Het
jy al God se stem gehoor? Het jy al ervaar dat God met jou praat? Om
vir jou 'n spesifieke woord, of opdrag, of 'n woord van bemoediging
te gee? Ek is seker dat ons almal sekerlik op een of ander manier
God se stem gehoor het. En ek is seker ons almal smag daarna dat die
Here spesifiek met ons praat. Wel, dit gebeur, en dis reg so. God
praat met Sy kinders. Op verskillende maniere. Baie mense smag
daarna om God se stem te hoor, daarom lees hulle geestelike boeke,
luister na geestelike programme, ens. Ek het bietjie op die internet
gesoek na artikels oor hoe om God se stem te hoor. Daar is baie
mense wat probeer voorskryf "hoe"; ek het selfs een gevind wat sê:
"three steps to hear God's voice - guaranteed".... en dan moet jy
betaal om dié drie stappe uit te vind!
Ek wil eers vir jou 'n paar vrae vra:- Hoekom wil jy
God se stem hoor? Wat wil jy hoor? Wat moet Hy vir jou sê? Waaroor
moet Hy met jou praat? Wat is ek en jy bereid om te doen met dit wat
Hy vir ons wil sê? Ongelukkig is dit so dat ons soms net wil hoor
wat ons pas. En nog meer, soms soek ons so 'n bietjie
toekomsvoorspelling sodat die Here vir ons kan vertel dat daar
lekker voorspoed wag, en dalk op die koop toe so 'n bietjie
finansiële gewin. Dan gaan klop mense sommer maklik by sogenaamde
profete aan as die Here nie gou genoeg met hulle persoonlik praat
nie.
Jer 23 : 16 - 17
16 So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die
profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle
wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle
self uitdink, nie oor wat die Here sê nie.
17 Hulle hou aan om vir dié wat My minag, te sê: "Die Here sê daar
sal vrede vir julle wees." Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle: "Daar
sal nie 'n ramp oor julle kom nie."
Moeilike een dié. Oppas, baie mense vertel maklik
stories wat hulle self opdis. Alles wat mense sê, kom nie noodwendig
van die Here af nie. As iemand iets in die Naam van die Here sê, vra
eers "Sê wie?"
Hoe kan ons die stem van die Here hoor? Kom ons kyk
so bietjie terug in die geskiedenis hoe God met Moses gepraat het.
Eks 3 : 1 - 6
1 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van
Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag
totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.
2 Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n
doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand,
maar nie uitbrand nie.
3 En Moses sê vir homself: "Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om
hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos
dan nie uit nie?"
4 Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit
die doringbos: "Moses! Moses!" En hy antwoord: "Hier is ek."
5 Die Here sê toe vir hom: "Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou
skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond."
6 Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van
Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Toe maak Moses sy
gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.
'n Baie, baie spesiale en gewyde oomblik toe God met
Moses praat. Stem jy saam dat dit 'n baie besondere en heilige
oomblik was? Nie sommer so in die 'stride' nie? As ons die Here se
stem wil hoor, kan ons verwag dat God met ons moet praat soos met
Moses? Kom ons ontleed dit so bietjie:-
1. God praat op Sy tyd, Sy metode en Sy terme met
Moses. Hy het besluit wanneer Hy met Moses gaan praat. Dit is God se
inisiatief, en Sy besluit.
2. Hy verskyn op 'n bonatuurlike manier aan Moses, in 'n bos wat nie
uitbrand nie.
3. Hy sê vir Moses: "Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy
staan, is gewyde grond". Sien jy dat dit 'n absolute heilige oomblik
is? Nie sommer so "skreeu oor die draad" gesprek nie.
4. Hy openbaar Homself baie baie duidelik aan Moses. "Ek is die God
van jou voorvaders, Abraham, Isak, Jakob." Daar is nie twyfel oor
wie dit is wat praat nie.
