IN DIE BINNEKRING – 3 Maart 2010 


Jy het ‘n binnekring, ek het ‘n binnekring, elke mens het ‘n binnekring. Dis lekker, dis goed en dis nodig. Behalwe jou binnekring, het jy nog so paar kringe wat al hoe verder en verder om jou uitkring, amper soos wat jaarringe van ‘n boom al hoe verder van die kern af uitkring. Kom ons noem hierdie kringe grense. Grense waar verskillende mense in jou leefwêreld toegelaat word. Party ver, so vier kringe van die middel af – hulle is kennisse. Ander mense is bietjie nader, binne die derde grens – hulle kan jou vriende genoem word. Nog ‘n kleiner groepie word binne die tweede grens toegelaat – hulle is jou mentors en vertrouelinge. En dan is daar die binnekring – dis die plek waar baie persoonlike ruimte gedeel word; jou familie, kinders, man of vrou en enkele intieme vriende. Wie hoort in jou binnekring? Hoe beland hulle daar? Verdien hulle daardie plek – só naby aan jou? Ek sou sê ja, maar net as hulle deur jou uitgenooi is in jou binnekring in. Mense in jou binnekring is mense wat baie naby aan jou menswees mag inkom; dis nie sommer enige een nie. Ongenooides hoort buite hierdie grens. So word jy ook naby aan mense toegelaat, AS jy genooi word. Jesus het ook sulke naby mense gehad:

Mark 3:13-19
Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus - vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê "manne van die donder" -  Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.
    

Hy het dié wat Hy wou hê nader geroep. Dit was Sy binnekring-mense. Sy intieme paar vriende. Jesus was intens lief vir almal, maar Hy het ‘n paar toegelaat baie naby aan Hom. En, ek dink Hy het nie skuldig gevoel om die ander ‘n bietjie verder weg te hou nie. Ons almal het ‘n binnekring – daar kom egter ‘n probleem as mense té naby kom wat nie daar hoort nie. 

Die mense in die buitenste grens is kennisse, mense wie jy al ontmoet het, en met wie jy soms praat, maar daar is nie veel van ‘n verhouding met hulle nie. Dan is daar die vriende wat in die kring ‘n bietjie nader aan jou is – jy sien hulle soms, kuier af en toe, bel hulle nie so gereeld nie. Dan volg die vertrouelinge – hulle is mense wat vir jou onmisbaar is; jy het ‘n goeie verhouding met hulle en sien en praat gereeld met hulle. Dan is daar die baie intieme, baie naby binnekring, waar daar probleme kan ontstaan as die verkeerde mense hulleself ongenooid daar inwurm. Jy sien, die opdrag van “dra mekaar se laste”, is miskien nie vir almal in jou leefwêreld bedoel nie; miskien is dit net gemik op dié mense wat in daardie binneste twee kringe om jou is. Dis moeilik om laste te dra van mense wat nie werklik binne daardie beperkte, intieme ruimte pas nie. Ek dink ook ek wil graag kies wie se laste ek wil help dra… as dit net vir jou binnekring is, sal dit vir jouself draaglik wees, want ‘n té groot groep mense met wie jy intiem moet omgaan en hulle help laste dra, gaan jou doodmaak. Jy sien, jy moet te alle tye ook jouself beskerm, en jou eie lewe en kring vertroetel.  

Dink na oor die vrae: wie hoort in jou binnekring? In wie se binnekring hoort jy? Verwag jy dalk te veel van ander? Verwag ander dalk te veel van jou – eis hulle onredelik te veel van jou tyd en van JOU op? Iemand skakel my ‘n paar maande gelede en vra ek moet ‘n persoon bel met wie dit op daardie stadium sleg gaan. Ek ken die persoon glad nie. Ek het toe die nommer geneem, maar die persoon nooit gebel nie. Twee weke gelede kry ek toe weer ‘n oproep. Ek word kwalik geneem omdat ek die persoon nie geskakel het nie, want die persoon het intussen sy eie lewe geneem. Dit was nie iemand wat in my binnekring was nie, hy was nie eens in my kennisse-kring nie…. Verwag ons nie te veel van mekaar nie? Vir wie almal is ons nou eintlik verantwoordelik? Sukkel jy dalk ook met sulke situasies wat nie regtig in jou leefwêreld hoort nie, maar daarin geforseer word? Of is jy dalk dié een wat te veel van ander verwag en jou laste wil afpak op ander wat nie nog ekstra laste verdien of kan hanteer nie? Ek dink nogal as Jesus self net 12 in sy binnekring toegelaat het, moet ons dalk ophou skuldig voel as ons soms die deur na ons binnekring bietjie toemaak. As jy ‘n mens is wat moeilik “nee” sê, gaan jy hiermee sukkel. Ek is so een.

 Dr Bennie Mostert het eendag in ‘n preek gevra dat mense hom nie moet belas met hulle persoonlike gebedsversoeke nie (alhoewel hy die gebed-dominee was!). Hy het gesê hy bid net vir goed waarvoor die Here self ‘n gebedslas op hom sit, en nie mense nie…. Anders gaan hy die hele dag net bid. Hy het ook ‘n ander waar ding gesê: jou eerste lyn van gebed is jyself, en daar is niks meer krag in my gebed as in jou gebed nie. So, moenie vir ander vra om vir jou te bid, as jy nog nie self ook gebid het nie.

Ek wil vandag so bietjie van ‘n pleidooi lewer, namens ons mense wat op Rippel die geestelike programme doen. Onthou ons is almal in ons eie onderneminkies besig, in ons eie leefwêreld, met ons eie tyds krisisse, ons eie bekommernisse en laste, en ons eie binnekring vir wie ons verantwoordelik is. Moet ons asb. nie kwalik neem as ons nie onmiddellik ‘n e-pos antwoord nie, of jou nie terugbel nie. Ek het al oproepe gekry van luisteraars wat bel en sê: “bel my gou terug, ek het nie airtime nie”… eish! En dan dink ek – ek ook nie, vriend. Vergewe ons as ons nie die antwoorde het vir jou probleme nie, ons is nie opgelei daarvoor nie. Inteendeel, ek voel soms só hulpeloos, só sonder die regte woorde. Dit is bitter gevaarlik om raad te gee, want jy sit jouself as persoon op die spel, sowel as vir Rippel. Aanvaar ons asb. as mense wat sukkel met die gewone pyne van die lewe. ‘n Luisteraar het eenkeer ‘n vreeslike lelike brief vir een van die oggend aanbieders geskryf omdat hy ‘n woord aanhoudend herhaal het; dit het die ou só geïrriteer dat hy toe die brief skryf en sê hy sit nou dadelik dit radio af. Nou vra ek jou: is dit nou aanmoediging vir ‘n aanbieder van ‘n geestelike program? Mense val ons aan omdat strukture by Rippel verander het, veral die Sondagaand program. Is dit regverdig? Laastens wil ek vra: sal jy vir ons bid? Ons het dit verskriklik nodig. Ons moet elke week met ‘n vars boodskap kom, ons moet probeer om ons eie laste te dra, ons moet ons gesinne versorg … ons het gebed nodig om staande te bly. Ons kry ongelooflik baie positiewe terugvoer, en dit tel jou sky-high op – dankie daarvoor! En as ons dalk ons binnekring so bietjie toehou, en jou nie daar wil laat inkom nie, is dit nie omdat ons nie innig lief is vir die mense van Rippelland nie! Ons is, dis hoekom ons hier is.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)