Genesis
1 : 26 - 28 Toe het God gesê: Kom Ons maak
die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor
die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde
diere en al die diere wat op die aarde kruip. 27 God het die mens
geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens
geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
God skep die mens. Met 'n doel, om 'n spesifieke rede.
Die mens leef, vermeerder, en word baie. Die mens bewoon die aarde,
bewerk dit en heers daaroor. In die proses van lewe kom daar mense
by, en baie sterf. Statistiek wys dat die wêreldbevolking teen 'n
enorme tempo toeneem. Baie vinniger as wat die nodige bronne kan
bybly. Dus, ons is op pad na 'n groot probleem toe, omdat ons bronne
stadig maar seker besig is om af te neem. Energiebronne raak op,
voedselbronne sal al hoe skaarser word, water word al hoe groter
probleem, "global warming" - die temperature wat wêreldwyd styg,
weerpatrone wat verander, ens.
Sjoe, die prentjie klink nogal moedeloos. Verder is
een van die grootste uitdagings van alle tye vigs, wat absoluut
verwoesting saai. Dan wonder ek maar net of dit wat gebeur, regtig
God se bedoeling was. Dan het ons nog nie eers by misdaad uitgekom
nie! Wat was God se plan toe Hy gesê het "word baie, vermeerder,
wees vrugbaar, en bewoon en bewerk die aarde"? Ek weet nie. Klink
net of ons in die moeilikheid is.
Nou ja, mense word gebore, en mense sterf.
1,64 persone sterf per sekonde. Amper 100 per minuut. So byna 2500 voor
die volgende halfuur om is. As jy vanaand 10 uur gaan slaap, sal
ongeveer 95000 mense in die hiernamaals wees, óf in die hemel, óf in
die hel. In een van hierdie twee plekke ..... tik, tik, tik gaan die
sekondes en mense sterf sonder Jesus!
Matt 7 : 13 - 14 Gaan deur
die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die
pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14 Maar die
poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié
wat dit kry, is min.
Interessant - baie gaan probeer, maar min gaan dit
regkry. Dit impliseer dus, dat meer as 50% van die wêreldbevolking,
hel toe gaan. Dus, enigiets van 50 - 100% mense sal hel toe gaan. En
om dit bymekaar te vat, sal tussen 26 en 52 miljoen mense jaarliks
hel toe gaan. Party sal jy ken, party sal jou familie wees, of jou
vriende, of jou kollegas, of iemand baie naby aan jou. Satan se oes
is dus groter as God s’n. Skokkend! Kan jy glo teen watter tempo die
geweeklaag sal toeneem in die hel? Dink aan Lasarus en die ryk man,
waar die ryk man smeek vir net 'n druppeltjie water op sy tong.
Luk 16 : 22 - 25 Toe die arm
man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek
langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. 23 Toe hy
in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in
die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: 24 "Vader Abraham,
ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy
vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in
hierdie vuur." 25 Maar Abraham sê: "My kind, onthou dat jy in jou
leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan
dit hier goed met hom, maar jy word gepynig.
Party van hierdie menigte sal jou kennisse, vriende,
familie, kollegas of dalk jyself wees.
Antwoord bietjie hierdie vrae:
Vraag 1. Maak dit vir jou saak? Pla dit jou? Dink jy daaraan? 1,64
mense sterf elke sekonde. Waarskynlik gaan meer as een per sekonde
hel toe. Maak dit vir jou saak?
Vraag 2. 'n Baie moeiliker vraag - Maak dit vir jou
genoeg saak om iets daaraan te doen? Weet jy dat jy dié getal wat
hemel toe gaan kan vergroot? Deur net te vertel!
1,64 mense sterf per sekonde. En 2,3 word per sekonde
bygevoeg. Dit is geboortes minus sterftes. Die wêreldbevolking groei
(winste bo verliese) met 2,3 mense per sekonde. Dus, 200 000 mense
kom per dag by op planeet aarde. Hulle almal gaan sterf. Die meeste
gaan hel toe. Maak dit vir jou saak? Maak dit genoeg saak om iets
daaraan te doen?
Matt 28 : 19 - 20 Gaan dan
na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in
die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer
hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is
by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.
Vir wie is hierdie opdrag? Ek dink ek kan met
redelike sekerheid glo, dat as jy nou hierdie stuk lees, jy 'n kind
van God is. . Waarheen gaan jy na jou dood? Al vasgemaak met God?
Net jy sal weet.
Baie gaan dood. Dalk vandag een van die mense wat jy ken.
Weet jy of dié wat naby jou is, gered is of nie? Die bevolking
groei, die werk word meer, dus behoort die tempo waarteen ons
evangeliseer, toe te neem.
Dink weer aan die twee vrae van vroeër: Vraag 1: Maak dit vir jou
saak? Vraag 2: Maak dit vir jou genoeg saak om iets daaraan te doen?
Wat kan ons daaraan doen? Is daar iets wat ons kan
doen? VERSEKER.
1. Maak seker van jou eie geloofsekerheid, deur Jesus
aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker. 2. Vra vir mense of
hulle geloofsekerheid het. Simpel, eenvoudige vraag: "As jy vandag
sterf, weet jy of jy in die hemel gaan wees"? En as iemand nie weet
nie, is hy in die moeilikheid. Jy wil tog nie hê dat jou kennisse
teen hierdie tempo sal hel toe gaan nie, of hoe? 3. As iemand nie
weet nie, vertel vir hom dat Jesus die enigste weg tot saligheid is.
Dat as jy Hom aanneem, jy gered is. 1 Joh 5 : 12 "Wie die Seun het,
het die lewe, wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe
nie". Joh 6 : 47 "Dit verseker Ek julle, wie in My glo, hét die
ewige lewe". 4. En die duisende mense wat per dag bykom? Help om dit
moontlik te maak dat hulle ook die verlossings boodskap kan hoor.
Gee finansies. Neem deel aan gebedsaksies en ondersteuning van
sendelinge. Gee, gaan, doen.
2 Tim 4 : 2 "Verkondig die
Woord, hou daarmee vol, tydig en ontydig, weerlê, bestraf, bemoedig
deur met alle geduld onderrig te gee."
Jy sien, ons kan nie die tempo van die sterftes
wêreldwyd beïnvloed nie, maar ons kan 'n invloed hê op die tempo
waarteen mense hel toe gaan. Of aan die ander kant, die tempo
waarteen mense hemel toe gaan.
Lekker nè, ons getuig, en mense word gered. Gaan doen
dit!
|