| 
			
  3 
			Desember 1967 - het jy toe al geleef? Weet jy wat daardie dag gebeur 
			het? Wêreldgeskiedenis. 'n Massiewe deurbraak. Die heel eerste van 
			sy soort. Pionierswerk. Die bykans onmoontlike gebeur. En dit gebeur 
			hier in Suid-Afrika! Deur ons eie jong hartchirurg, Chris Barnard, 
			by Grootte Schuur Hospitaal. Die eerste hartoorplanting. Die pasiënt 
			het net 18 dae bly leef. Die tweede oorplanting vind twee maande 
			later plaas, op 2 Januarie 1968. Dié pasiënt lewe vir 563 dae. 
			Vandag is hartoorplantings alledaags, en suksesvol. Dit is die 
			geskiedenis van mediese hartoorplanting, maar geestelike 
			hartoorplanting kom al van baie lank terug … 
			Eseg 36:21-3521 Ek is begaan oor my heilige Naam wat 
			oneer aangedoen word deur Israel onder die nasies waar hulle gekom 
			het.
 22 Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter 
			wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my 
			heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar 
			julle gekom het.
 23 Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die 
			nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder 
			die nasies. Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle 
			doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here 
			is," sê die Here my God.
 24 "Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die 
			lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring.
 25 Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan 
			word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle 
			afgodery.
 26 Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die 
			kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.
 27 Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my 
			voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.
 28 Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, 
			julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.
 29 Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig 
			het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie 
			weer hongersnood oor julle bring nie.
 30 Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste 
			op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies 
			beleef dat julle hongersnood het nie.
 31 Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag 
			wat nie goed was nie, en julle sal 'n afsku hê van julleself oor 
			julle sonde en julle afskuwelike dade.
 32 Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter 
			wille van julle doen nie. Al wat julle pas, Israel, is skaamte en 
			skande oor julle optrede."
 33 So sê die Here my God: "Die dag as Ek julle van julle sonde 
			reinig, sal Ek sorg dat julle stede weer bewoon word en sal julle 
			puinhope herbou word.
 34 Die kaalgestroopte land sal bewerk word in plaas daarvan dat dit 
			kaal lê voor die oë van almal wat daar verbygaan.
 35 Hulle sal sê: 'Dié land was verlate en nou is hy soos die tuin 
			van Eden; die stede het in puin gelê, hulle was verlate en verwoes, 
			en nou is hulle vestingstede met inwoners.'
 
