As
ek jou sou vra wat die Woord van God is, sal jy sekerlik sê dis die
Bybel. Dis natuurlik reg.
As ek jou sou vra WIE die Woord is, sou jy sê dis
Jesus Christus, aldus Joh 1:1 “In die begin
was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self
God”
As ek jou sou vra HOE God met ons praat, sal jy sê
dis deur woorde.
As ek sou vra hoe God die heelal geskep het, weet ons
dis deur die gesproke woord. Gen 1:3 “Toe het God gesê, laat daar
lig wees...” En so begin die skeppingsproses.
Woorde is wonderlike goed. Dis die maklikste en
vinnigste manier van kommunikasie en die beste manier om mens uit te
druk. Met 26 letters in ons alfabet kan jy BAIE woorde maak, in elke
taal denkbaar. Met baie kombinasies kan jy woord op woord skep, maar
daar sal 'n eindige getal woorde wees. Maak jy egter sinne, kom jy
baie ver.
Met woorde kan jy vervloek of seën, opbou of afbreek,
ongelukkig kies ons gereeld die verkeerde gebruik van woorde. As ek
'n opinie van jou vra, sal jy dit in woorde uitdruk, en ek sal
daardie woorde baie lank kan onthou. As ek vir jou 'n opdrag gee,
doen ek dit deur woorde, en met woorde vermaan of prys ek jou.
Woorde is wonderlike goed!
Kom ons kom tot 'n punt. Hoor jy God se stem? Soek jy
Sy wil, Sy toekomsplanne vir jou, Sy gedagtes vir jou, ens? Baie
mens sal sê nee, ek hoor nie God se stem nie en dan gaan lê hulle 'n
besoek by die profeet af. Party van hulle is waarsêers, ander is
vals profete, sommige doen dit vir eie gewin. Maar daar is mense wat
werklik die gawe van profesie het en dit reg beoefen. Dit lyk dus of
ons as mense woorde wil hoor en dan liefs so duidelik as moontlik.
Veral oor die toekoms. Weet jy wat my mening is oor kennis oor die
toekoms? Jy hoef nie iets oor die toekoms te weet nie, want dan soek
jy 'n waarsêer. En dis 'n gruwel in God se oë.
Toe gaan lees ek in Ps 119, die langste Psalm in die
Bybel. Daar is 'n paar woorde wat egter oor en oor herhaal: Woord –
Wet – Bepalinge – Voorskrifte.
Ps 119:1- 16
Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens
die woord van die Here.
Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met
hulle hele hart sy wil doen, geen onreg pleeg nie en in sy weë
wandel.
U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word.
As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte
kan hou!
As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie.
U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof
met 'n opregte hart.
Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie.
Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!
Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van
u gebooie nie.
Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.
Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte.
Al u bepalings wil ek een vir een opnoem.
Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die
rykdom van die wêreld.
U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.
"Ek verlustig my in U voorskrifte...”
Ons weet nie wie die Psalm geskryf het nie want dit
sê nie in die Psalm nie. Daar is egter sommige mense wat glo dat
Esra dit geskryf het, maar ons weet nie verseker nie. Toe ek egter
op die internet daaroor gaan probeer lees, kom ek op hierdie
pragtige aanhaling van iemand af:
“The Psalmist who wrote Ps 119 had a love affair. His
love affair was with the Word of God”.
Wat 'n pragtige getuienis!
Hierdie skrywer noem ook op baie plekke deur die
Psalm dat hy hom hou aan die bepalings van God se Woord.
Die kruks van hierdie Psalm is dat die skrywer nooit
iets vir eie gewin vra nie. Of doen hy dit juis? Sal netnou daarna
kyk. Hy konsentreer egter baie sterk op die voorskrifte van God en
doen alles in sy vermoë om die Here te behaag.
V9 Hoe kan 'n jongmens sy pad suiwer hou? Deur hom
te hou aan U Woord.
V33 Here, leer my hoe om U voorskrifte uit te voer.
V35 Laat my wandel volgens U Woord.
V40 Ek wil U bevele nakom.
V54 U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde.
V56 Om U bevele uit te voer, is vir my die lewe.
V72 U wet is vir my kosbaarder as 'n oorvloed goud en silwer.
V97 Hoe lief het ek U wet. Dit bly my elke oomblik by.
V103 Hoe aangenaam is U Woord, soeter
as heuning in die mond.
Ps 119:109-112
My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet
verontagsaam ek nie.
Die goddeloses stel vir my 'n strik, maar van u bevele wyk ek nie af
nie.
U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my 'n vreugde.
Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die
einde toe.
Jy sien, die vraag is nou of die skrywer hierdie
dinge vir eie gewin vra. Sy liefdesverhouding met die Woord maak dat
Hy smag na gehoorsaamheid aan God en hy wil net die Here se wil doen.
Hierdie liefdesverhouding met die Woord maak natuurlik dat hy in 'n
liefdesverhouding met God staan. Hy wil niks anders doen as om God
te behaag nie. En hy wil niks by die Woord byvoeg of weglaat nie.
Die Bybel is 'n handleiding vir die lewe. Ek het al
baie keer probeer om iets aanmekaar te sit sonder die handleiding en
dit flop gewoonlik. Ek gryp egter die handleiding sodra dinge skeef
loop.
Nou vra ek jou, hoeveel keer trek jy die Bybel nader
as dinge skeef loop? Hoe gereeld gaan soek jy God se beloftes
wanneer dinge nie uitwerk nie? Dis dan wanneer mens so krampagtig
vashou aan 'n teksvers omdat dit 'n sweempie van hoop inhou. Vir so
'n bietjie persoonlike voordeel.
Die skrywer van Ps 119 doen iets heeltemal anders, hy
wil net God se voorskrifte uitvoer. Hy konsentreer op die wet,
voorskrifte en bepalinge. Dis DAARIN waar daar vir hom persoonlike
voordeel lê, want hy weet dat dit met hom sal goed gaan. En nee,
dit het niks met materiële voorspoed te doen nie. Hy sê nie:- “Here,
ek sal U voorskrifte nakom as ek bietjie geld daaruit maak nie”.
Of... “ek sal U wet nakom dan sorg U dat my gesin nie siek word nie”.
Hy fokus net op die wet van God. O skuus, ek hoor jy
wonder oor die wet? Dis mos Ou Testamenties. Kom ons toets dit:-
-
Wil jy graag 'n ander God dien?
-
Is
dit okay as jou kinders jou nie meer as ouer vereer nie?
-
Mag ander maar jou goed kom steel?
-
Is
dit okay as jou geliefde vermoor word?
-
Of
as ander jou vrou en jou goed begeer?
-
Mag ander maar heeldag vir jou lieg?
-
Is
dit sleg om die Here met jou hele hart, siel en verstand lief
te hê?
Natuurlik nie, maar dis in die wet van God! Dit kan
dus nooit sleg wees nie en daarom skryf die Psalm skrywer so
passievol oor God se Woord.
Wil jy God se stem hoor? Lees die Woord.
Wil jy Sy wil vir jou lewe verstaan? Lees die Woord.
Wil jy met Hom praat? Lees die Woord, en bid.
Ps 119:105 U Woord is die
lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
|