GUN GENADE


Luk 15:20-32
En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. Toe sę die seun vir hom: 'Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.'

Maar sy pa roep sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier. "Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. Die bediende antwoord: 'U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.' "Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; maar hy antwoord: 'Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!' "Toe sę die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry." 

Die gelykenis van die ander seun. Vers 28:- “Toe het die oudste seun kwaad geword, en hy wou nie in die huis ingaan nie”.

Twee seuns, een goed, een sleg. Een hardwerkend, een 'n verkwister. Een naby sy pa, die ander een verlaat die pa en gaan mors alles uit. 

Die verlore seun maak lekker droog, vat sy erfporsie, verkwis dit alles, gaan woes te kere, eindig in die varkhok en kruip dan druipstert huis toe. En wat gebeur met hom? Niks, absoluut niks wat sleg is nie. Inteendeel!!! Hy “score” nuwe klere, 'n ring, 'n vetgemaakte kalf en 'n lekker “party”. Nou ja, jy dink nie dalk die oudste seun verdien 'n bietjie medelye nie? Hy mis uit op die węreldse plesiertjies, werk al die pad kliphard, uiters getrou, 'n regte staatmaker en altyd sy pa se regterhand. 

En dan, op een goeie dag, verskyn sy broer uit die bloute. Jy sien, hierdie gelykenis vat die leser op die pad na respek vir hierdie jongste belhamel, omdat hy al die regte dinge doen. Hy maak droog, maar kry berou en kom dan terug huistoe en word vergewe. Klink so reg, byna edel. Die held. Maar die ouer seun is die vark in die verhaal, want hy aanvaar nie die broer se berou nie en wil hom nie nog 'n kans gun nie. Nee, sies man. Dis hoe ons eintlik gebreinspoel word. 

Is ouboet regtig so onregverdig, en is hy regtig so verkeerd? Hoe voel jy daaroor? Die Bybel kry dit nogal reg dat ons dinge eintlik so bietjie onnatuurlik beoordeel. Dalk is dinge dalk anders as wat ons gedink het.... Ek dink nogal ouboet verdien so bietjie simpatie, of hoe? Want deur al die jare bring sy getrouheid hom eintlik niks in die sak nie. Of liewer, so dink hy. Miskien sou hy later die res van die erfporsie wat oorgebly het weer moet deel met kleinboet. 

Hierdie oudste seun tree 100% menslik op. Sou jy nie dalk (soos ek) dieselfde geredeneer het nie? Jy dien die Here voluit met jou hele lewe, en dan kom iemand anders wat dit hoegenaamd nie “verdien” nie, en glip by die agterdeur in. Kom net betyds tot bekering en deel dan in al die heerlikheid nadat jy jouself vir SO lank van al die lekkerte ontneem het. UNFAIR!

Die probleem met die oudste seun is dat hy die punt mis deur te dink dat hy uitgemis het op die lewe. Hy voel dat hy getrou en lojaal is deur sy hele lewe, terwyl sy broer al die verkeerde keuses maak en sy lewe miserabel in 'n varkhok eindig. 

God se liefde werk presies soos dit wat ons dink so onregverdig is, want dikwels maak dit net nie sin nie. Net so bietjie terug in Lukas 15 lees ons van die gelykenis van die verlore muntstuk. Hierdie vrou het nog nege van haar tien muntstukke, maar sy hou nie op soek voor die laaste een nie ook in die beurs is nie. En nog bietjie verder terug lees ons die gelykenis van die verlore skaap. Nege en negentig is veilig, maar die boer is fanaties oor die een wat weg is, en hy los alles om hom te gaan soek. Dit is hoe die Here se liefde werk. Elkeen moet in die paradys inkom, elke muntstuk tel, almal is belangrik vir Hom. Hy soek elke skaap in die kraal. 

So word die ander seun toe kwaad, soos ek en jy dalk ook sou doen, dit hang net af wat in ons harte aangaan. Kom ons toets onsself gou. Sę nou maar jy hoor Julius het skielik tot bekering gekom en hy gaan nou al sy sieninge verander. Hoe sou jy daaroor voel? Kom, wees eerlik. Sou jy werklik kon sę “Halleluja, nog iemand gered”? Of een of ander hoëprofiel-persoon het die wet oortree en word 'n lang vonnis opgelę. En sodra hy in die tronk kom, verklaar hy dat hy nou gered is, nadat hy die samelewing sleg skade aangedoen het. Ek dink jy sou (nes ek), baie agterdog gewees het oor hierdie skielike, gerieflike bekering. Mmm... dalk voel jy ook jy wil nie die hemel met SO iemand deel nie. Jy het dan so getrou die Here gedien, en jy verdien dit sekerlik meer as baie ander. Dan kom “meneer”, of “mevrou”, en hulle wurm hulleself sommer so chop-chop in die hemel in. Jip, maak mens vies.

Maar God werk anders, vir Hom is nege muntstukke 'n halfvol beursie, en 'n kraal waar een skaap kort, wys op probleme. Die Here gun ELKEEN 'n plekkie in Sy Koninkryk, ongeag van wat. Geen mens kan te sleg wees vir Jesus se genade nie. Niemand se sonde kan Jesus se kruisdood tot niet maak nie, of jy nou in die varkhok geland het of nie. Inteendeel, Sy liefde kom juis dan in sy hele volheid in werking. Miskien moet ek sę, hoe vuiler die varkhok, hoe groter die genade. Hoe minder die mens na God smag, hoe meer smag Hy na die mens. DIS genade! 

Hierdie oudste, ongelukkige seun, verstaan nie 'n Vaderhart nie. Toe hy vir sy pa sę dat hy nooit niks gekry het nie, herinner die Pa hom dat hy juis alles gehad het, omdat hy altyd by die Vader was. Hy het die hele tyd gedeel in sy Pa se genade en heerlikheid. Terwyl hy by sy Pa was, het sy Pa intens na sy verlore seun verlang, en wou Hy hom ook by Hom gehad het. 

Evangelisasie is nogal my passie, en dis regtig baie lekker as jy hoor van iemand wat gered is, veral as dit iemand is vir wie jy lank gebid het. Maar... net nie sus of so nie! Moet net nie by my kom met jou bekering-storie noudat jy uitgevang is en jou turf sit nie! Jy wou mos, wat jy saai sal jy maai. Jy verdien dit man, al lankal. 

Gelukkig werk die Here anders. Hy soek almal by Hom en niemand word uitgesluit nie, en niemand is te sleg nie. Nie jy nie, nie ek nie, niemand nie. Miskien het elkeen van ons maar ietsie van al twee hierdie broers in ons. Soms voel ons ons is te sleg, soms voel dit ons gun ander nie die ewige lewe nie. Die Here is egter die Vader wat smag na Sy verlore seun, en ons kan nie in die pad staan nie.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)