GOOI DIE NET AAN DIE ANDER KANT

Hard probeer, moeg probeer, geen sukses, moedeloos, opgee, oorgee, magteloos, suf, vuisvoos, op moedverloor se vlakte, glo nie meer nie, vertrou nie meer nie, hoop loos .... ek dink dit beskryf baie mense se situasie vandag. En as jy die eienaar van ‘n sukkelende besigheid is, of in ‘n swak huwelik is, of sommer net “fed-up” is, wil die Here vandag vir jou hoop gee uit Joh 21. 

Joh 21:1-6, 11
Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur: Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam. Simon Petrus sê toe vir hulle: "Ek gaan visvang." "Ons gaan ook saam met jou," sê hulle vir hom. Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra toe vir hulle: "Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?" "Nee," antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: "Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry." Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.  
Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.
 

Gooi die net aan die anderkant ... ‘n wonderlike gedeelte wat praat van wonderwerke, vertrou, glo, weer probeer, ten spyte daarvan dat dit dalk nie sin maak nie. In hierdie gedeelte verskyn Jesus weereens aan Sy dissipels na Sy kruisiging. Jesus sterf en staan op uit die dood. Hy is nie meer elke dag saam met Sy dissipels nie, en hulle gaan terug na hulle gewone lewe toe. Hulle begin weer visvang. Nadat hulle vir drie jaar daagliks saam met Hom beweeg het, gaan hulle lewe nou weer sy ou gang. Miskien het hulle nie op daardie stadium die volle omvang van alles wat gebeur het goed begryp nie. Al die hoe-ha van die afgelope tyd is verby en die lewe keer terug na normaal. Hulle vang weer vis ... hulle was immers vissermanne. Ek dink die probleem was dat hulle dalk gedink het die tyd van wonderwerke is verby... 

Hulle probeer visvang, maar niks gebeur nie – die nette bly leeg. Ek wonder of hulle ooit gebid het dat hulle iets sal vang? Toe kom Jesus, maar hulle herken Hom nie. Dalk het hulle in elk geval nie eers meer vertroue in Hom gehad nie, al het Hy reeds na Sy opstanding aan hulle verskyn. Dan gebeur hierdie wonderwerk. “Gooi die nette aan die ander kant uit” – en daar vang hulle 153 visse; so baie dat hulle nie eers die nette kan uittrek nie. Wonderwerk!  

Het jy al gevoel om op te gee? Wel, dalk sê die Here vandag vir jou ook: “Gooi die net aan die ander kant uit”. Kyk saam met my na die volgende punte: 

1)     Moenie ophou glo nie, want die Here kan enige slegte situasie – jou inkomste, huwelik, verhoudinge, gesondheid, persoonlike omstandighede – in ‘n oogwink verander. Die kuns in die hele ding is om vir jouself te sê: die Here kán enige iets omdraai. As die dissipels vanself die net aan die ander kant uitgegooi het, sou daar dalk niks verander het nie, maar vir Jesus is alles moontlik. Dalk sê Hy vandag vir jou en my: Gooi die net aan die ander kant uit. Gooi hom in geloof uit. Het jy genoeg geloof om dit te doen? Nog een keer..

2)     “Walk by faith – not by sight”. Die dissipels kon nie onder die water sien nie. Dis hoe visvang werk! Hulle moes die net ingooi sonder om te sien. Sò wil die Here hê ons moet wéér probeer, al sien ons niks nie. As jy alles in die lewe vooruit kon sien, het jy geen geloof nodig gehad nie. Om dus op te tree sonder om te “sien”, verg ware geloof. Hou op om agter die sigbare en tasbare aan te hardloop, en glo – vertrou die Here blindelings... sonder om te sien.

3)     Gooi die net aan die ander kant uit. Dalk beteken dit dat die oplossing nie ver weg is nie. Van die linkerkant na die regterkant van die skuit was dalk minder as 3 meter. Jesus het nie gesê hulle moet eers ‘n paar kilometer  ver roei voor hulle weer probeer nie. Hy het net gesê: gooi die nette aan die regterkant. Ons glo soms dat die oplossing vir ons probleme só ver is, dat dit nie die moeite werd is om te probeer nie. Maar dalk is jou oplossing net om die draai ... naby; die antwoord is dalk onder jou neus. Miskien is jou oplossing nie in iets ekstreem, en “land-uit” nie. Dalk moet jy net fyner rondom jou kyk, slimmer te werk gaan, weer probeer.

4)     Dalk beteken “aan die ander kant” vir jou dat jy dalk net weer ‘n keer moet probeer. Waar is jou net? In die water, of in die skuit? “Loosers” se nette is IN die skuit, waar dit niks kan regkry nie; geen vis gaan in ‘n  net inspring wat in die boot opgerol lê nie. ‘n Net hoort in die water. Wenners wie se nette leeg bly, hou steeds aan, probeer weer ‘n keer, hou steeds vas in geloof, bly steeds ‘n visserman. Beweeg steeds in geloof, nie volgens wat jy kan sien nie. Die Here sal besluit wanneer die net moet vol word, maar die net hoort in die water. Altyd. Probeer weer.  

Die vraag is nou: wat maak jy terwyl die net leeg bly? Was jou net in die verlede ook al ‘n paar keer leeg? Of nog erger: is jy dalk ontevrede as daar net ‘n paar klein vissies in jou net is? Glo jy dalk die Here voorsien net as daar 153 visse is, en nie as daar net so 3 of 4 vir die dag is nie? Dalk wil die Here hê jy moet vasbyt. Die net sál weer vol word, al het jy nou dalk net genoeg vir vandag.  

Hou jou net in die water ... hierdie kant, daardie kant, probeer weer en weer, nog ‘n keer, aanhou, uithou. Wenners se nette is in die water, en die oë is op Jesus. Walk by faith – not by sight. Moenie verbaas wees as daar skielik 153 visse in die net is nie!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)