Ons
het so 'n paar weke gelede gepraat oor Satan en hoe hy vir Jesus in
die woestyn versoek het. Vandag praat ons so bietjie meer oor hom en
sy werkswyses, sonder om nou te veel aandag aan hom te gee. Ek dink
egter dis nogal nodig om wel te besin oor waar ons met hom staan.
Aan die een kant kan ons sê dat Jesus hom klaar oorwin het aan die
kruis, hy is in elk geval uit die hemel uitgewerp, ons hoef hom
teoreties nie te vrees nie, maar tog ....
1 Petr 5 : 8 - 11
8 Wees nugter, wees wakker! Julle vyand,
die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om
te verslind.
9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet
nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort
lyding verduur.
10 God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus
Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n
kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en
standvastig maak.
11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.
Petrus kom en herinner ons net so kortliks dat satan
steeds in aksie is. Daarom is dit nodig dat ons bietjie praat oor
God se weermag, waarvan ons natuurlik soldate is. Ons is deel van
hierdie mag om die vyand op sy plek te hou. Met die oog op die feit
dat satan oorwin is, is die vraag dan seker: wie is die vyand?
Ek het 'n paar mense gevra wat hulle mening hieroor
is, en die volgende punte vat alles so min of meer saam:
1. Satan - uit die aard van die saak. Die Bybel sê
ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte
in die lug. Verder
2. Alles en almal wat teen Christus opstaan.
3. Die wêreld met sy ongeregtigheid.
4. Baie interessante mening van iemand was, soms is onsself ons eie
vyand. My nogal laat dink. Eendag het iemand gesê dat die Christene
nogal 'n eienaardige weermag is - ons skiet ons eie soldate. Skinder,
verneuk, swartsmeer, ondergrawe, ens.
Wat sê jy - wie is die vyand?
Ons is God se weermag. Hoe lyk 'n weermag? Nou ja, as
jy om 'n braaivleisvuur begin gesels, kom die gesprek sommer gou by
diensplig uit. Hoe weet jy iemand was in die weermag? Hy vertel dit
vir jou - sonder dat jy hom gevra het. Ja - ek was ook daar. Twee
jaar. 'n Goeie weermag dek alle fronte. See, land en lug. Jy wil
seker maak dat die vyand jou nie verras nie. Jy konsentreer die
hardste op die plek waar jy die kwesbaarste is. 'n Land sonder 'n
kuslyn hoef nie te veel daaroor bekommerd te wees nie. Net so moet
ons as God se weermag alle fronte dek. Hierdie is nogal moeilik,
want die vyand kom slaan ons daar waar ons dit die minste verwag.
Dit is belangrik dat ons die vyand moet ken, meer daaroor netnou. 'n
Goeie weermag het 'n goeie bevelstruktuur, wat gesag afdwing. God is
die hoogste gesag, en as ons nie onsself ten volle aan hierdie gesag
onderwerp nie, is ons soos 'n weermag sonder 'n bevelvoerder.
'n Goeie weermag het goeie wapens, en ken sy
slaankrag, en weet voor die tyd of hy 'n goeie kans het. Nou ja, ons
kan sê ons het nie 'n probleem nie, want Gideon het met 300 ouens 'n
groot stryd gewen, maar dis nie altyd so maklik nie. Ons grootste
wapen is die Woord van God - die Bybel - maar hoe goed ken ons dit?
Hoeveel lees en bestudeer ons dit? Stefan Joubert sê, 'n vrou sê
eendag vir hom: Ds, ek staan op die Woord. Toe sê hy - klim eerder
af en lees dit. 'n Goeie arsenaal wapens beteken niks as dit in die
stoor staan en stof opgaar nie.
Die belangrikste punt vir 'n weermag is: Ken die
vyand. Weet wie dit is.
1 Joh 2 : 18 - 27
18 Kinders, dit is die laaste uur. Julle
het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie
antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.
19 Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle
was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was,
sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van
hulle werklik een van ons is nie.
20 Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal
die waarheid.
21 Ek skrywe nie vir julle omdat julle nie die waarheid sou ken nie,
maar juis omdat julle dit ken en weet dat daar geen leuen uit die
waarheid voortkom nie.
22 Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus
werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die
Vader en die Seun wil erken nie.
23 Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun
erken, erken ook die Vader.
24 Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in
julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly,
sal julle ook in die Seun en in die Vader bly.
25 En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.
26 Dit het ek aan julle geskrywe oor die mense wat vir julle wil
mislei.
27 Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly
in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy
Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen
leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.
Hy is die antichris. Nie net die satan nie. Ook dié
wat Jesus nie erken nie. Dis die vyand. En ja, Christus het aan die
kruis gesterf en die satan is oorwin, maar net vir dié wat in
Christus is.
Wat is die vyand se taktiek?
1. Téén inligting. In die weermag kry jy afdelings
wat spesialiseer in teen inligting. Jy gee die verkeerde inligting
so deur dat die vyand dit so half per ongeluk optel, en dan gebruik
jy dit teen hom. So kom die satan - en hy is 'n meester in teen
inligting. Sommer in die paradys kom hy en vertel vir Eva dat God
nie regtig ernstig was met sy opdragte nie. Vandag kom hy en oortuig
ons dat ons nie nodig het om goed te doen nie. Los die goeie dade,
want geloof is mos al wat nodig is. Ja, dis waar, maar in dieselfde
Bybel is 'n boek met die naam Jakobus en daarin staan: geloof sonder
dade is dood. Ander vals inligting is: ons hoef nie by 'n
geloofsgemeenskap in te skakel nie, want kerk toe gaan red jou tog
nie. Ag, en God is nie uniek nie, alle gode is tog maar een.
2. Gorilla oorlogvoering. Slaan en hardloop weg. Die duiwel is goed
daarin. Slaan ons kinders op maniere wat so onskuldig lyk. TV
programme, media, ens, ens.
3. Sonde is nie so erg nie, want wat is daar om te vergewe as ons
nie sonde doen nie. Nee jong, hierdie vyand is baie subtiel.
Hoe lyk die wapens van God se weermag?
Efes 6 : 10 - 20
10 Verder nog dit: Soek julle krag in die
Here en in sy groot mag.
11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op
julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.
12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en
gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen
elke bose gees in die lug.
13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat
julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die
stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.
14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om
julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,
15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as
skoene aan die voete.
16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want
daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.
17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is
die woord van God.
18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die
Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.
19 Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek
die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.
20 Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat
ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.
1. Die gordel - die waarheid.
2. Die Borsharnas - God se vryspraak
3. Skoene - Die Evangelie verkondig!
4. Skild - Die geloof, brand pyle afweer.
5. Helm - Die verlossing van Jesus
6. Swaard - Die Woord van God.
NB: Die Bybel bo-oor alles, biddend. Om ten alle tye in kommunikasie
met die bevelstruktuur te wees.
Ons kan nie ten volle toegerus wees as al hierdie
elemente van ons wapenrusting nie in plek is nie.
Ps 18 : 30
"Met U hulp loop ek 'n oormag storm, met my
God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie"
|