos te bedel.
7 Ons vaders het gesondig, maar hulle is nie meer daar nie, ons word
gestraf vir hulle sondes.
8 Ondergeskiktes heers nou oor ons, en niemand kan ons uit hulle mag
red nie.
9 Met lewensgevaar moet ons vir ons gaan kos haal, want in die veld
word ons doodgemaak.
10 Ons vel verskrompel soos iets in 'n oond vanweë die verterende
honger.
11 Vrouens is in Sion verkrag, en jong meisies in die stede van Juda.
12 Leiers is gevat en opgehang, oumense word met minagting behandel.
13 Jongmanne word gedwing om maalwerk te doen, jong seuns struikel
onder vragte hout.
14 Die oumense sit nie meer in die poorte van die stad nie en die
jongmanne maak nie meer daar musiek nie.
15 Vrolikheid het uit ons lewe verdwyn, ons koordanse het plek
gemaak vir rou.
16 Ons het ons aansien verloor, daar het ellende oor ons gekom, want
ons het sonde gedoen!
17 Dit is die rede vir ons droefheid, vir die swart kringe om ons
oë:
18 Sionsberg lê so verlate, die jakkalse loop daar rond.
19 Maar Ú, Here, U heers vir altyd, u troon staan vas van geslag tot
geslag.
20 Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat?
21 Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer
die bestaan van vroeër.
22 Of het U ons heeltemal verwerp? Is u toorn oor ons so groot?
Klink dit nie vir jou bekend nie?
Klaagliedere 5 het regtig vir my gewys dat die
verlede homself herhaal. Ek wonder egter soms of dit wel die geval
is. Raak dinge al hoe slegter en slegter? Of kom daar beter tye
tussenin. Wel, die vraag is, is dit regtig so sleg, of is dit net
hoe ons reageer op omstandighede? En nog 'n groter vraag is: Waar is
die Here in hierdie prentjie? Wel, die antwoord op laasgenoemde
vraag is eenvoudig. Die Here is steeds op Sy troon, en Hy heers nog
steeds oor die heelal, en Hy is nog steeds ten volle in beheer, en
Hy het nog steeds nie van my en jou vergeet nie.
Die Bybel is so vol beloftes! Daar word meer gesê in
die Bybel dat God jou sal beskerm in moeilike omstandighede, as teen
moeilike omstandighede. En al verstaan ons dit nie altyd nie, is God
ook in beheer ten spyte van slegte dinge wat op jou pad kom. Jy sien,
ek dink nie ons omstandighede is die slegste in die wêreld nie. Die
Here vra vir ons om roekeloos op Hom te vertrou.
Klaagliedere 3 : 31 - 33
31 Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd
nie;
32 as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer,
want sy liefde is groot:
33 dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.
Al is jou situasie vandag baie sleg, ek vertrou op 'n
God wat jou omstandighede in 'n oogwink kan verander. Ek ken baie
mense wat daarvan kan getuig. Ken jy nie ook baie mense wat uit die
"gutters" opgestaan het nie? Ten spyte van hulle verlede, trauma,
rampe, siekte, ens. Niks is buite God se beheer nie, al tree ons so
dikwels buite sy wil op.
Ek glo dat baie omstandighede dramaties kan verander
met 'n positiewe ingesteldheid. Ja, 'n ander ingesteldheid kan berge
versit. Met hierdie stelling probeer ek nie sê dat ons maar so
kop-in-die-sand houding soos 'n volstruis moet inneem nie. Nee, ek
praat van vertroue op die Here.
Ps 118
1 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy
liefde is daar geen einde nie!
2 Israel moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen einde nie."
3 Die huis van Aäron moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen einde
nie."
4 Dié wat die Here dien, moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen
einde nie."
5 In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed
verhoor en my bevry.
6 Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my
doen?
7 Die Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat.
8 Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.
9 Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou.
10 Nasies het van alle kante af op my afgestorm. In die Naam van die
Here het ek hulle aanval afgeslaan.
11 Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm. In die Naam van
die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
12 Hulle het soos bye om my gepak, maar hulle het verdwyn soos
doringtakke in 'n vuur. In die Naam van die Here het ek hulle aanval
afgeslaan.
13 My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here
het my gehelp.
14 Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het!
15 Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: "Die Here doen
kragtige dade,
16 die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!"
17 Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here
getuig.
18 Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee
nie.
19 Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.
20 Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur
ingaan.
21 Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het.
22 Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die
belangrikste klip in die gebou geword.
23 Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë!
24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en
bly wees.
25 Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here!
26 Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Ons seën julle uit die
huis van die Here.
27 Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met
takke! Gaan tot by die horings van die altaar.
28 U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.
29 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde
nie.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie. Wat moet die
Here nog doen om vir ons te wys dat Hy in beheer is. Hoeveel mense
moet nog wonderbaarlik genees, hoeveel seëninge moet nog op ons pad
kom voor ons gaan begin rustig raak oor omstandighede?
Vers 27 "Die Here is God, Hy
skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die
horings van die altaar."
Hoe ongelooflik beeld die Psalm skrywer nie hier iets
uit van vertroue nie. Jy sien, in een Psalm vra hy vir uitkoms, en
dan dank Hy die Here in dieselfde asem.
Die Here vra van ons volgehoue vertroue, ten spyte
van wat ook al. En Hy is daar, ten spyte van wat ook al. As jy wil
kyk na mense wat dit regtig sleg gehad het, lees net die Bybel. En
as jy bewyse soek van wonderwerke ten spyte van baie slegte
situasies, kyk net om jou. Lees gerus ook weer Job se verhaal. Ons
God is 'n God van uitkomste, Hy het medelye met ons, en Hy wys vir
ons die pad.
Job 41 : 1 - 2
1 Hy is wreed as jy hom wakker maak. "Wie
wil dan nog teen Mý standhou?
2 Wie wil aan My eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles
onder die hemel behoort aan My
Dit is ons God, Hy hoef nie iets aan ons te
verduidelik nie. Hy is soewerein. Maar Hy is ook 'n God van liefde.
Kom ons hou net aan Hom vas vir uitkomste.
|