HEMELVAART


Vandag is Hemelvaartdag. 'n Besondere dag in die geskiedenis van die Christendom. 'n Dag van hoop vir dié wat onwrikbaar glo. 'n Aanstoot vir die ongelowige. 'n Dag wat vra dat ons God op Sy Woord moet neem. Glo jy werklik dat die Hemelvaart plaasgevind het? Kan jy onvoorwaardelik aanvaar dat dit werklik gebeur het?

Luk 24:44-53
Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: 'Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,
en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.'
Julle is getuies van hierdie dinge.
En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."
Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën.
Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.
Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan.
Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Met 'n wonderwerk het Jesus Sy verskyning op aarde gemaak (deur die maagdelike geboorte), en met 'n wonderwerk het Hy die aarde verlaat. Ek dink dit is juis DIT wat vir die ongelowiges so moeilik maak om dit te glo. Dis nogal snaaks hoe die mens se kop werk, en wat mense bereid is om te glo, solank hulle net nie die knie voor Jesus hoef te buig nie. Mense sal glo dat die hele skepping met sy miljoene wonderwerke sommer toevallig ontstaan het; dat lewe wat só kompleks is, 'n ongeluk is. Daar is selfs mense wat sal glo dat hulle voorouers 'n aap was, solank hulle net nie hoef te glo dat dit God is wat hulle uniek geskep het nie.

In 1 Kor 2:14 gee die Bybel 'n verduideliking: "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie, vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word" . Dinge in die Geestelike realm is nie sigbaar nie, en moet dus met geloof beoordeel word. Dus, óf jy glo dit, óf jy glo dit nie. Nogal interessant dat die ongelowige sóveel tyd en energie spandeer om sy ongeloof te verklaar en verduidelik … iets wat hy in elk geval nie glo nie.

Wat beteken Jesus se hemelvaart vir JOU? Wat is die waarde daarvan in jou lewe?

Veertig dae na Sy opstanding… Met die sondvloed reën dit 40 dae, dan word Noag en sy gesin in 'n nuwe lewe "vrygelaat". Die Israeliete swerf 40 jaar in die woestyn rond, waarna hulle die land Kanaän in besit neem. 40 dae na Jesus se opstanding vaar hy op na Vader toe, om te gaan heers aan Sy regterhand. Dit is die finale slag vir Satan, en die hele verlossing siklus word met hierdie aksie voltooi. Vóór Hy aarde toe gekom het, was Hy in die hemel by God die Vader. Hy verlaat Sy hemelse tuiste ter wille van ons verlossing, en nou gaan Hy terug om aan die regterhand van die Vader te gaan sit, waar Hy nou namens ons intree. Laat dit jou nie ook belangrik en spesiaal voel nie? Voel jy nie ook dat jy persoonlik daarby gebaat het dat daar 'n hemelvaart was nie? As Jesus nie op 'n bo-natuurlike manier hierdie aarde verlaat het nie, sou ons waarskynlik in sy menslikheid bly vaskyk het. Goddank dit was nie so nie - dis juis Sy talle en talle wonderwerke wat ons bewys is dat Hy die Seun van God die Vader is, en ook sélf God. Joh 1:18 "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak"

Wat is die voordeel van die hemelvaart vir jou en my?
Joh 16:7 "Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur".
Ek het al gewonder, hoekom het Jesus nie gekom om te bly nie, net so, in Sy aardse liggaam? Dalk omdat Sy menslike gestalte beperk was tot die plek waar Hy op 'n gegewe tyd was. Toe die Heilige Gees uitgestort word, was die hele wêreld met Sy teenwoordigheid bedek. Weereens het ons nodig om in iets te glo wat ons nie fisies kan sien nie. Gelukkig kan ons dit ervaar, en kan ons die werk van die Heilige Gees waarneem - ons sien hoe mense se lewens dramaties verander, daarom kan ek glo in die waarheid daarvan.

Die dissipels moes dit ook geglo het, want hulle het só sterk by hulle punt gestaan, dat hulle waarskynlik almal vir hulle geloof gesterf het. Dit sê vir my nogal iets. Die hemelvaart hét gebeur, of ek dit glo of nie. Maar, ómdat ek dit glo, pleit Jesus op hierdie oomblik vir my by die Vader.

Die hemelvaart gee vir ons hoop:
Hand 1:9-11
Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: "Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het"

Wat 'n wonderlik belofte om in te glo - Hy kom terug, soos Hy weggegaan het, om vir my en jou te kom haal. Dit voel vir ons miskien aardig om te sê ons sal sommer alles net so los om in die hemel te kom, want ons hou tog maar vas aan wat ons hier het. Die punt is, omdat ons kan glo dat daar iets beter vir ons is aan die anderkant van hierdie lewe, maak dat ons nou alles kan verdra.

Hoe wonderlik om te weet dat ons eendag dalk mag toekyk hoe Jesus neerdaal aarde toe. Vir dié wat nie glo nie, sal dit 'n helse verskrikking wees. Vir dié wat glo, sal dit die stempel wees op alles wat jy ooit geglo het.

Wil jy nie ook vashou aan hierdie belofte nie?
Joh 14:2-3
In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het dat Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het, en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

My vriend, gee die Hemelvaart nie vir jou ook hoop nie? As dit nie gebeur het nie, sou die hele verlossings boodskap dalk daarmee heen wees. Glo dit, want dit IS so.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)