Hoe
lank al weet die mens iets van die anatomie? Ons weet dat mense hier
in die Middeleeue snaakse dinge oor hul eie liggame geglo het. Daar
was min kennis oor hoe die mens aanmekaar gesit is. Ons praat van so
800 jaar gelede. Later jare het die mens geglo dat jy moet bloei as
jy siek is, dan word jy gesond. Gepraat van bloedlating. Punt is, in
Jesus se tyd was daar waarskynlik nie veel geweet oor die liggaam
nie. Mense het baie gesonder geëet, maar ek glo hulle tande was
enige tandarts van vandag se nagmerrie. En oor dokters lees ons net
enkele dinge. Lukas was 'n dokter, en ons lees van die vrou wat aan
bloedvloeiing gely het, se stryd en dat sy al haar geld aan dokters
spandeer het.
Nou ja, dit so genoem, kan ons aanneem dat mense min
geweet het van hulle eie liggaam. Miskien is dit dalk vandag nog so,
mense glo jy kan die dodelikste siektes genees met beet!
Maar, tog lees ons van twee interne organe vreeslik
baie in die Bybel. Weet jy wat dit is? Die hart en verstand!
Van die verstand lees ons in so 85 tekste in die 1983
vertaling, en van die hart baie meer! 201 tekste met die woord
“hart” daarin! Van voor tot agter in die Bybel. Maar, baie baie min
van die tekste verwys na die funksie van die hart. 'n Teks of twee
praat van 'n spies wat 'n hart deurboor, maar al die res praat van
die hart as die plek waar jy God moet liefhê, en dien. Dus die Here
soek jou en my hart.
Hart, siel en verstand. Nogal interessant, dat die
Bybel in menigte tekste praat van die hart en siel. Nou….. terug na
my openings argument, as die mens dan nie veel geweet het van die
anatomie nie, hoe kom die skrywers van die Bybel dan by die hart
uit? Hoekom nie, met my nier en siel, of lewer en siel, nie? Ek
dink, dis oor daardie gevoel wat hier bo in jou borskas ontstaan.
Dink saam met my. Toe jy vir jou liefie ontmoet het, hoe het dit
gevoel hier bo in jou lyf? Onthou jy nog? Toe jou hart so kon
bokspring, vinnig klop, inmekaar trek. Wow, wat 'n ongelooflike
gevoel! Verliefdheid! Jy sien, dit is iets wat nie in jou verstand
gesetel is nie.
Nou lees ons sommer in Gen 34 : 3 hoe Sigem, seun van
Gamor, vir Dina, dogter van Jakob en Lea, lief gekry het. Daar
staan: Hy het die meisie lief gekry en haar hart probeer sien. Dit
is nadat hy haar verkrag het! Goed, jy weet nou waarvan ek praat as
ek sê goed gebeur in jou hart, en soms "override" dit die verstand!
Iets wat in jou wese gebeur, en posvat, ver bo wat jy kan beredeneer
en orkestreer. En dit is wat God van jou en my wil hê. Hy soek jou
en my hart!
Jes 29 : 9 - 16 Nou staan
julle verdwaas en verstom; julle sien niks, julle oë is toe; julle
is dronk maar nie van wyn nie, julle waggel sonder dat julle iets
gedrink het, 10 want die Here het julle in 'n diep slaap laat
wegsak: die profete moes julle oë wees en die sieners julle koppe,
maar julle oë is nou toe en daar is 'n doek oor julle koppe. 11 Elke
openbaring is nou vir julle soos die woorde in 'n verseëlde boek: jy
gee dit vir iemand wat kan lees en jy vra: Lees dit asseblief vir
my, en hy sê: Ek kan nie, die boek is verseël. 12 Of jy gee die boek
vir iemand wat nie kan lees nie en jy vra: Lees dit asseblief vir
my, en hy sê: Ek kan nie lees nie. 13 Die Here het gesê: Hierdie
volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar
hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê,
nie soos Ek wil nie. 14 Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen
met hierdie volk: die een ongehoorde ding na die ander, sodat die
wysheid van sy wyse manne sal verdwyn, die verstand van sy
verstandige mense tot niet sal gaan. 15 Ellende wag vir dié wat dink
hulle kan hulle planne diep wegsteek vir die Here, hulle wat besig
is om dinge in die donker te doen en dink: wie sien ons? Wie weet
van ons? 16 Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker
die klei is. Die maaksel kan mos nie van sy maker sê: Hy het my nie
gemaak nie; die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: Hy weet
nie wat hy doen nie.
