As
ek die woord Hooglied noem, wat is die eerste gedagte wat in jou kop
opkom? Wel, dit hang seker af wie dit vir wie sę, en in watter
omstandighede en konteks. Verskillende mense sal verskillend reageer
as hulle dit hoor.
-
Jong mannetjies sal waarskynlik begin giggel
-
Jong meisies sal dalk bloos
-
Jong getroude paartjies sal dalk hulle ogies vir mekaar begin
fladder
-
Mans wat 'n paar jaar getroud is sal dalk diep glimlag, die maag
intrek en die bors uitstoot – en daai maagspiere soos 'n
wafferse six-pack bymekaar trek. Dis nou as die six-pack nie
plek gemaak het vir 'n vaatjie nie.
-
En
hulle vrouens sal onmiddellik die nat jammerlappie in die wasbak
doop, dit blitsig op die voorkop plak en kla van 'n allemintige
migraine.
-
Sommige ouer dominees sal dalk dadelik vertel dat die boek slegs
beeldspraak is van God se liefde vir Sy kerk.
Hooglied is 'n pragtige boek. Een hele boek wat die
Here afgestaan het om op 'n pragtige manier die ware liefde tussen
man en vrou te beskryf. Agt hoofstukke waar respek, agting, trots,
verwondering, bewondering en liefde vir mekaar besing en uitgespreek
word. Met baie detail wys die Here vir die mens dat hulle mekaar nie
net emosioneel kan koester en geniet nie, maar ook fisies. In my
persoonlike verwysingsraamwerk, pas van hierdie elemente net binne
die huwelik, tussen man en vrou.
As jy so deur Hooglied lees, sal jy waarskynlik ook
herinneringe en emosies ervaar wat jy kon oproep van die tye waar
daar so flink hof gemaak is. Nou vra ek jou (as jy getroud is),
bestaan dit nog vir jou na 'n klompie jare van getroude lewe, of het
dit in die niet verdamp?
Hooglied 4:9-15 en 5:10 -16
Hy:- “Jy het my hart gesteel, my beminde
bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë, met een skakel
in die ketting om jou hals. Ek hou van jou liefkosings, my beminde
bruid, jou liefkosings is beter as wyn, jou parfuum ruik lekkerder
as al die lekkerruik-kruie. Jou lippe proe soos heuningstroop, my
bruid, jou tong soos heuning en dikmelk, en jou klere ruik soos die
Libanon. “My beminde bruid is 'n tuin wat toegemaak is, 'n tuin met
'n muur om, 'n fontein wat afgekamp is. Jou liggaam is 'n lushof,
granaatbome met keurige vrugte, hennastruike saam met nardus, nardus
en saffraan, kalmoes en kaneel saam met elke soort lekkerruik-kruie,
mirre en aalwyn saam met al die beste lekkerruik-kruie. Daar is 'n
fontein in my tuin, 'n put met borrelende water, strome van die
Libanon af.”
Sy: “Die man wat ek liefhet,
is blakend gesond en blosend van kleur; jy kan hom uitken tussen
tien duisend ander. Sy voorkop is soos suiwer goud, sy haarlokke
soos dadeltrosse, so swart soos 'n kraai. Sy oë is soos die duiwe
langs die spruite, duiwe wat lyk of hulle in melk gewas is waar
hulle langs die water sit. Sy wange is soos die kruiebeddings waar
lekkerruik-kruie groei. Sy lippe is soos lelies, hulle drup van
mirre. Sy hande is soos stawe goud, met edelstene ingelę. Sy lyf is
soos 'n blok ivoor, met saffiere ingelę. Sy bobene is soos
marmerpilare wat op goue voetstukke rus. Sy voorkoms is soos dié van
die Libanon, indrukwekkend soos die seders. Sy mond smaak soet,
alles aan hom is begeerlik. So lyk die man wat ek liefhet, so lyk my
lewensmaat, vroue van Jerusalem.”
Hoe klink dit vir jou? Verwondering, respek en liefde.
Party dele in Hooglied is nogal eksplisiet, maar dis eenhonderd
persent binne God se wil. Geskep vir die mens se vreugde en in die
mooiste woorde beskryf.
Weet jy, ek dink Adam het nogal na sy asem gesnak toe
die Here hom uit die narkose laat wakker word en hy sy oë op Eva lę.
En andersom. Onthou jy toe jy vir vroulief by die kerk se deur sien
instap het die dag toe julle getroud is? Hoe verruklik sy gelyk het?
Vroulief, onthou jy hoe goed manlief gelyk het? So asof hy pas van
sy wit perd afgewip het. O wee, moenie dat hy nou probeer afwip nie,
hy sal dalk afvoeter! Arme perd...