5. Moses beleef die oomblik so intens dat hy sy gesig moes toemaak.
Inderdaad, dit lyk of 'n ontmoeting met die Oppermagtige God 'n
baie, baie spesiale oomblik is. En toe gee God vir Moses boonop 'n
opdrag waarvoor hy nie baie lus was nie. Hy het God se stem gehoor,
maar wou nie doen wat God sê nie.
Toe Jesus sterf het die voorhangsel geskeur, en het ons deur Hom
vrye toegang na die Allerheiligste toe. Daar is nou 'n reguit, oop
kommunikasielyn na God toe. Dit is nie meer nodig om deur die
profeet te gaan nie.
Kan ons vandag God se stem hoor? Ja, verseker! Ek
vra net: Is jy bereid om God se opdragte uit te voer wat Hy aan jou
openbaar? Het die woorde: "En toe sê die Here vir my", nie dalk so
bietjie goedkoop geword nie? Ons hoor dit deesdae nogal baie. Klink
nogal goed en spesiaal. Maar kom dit regtig van die Here af? My
vriend, moet nooit die Here aanhaal vir iets wat Hy nie gesê het
nie!
Hoe hoor ons Sy stem?
· Soms in 'n gedagte wat by jou opkom wat maar net
nie wil weggaan nie. En soms word dit op verskeie maniere bevestig.
· Soms onder gebed. Wanneer jy 'n gewaarwording kry wat net
bonatuurlik sin maak.
· Soms deur eksterne situasies. Iets wat iemand sê, of 'n insident
wat sterk aanhaak by dinge waaroor jy in elk geval wonder of tob.
· Soms deur iets wat iemand sê. Partykeer praat die Here met jou
deur die oop- en toemaak van deure.
· Verseker deur gesigte, of drome en visioene. Gebeur definitief
vandag.
· Baie keer deur 'n preek, of iets wat jy lees, of deur iemand
anders se gebed.
· En dan natuurlik - deur Sy Woord.
Hoe praat Hy deur Sy Woord? Wel, jy moet dit lees.
Die grootste geheim! Iemand sê eendag vir 'n ds: "Ek staan op die
Woord". Toe sê die ds: "Klim af en lees dit".
Probeer bietjie hierdie:-
Neem in jou stiltetyd 'n gedeelte in die Bybel. Nie
'n lang stuk soos 'n hoofstuk nie, net 'n paar verse. Lees die stuk
so drie keer stadig deur, sonder om dit te probeer verklaar, of
selfs om die presiese konteks te verstaan. Neem dan 'n pen en 'n
notaboek en vra jouself die vraag:- Wat wil die Here VANDAG vir MY
deur hierdie gedeelte sê. Begin om die gedagtes wat in jou kop opkom
neer te skryf. Lees die stuk weer, bid dat die Here vir jou dit sal
oopbreek, en wees bereid om alles te doen wat God dalk vir jou mag
sê. Skryf in ek-taal, bv. die Here vra vandag vir my of ek Hom
waarlik lief het. Gaan lees dan agterna 'n paar keer wat jy geskryf
het. Jy gaan nogal verstom staan hoe die Here met jou praat.
Jy sien, die Here praat op baie maniere met mense,
maar ons moet soms gaan toets of dit regtig Sy stem is wat ons
gehoor het. Hoe weet ek dit is God se stem? Toets dit aan die woord,
God sal nooit iets sê wat in stryd is met Sy Woord nie. As dit jou
lei in 'n dieper verhouding met Hom, na meer liefde vir Hom en vir
ander dan is dit Sy stem. As dit jou hart sagter maak vir ander, en
nie net oor jou eie belange en welstand gaan nie, is dit Sy stem.
Onthou:
1. Soms, moet ons wag! Wees geduldig om God se stem te hoor!
2. Mens kan die beste hoor as jy doodstil bly. Wag dikwels in stilte
op die Here.
3. Wees bereid om God se antwoord op 'n versoek te aanvaar. Soms sê
Hy nee!
4. Gaan doen wat Hy sê jy moet doen!
5. Om met die Oppermagtige God in gesprek te wees, is 'n heilige
oomblik!
Lees hier meer oor dié onderwerp
>>
|