Vers 13: Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My
met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver
van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.
Die Here soek jou en my hart.
Mark 12 : 28 - 34 Een van
die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe
hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom:
Wat is die heel grootste gebod? 29 Jesus antwoord hom: Die eerste
is: "Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30 Jy
moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel
en met jou hele verstand en met al jou krag." 31 Die tweede is: "Jy
moet jou naaste liefhê soos jouself." 32 Pragtig, Meneer! sê die
skrifgeleerde vir Hom. Dit is waar wat u gesê het: "Die Here is die
enigste God," 33 En "om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou
hele denke en met al jou krag" 34 Toe Jesus hom so verstandig hoor
praat, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.
Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.
Om God lief te hê met jou hele hart, jou hele siel en
hele verstand! Hoe is dit? Ek onthou nog toe ek vir vroulief ontmoet
het (daar by die see) daardie gevoel. En op ons troudag, wow, en
vandag nog! Vêr meer as wat die verstand kan beredeneer. Want jy
sien, met die verstand neem jy alledaagse, oppervlakkige besluite
sommer net so, maar as jy met die hart begin "besluit", is dit iets
wat diep binne-in jou vasgewortel is. Jy kan met die verstand maklik
vir iemand sê "Ek is lief vir jou", maar as dit uit die hart uit
kom, is dit 'n deel van jouself wat praat.
En dit is wat die Here by jou en my soek. Daardie
hartsgevoel, kan net uit een plek gebore word, en dis 'n diepgaande
verhouding. Want ek dink, God het ons met Sy hart lief!
Hand 13 : 22 (Saul uit sy amp onthef). "Nadat God hom
(Saul) van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle
aangestel. Van hom het God gesê: "Ek het in Dawid, seun van Isai, 'n
man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer. Uit hierdie
man se nageslag het God, volgens Sy belofte, Jesus as Verlosser vir
Israel laat voortkom."
En so het God vir jou en my lief.
Hier volg ’n klompie tekste wat oor die hart handel:
Spr 4 : 23 "Wees veral
versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele
lewe."
Matt 6 : 21 "Waar jou skat
is, daar sal jou hart ook wees".
Matt 5 : 8 "Geseënd is die
wat rein van hart is."
Luk 6 : 45 "Waar die hart
van vol is, loop die mond van oor!!" Loop my en jou mond oor van
God?
Hand 2 : 26 verwys na 'n Psalm waar Dawid praat van
die blydskap in sy hart.
Jer 17 : 9 "Die hart is
bedrieglik".
Pred 11 : 10 praat van die kommer in jou hart.
Job 41 : 15 praat van 'n hart wat so hard is soos
klip.
Ps 66 : 18 praat van die sonde wat in die hart is.
Klaagl 1 : 22 sê my hart is gebreek.
Mark 16 : 14 praat van die ongeloof en hardheid van
die hart.
Kol 3 : 22 Praat van ’n opregte hart.
Pred 9 : 3 "Die hart van die
mens is vol boosheid."
Kan jy sien hoekom die Here sê, ek wil jou hart van
klip uithaal en jou 'n hart van vleis gee? Hy wil 'n opehartoperasie
op ons doen om ons lewens te red.
Die Here soek my en jou hele hart, sodat niks van
hierdie slegte dinge meer oorbly nie.
En die toets of dit so is? Wat die hart van vol is,
loop die mond van oor!
|