Is daai gevoel nog aanwesig in die huwelik? Is daar
nog enigsins romantiek, aanraking, liefkosing, intimiteit, respek,
verwondering en bewondering? Of het dit plek gemaak vir irritasie,
verwydering, afguns en jaloesie? Om nie eens van “name-calling” te
praat nie. Ek glo met my hele hart dat die Here hierdie pragtige
boek geskryf het sodat dit kan werk “till death do us part”. Ongeag
van ouderdom of die verandering van die uiterlike. Meneer/mevrou,
laat jou oë toe om saam met jou wederhelfte oud te word. Skoonheid
lę nie in perfektheid nie.
In 1 Kor 13 kry ons wonderlike riglyne oor hoe om die
liefde te laat hou. Hierdie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes,
word baie mooi beskryf. Hierdie klein goedjies wat stadig maar seker
die huwelik infiltreer en verwoesting saai.
1Kor 13:4-7
-
Die liefde is geduldig...
Die slim mense sę dat die dinge wat jou aanvanklik na mekaar toe
aangetrek het, is dit wat jou later grensloos irriteer. Hierdie
teks vra vir eindelose geduld met mekaar. Want ons verskil van
mekaar.
-
Die liefde is vriendelik...
Niks ge-dikbek lopery,
stilstuipe, buierigheid nie. En mekaar met woorde afkraak nie.
-
Dis nie afgunstig nie...
Praat hy dalk van jaloesie?
Daai sieklike, groen jaloesie wat enige gesonde verhouding kan
verwoes. Mense wat mekaar alewig wantrou en mekaar niks gun nie.
-
Handel nie onwelvoeglik nie...
Bly 'n gentleman. Dis nogal aaklig as een party in die huwelik
se gedrag maak dat die ander een in skaamte gedompel word. Veral
as die voggies begin vloei... Hulle sę mos, na een drankie word
jy 'n ander ou, en daai ou kan nogal 'n vark wees.
-
Hou nie boek van die kwaad nie...
Los tog om hemelsnaam die ou koeie in die sloot! Ai, so 'n
ontbinde koei wat so dikwels opgediep word, is darem maar 'n
goor gedierte. Dit dien regtig geen doel nie.
-
Verbly hom nie oor die onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid.
Spreek nogal vanself, maar kom ons bring vergifnis hier in.
Hierdie ding van “ek sal jou vergewe, maar ek sal dit nooit
vergeet nie”, werk regtig nie. Dis eintlik maar 'n klug, sodat
die ou koei maar weer gereeld herrys.
Hooglied 2:2 “Soos 'n
lelie tussen die dorings, so is my liefling tussen die meisies”.
Sien jy dat hy in die derde persoon praat? Hierdie ou
spog met sy geliefde. Is dit nie mooi nie? Weet jy waar
Skinnerstraat is? Nee, nie die dubbelpad wat deur die middestad loop
nie, dis die hoekie waar almal eenkeer per uur gaan vars lug vir die
longe soek. Daar word lekker stories uitgeruil, en soms kliphard oor
manlief / vroulief geskinder. Maar nie Salomo nie, hy verklaar
openlik dat sy bruid sy hart se punt is.
Vers 16: “Die man wat
ek liefhet, is myne en ek is syne”
Juffrou staan nie en flikflooi met Adoons by die werk
nie, sy verklaar openlik dat sy klaar “ge-dęps” is. “Hands-off”
menere, ek is klaar gevat. En o ja, moenie praatjies met my maak wat
jy nie voor jou vrou sou maak nie.
Hooglied 4:1 “Jy is mooi my
liefling, jy is mooi, jou oe is duiwe agter jou sluier”.
Hoor hoe mooi komplimenteer hy haar. Hy sę sy is ten
volle aanvaarbaar vir hom, net soos sy is, ongeag van die uiterlike.
Jy weet mos, 'n man is soos 'n spieël waarin die vrou haarself sien.
Dit wat hy reflekteer, is wat sy oor haarself glo. Manlief maak 'n
aaklige opmerking, en vroulief glo dit vir die res van haar lewe.
Maar dan kom Adoonsie by die werk en vertel vir haar die teendeel,
en onmiddellik is daar “trouble in paradise”. Nee, as manlief haar
gereeld komplimenteer, dink sy by haarself:- “Ek sien so paar
“flaws” in die spieël, maar vir hom maak dit nie saak nie”.
Hooglied 4:10 “Ek hou
van jou liefkosings, my beminde bruid...”
Liefkosing, baie baie belangrik. Dit staan nou nie
hier geskryf nie, maar waarskynlik het meneer homself lekker vars
ingeseep, sy harde baard afgekrap en homself aanvaarbaar gemaak. 'n
Man wat sy vrou so mooi komplimenteer en haar goed behandel, hoef
minder hoofpynpille te koop. Weet jy waarheen lei hierdie goeie
gedrag dikwels? Heaven at eleven, starts at seven. 'n
Lekker aangename aanloop...
Hooglied
is mooi, dit vra vir mooi en dit beskryf mooi. Dit praat van innige
liefde.
|