			'n Hartoorplanting vir 'n nasie. Die Here se wil vir 
			Sy volk is 'n nuwe lewens sentrum, een van vleis. In Esegiël spreek 
			die Here die hardheid van die hart aan. Vers 21 sê: "Ek is begaan 
			oor My heilige Naam wat oneer aangedoen word …" Sjoe, klink dit nie 
			bekend nie? 'n Land waar die slegte heerskappy voer oor die goeie. 
			Só is dit in baie lande. Iemand vertel anderdag dat hy in 'n ander 
			land gaan kuier het. Hy het sy "Loftus vir Jesus" baadjie gedra, en 
			toe vra iemand vir hom: "Who is Jesus?" Wie is Jesus, nie wat is 
			Loftus nie. En hierdie is 'n land waarheen baie van ons mense graag 
			wil gaan! 
			Hoekom praat die Here van 'n hartoorplanting? So lank 
			gelede al? (Esegiël het as profeet opgetree in 597 voor Christus) 
			Miskien is dit tyd om vandag so 'n bietjie te kyk na 
			ons eie harte. Dalk is dit tyd vir 'n hartondersoek, miskien 'n EKG. 
			'n Gesonde geestelike EKG kan dalk beteken: "Ek ken God", 'n slegte 
			EKG wys op 'n hart van klip. 
			Die hart is sekerlik dié belangrikste orgaan in die 
			liggaam. Mens kan eintlik sê jou hele wese is in jou hart gesetel. 
			Jy kan jou brein forseer om dinge te doen, jou brein kan 
			gemanipuleer word, maar nie die hart nie. Die hart is klip of vleis, 
			hard of sag, mooi of lelik. Soos 'n pit in 'n perske, is die hart 
			die pit van ons bestaan. Dis hoekom dit ook die plek is waar Satan 
			sy plek wil inneem, dis ook waar onheil uitbroei, dis waar alles wat 
			kwaad is gestalte kry. En as 'n hart eers hard is, word hy moeilik 
			sag. Job 41:15 "Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n 
			maalklip". Jou hele gevoel is gesetel in daardie holte in jou 
			borskas. Is jou hart dalk vandag hard? Kom ek vra jou: "is daar 
			iemand teen wie jy jou verhard het? 'n Familielid? Jou ouers? 'n 
			Vriend? 'n Kind? 'n Kollega? Klink die woord 'wrok' bekend? 
			Onvergewensgesindheid? Bitterheid?" … hierdie is dinge wat die hart 
			hard maak. 
			Hoe kan die Here vandag vir ons 'n hartoorplanting 
			doen? Wel, as jy vir 'n hartoorplanting gaan, is dit tog seker jou 
			keuse, dit geskied met jou toestemming. Niemand gaan jou oorrompel 
			en 'n nuwe hart in jou inplant nie. Voor 'n hartoorplanting is daar 
			dus eerstens 'n erkenning dat daar iets groot fout is met die hart, 
			en tweedens sal jy dan toestemming verleen dat die operasie 
			uitgevoer word. Ons moet dus self tot die punt kom waar ons kan 
			erken dat ons 'n nuwe hart benodig, en die Here dan toestemming gee 
			om die hartsvervanging te doen! 
			Wat is die simptome van 'n klip-hart?1) 'n Afgestomptheid oor sonde - dis moeilik om dit raak te sien, 
			want ons rasionaliseer so maklik en sê dis okay, almal maak maar so, 
			ek is maar net 'n mens, ens. Niemand van ons is volmaak nie, daarom 
			sal ons 'n lewenslange geveg teen sonde hê.
 2) Slegte verhoudinge met ander mense. Hoe sal jou man/vrou/kinders 
			vandag jou hart-toestand beskryf? 'n Klip-hart het geen liefde vir 
			ander mense nie. Sonder liefde kan daar geen verhouding wees nie, 
			sonder liefde is daar geen respek, deernis, empatie, "compassion" 
			nie. Liefde kan nie 'n klip penetreer nie.
 3) Geen liefde vir God. 1 Joh 4:7 "Geliefdes, ons moet mekaar 
			liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet is 'n kind 
			van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God 
			nie, want God is liefde".
 4) Onvergewensgesindheid, bitterheid, haat, naywer, jaloesie, 
			verdeeldheid, skeuring is 'n verdere klomp simptome. 'n Klip-hart 
			wys op 'n mens se gesig, weet jy? Dit maak 'n mens se oë hard.
 
			'n Nuwe hart beteken 'n nuwe mens. 'n Nuwe hart pomp 
			lewegewende suurstof deur 'n mens se liggaam, tot by jou brein. 'n 
			Nuwe hart maak die hele liggaam gesond. Nuwe denkpatrone, nuwe 
			handelinge, nuwe praat gewoontes, herstelde verhoudings, 
			diensbaarheid, gee hoop vir die toekoms, neem stress weg, gee nuwe 
			insigte. Dit maak 'n mens bruikbaar vir die Here. 
			'n Hartoperasie vat lank, maar kan eers klaarkry as 
			dit iewers begin het. Die Here kan 'n mens se hart in 'n oogwink 
			vervang met 'n sagte een van vleis, maar lewegewende bloed vat dalk 
			'n tydjie om al die organe te bereik. En ja, ou sekelstert wil graag 
			kom in-'chip' en jou kom wysmaak dat die operasie 'n mislukking was 
			… moenie na hom luister nie. 
			Na so 'n hartoperasie het mens hersteltyd nodig, jy 
			het oefening nodig om die hartspier sterker te maak. Net so na 'n 
			geestelike hartoorplanting moet daardie hartspier geoefen word sodat 
			dit elke dag sterker kan word. Stadig maar seker begin al die slegte 
			simptome verdwyn. Dis nodig om nuwe gewoontes te vestig, om met 
			ander oë te kyk… volkome vreugde en vrede sal volg. Ja, natuurlik 
			sal daar dinge op ons pad kom wat weer die bloeddruk sal opjaag en 
			die hart vinniger laat klop, maar die gesonde hart van vleis laat 
			ons dinge anders hanteer … met meer liefde, meer geduld, mooier 
			woorde, minder skree en vloek, minder verwyt, meer selfbeheersing. 
			Pas jou nuwe hart op! Dit is soos 'n paradys - Eseg 
			37:35: "Dié land was verlate en nou is hy 
			soos die tuin van Eden" |